Iemand in ons binnekring vra my om 'n getuigskrif te skryf vir hom. Dis eintlik 'n maklike ding om te doen. Toe ek dit uiteindelik doen, moet ek myself weer vra of dit 'n copy-en-paste-situasie is waar ek die tipiese standaard getuigskrif woorde gebruik wat mens normaalweg in enige getuigskrif sien. Ek wil dit nooit so skryf nie, want daar is in elke mens hierdie unieke kern ding of dinge wat hulle anders maak as ander mense en wat in iets soos 'n getuigskrif op 'n amptelike manier uitgelig moet en behoort te word.
'n Ander vriend laat val so in 'n gesels-tyd dat hy darem iets sinvols sal wil nalaat indien hy die tydelike met die ewige gaan verwissel. Bedoelende dat hy (nie geld en bates nie) 'n storie sal nalaat wat mense maklik kan opvang en dat dit darem 'n sinvolle, boeiende en waaragtige storie sal wees.
Vir ons kind-van-God-mense is daar altyd (seker) hierdie copy-en-paste dinge wat uniek aan ons as God's kinders behoort te wees en wat ons laat "uitstaan" in enige geselskap. Tog is ons ook unieke-mens-mense wat goed (Gees)begaafd (al vat ons soms lank om dit te sien en glo) laat asemhaal en spore trap tussen enige ander skepsel op die skepping. Dit sou sekerlik iemand vat wat braaf en geduldig genoeg is om eendag 'n outobiografie van ons te skryf wat iets getuigagtig van kan skilder. Maar dit is asof ek deesdae meer en meer besef dat ons lewe hier en nou 'n soort inkskrif nalaat op almal en alles met wie ons saamstap. As ek in rekenaar-tik terme verder hieroor dink, is die fonts waarin ons tik, die unieke aard daarvan. My poging tot 'n punt is dit: ons spore hier en nou is die lewende en dinamiese getuig-spasie en dit roep ons om goed en voluit te leef. Die binne en buite kringe van ons saamstap-mense dra die inkmerke wat ons doelbewus en onbewustelik op hulle skryf.
As ek hiervan moet sin maak, besef ek (as ek nogmaals dink) dat ons uiteindelik net onsself kan wees en dat dit intens ingeweef is met 'n inoefen van die goeie wat God ons gee en die slegte wat ons gereeld beleef. Uiteindelik leef ons omdat ons leef, maar ons kan voluit of briek-briek leef.
Ek kom nou ander dag op hierdie aanhaling van Maya Angelou af en dink (toe weer) oor hierdie singery en die lewe en oor getuigskrifte.....
"A bird doesn't sing because it has an answer. It sings because it has a song."
'n Ander naby gemeentelid praat nou anner dag in sy kanker-realiteit so: "Die lewe is 'n lied, dis net ons wat verskillende wysies daaraan gee!"
Hierdie dinge sing 'n soort lied hier in my kop, ek het min geluister na ander dinge om my soos die Jan Frederik in Bonsai-tuin, die honde se wisselende blaf-rapliedjies, die hadidas wat hulle beste knalle gee. Ek weet ek moet nog luister en self bewustelik skryf aan my eie getuigskrif.....
No comments:
Post a Comment