Sonder om na 'n filosofiese blaadjie om te blaai, wonder ek hoekom 'n mens so natuurlike geneigdheid het om oor dinge te stres. Allerhande stres-navorsing het al vele kere genoem dat die meeste van die goed waaroor jy stres gebeur nie, of eerder die vrese wat die stres veroorsaak is in 'n goeie persentasie van die gevalle (in die 90%) ongegrond.
Neem nou maar die stres wat al die voorbereidings vir 'n vakansie op jou bring. Veral dat jy nie betyds alles gepak gaan kry nie, of dat jy nie alles wat regtig nodig is gaan onthou nie, of dat al die dinge vir jou bestemming uitgesorteer is, of jou rammelkasworry of jou motor dit gaan maak en ook of almal dit darem sal geniet. Wanneer jy uiteindelik by die bestemming is, met 'n versnappering in die hand na al die uitpak en uitsorteer, almal op hulle plekke en gelukkig, dan en net dan pak daar iewers 'n onheilswolkie oor die saligheid wat jy beleef as jy die kinders sien speel en jy wonder: "ek hoop nie die kinders kry seer of tel 'n bloederige wond op nie!". Of na 'n ruk besef jy dat jy seker al die vuur moes aangesteek het om vroeg te braai, want almal is moeg. En so word jou salige vakansie die somkomplot van allerhande onbenullige klein stressortjies.
Eintlik is ek 'n rustige ou, so glo ek meeste van die tyd. Maar dit is daardie ongenoemde, onbeskryfde, onsigbare klein chiwowa-keffer aksies van die lewe om my, wat hier binne my introvertiese bestaan opbou tot 'n groot boerboelagtige ongemaklike stresvlak. Omdat ek nie hou van stres nie (ok, wie hou daarvan, maar vir my veroorsaak dit blindheid en doofheid), wil ek soms glo ek dat daar 'n streskomplot ingeskryf is in die lewensplan. Die blote feit dat ek dit so praat, laat my besef hoe ver ek al heen is. Dit klink na 'n ge-eggo van die jare 80 van die vorige eeu met die rooigevaar en totale aanslagte. Ek hou nie hiervan nie.
Ek weet eintlik baie goed dat ek die hoofteler is van hierdie knaende gevoel. Ek wou nog altyd Boerboele geteel het (het al jare gelede dit ook gedoen), maar hierdie keffer-bestaan is nie my idee van teel nie. Daarom weet ek ook dat ek en ek alleen hiervoor moet instaan, want die lewe gaan aan en wag nie vir die son om te sak of op te kom en dalkies tussen lig en donker 'n oomblik te verwyl vir almal om net 'n slag by te kom nie.