Nou ander dag stap ek vir die eerste keer in 11 jaar weer van die dorp terug huis toe (ons een motor was by die paneelkloppers om reggeklop te word en 11 jaar gelede toe ons net een motor gehad het, het ek dit vir 'n ander rede as hierdie week my motor by my geliefde vrou gelos). Dis so min of meer 6 km. Vir 'n staproete is dit 'n kort dag (LW kort dag), vir oefening is dit net-net iets wat jou oorgewig onfikse lyf (ek praat nie hier van myself nie) laat begin protesteer met groot damme ongemaklike sweet, maar eintlik niks ernstig nie. Maar as jy eintlik onbepland met 'n jean, warm top en skoene deurgeloop is en 2kg/skoen ('n brand van een of ander bekende diere naam), dan besef jy met Millies in sig en jou sagte voetsooltjies wat nogal brand, een van twee dinge. Of jy is lekker dof in die area waar jy veronderstel is om helder gedagtes te openbaar, of jy moet die stapding meer gereeld doen met beter skoene. Vir my was dit eintlik iets van beide. Dit was 'n dowwe besluit, maar dit was ook lekker en interessant.
Met die eerste keer dat ek oor Langenhovenstr hol, by so brug, staan daar 'n man rustig aan die anderkant. Toe ek begin oorbeweeg, begin hy ook loop in die rigting waarheen ek oppad is. My eerste reaksie was om my geliefde selfoon met 'n "Selfoon-klem" vas te hou in my linkerhand en my regterhand ongemerk te bal in 'n kanonkoeel-houding waarop Rocky sou jaloers wees. Gereed vir enige aksie. Ek stap egter onder die "vabond" uit (ek is mos haastig oppad huistoe). Vir myself was dit 'n interessante maar ontstellende gewaarwording oor myself. Ek (wat self die slagoffer van 2 motordiefstalle, 4 fietsdiefstalle en verskeie inbrake is) ly aan 'n goeie dosis androfobie. Eintlik is dit nie 'n vrees vir die ander nie, maar eerder 'n wantroue in ander (onbekende) wat wortels gee aan die vrees vir dit wat "moontlik" kan gebeur. Gelukkig onthou ek wel waar so paar spiere vasklou aan my mondering (die wat oorleef het na 41 jaar) en bied dit darem so 'n flouerige fisiese vrede.
Ek kom later agter dat ek oogkontak met alle motoriste vermy. Ons behoort nie op daardie oomblik aan dieselfde groep nie. Ek besef ook dat ek 'n binnestryd beleef tussen die gewoonte om darem bekendes te groet en 'n selfbewustheid wat my ongemaklik maak. Iewers in die stof wat hierdie stryd opskop is daar 'n vrees vir ek weet nie wat nie. Dis amper soos om op 'n Vrydagmiddag tussen die rye in Pick 'n Pay of Spar met 'n winkeltrollie te loop. Behalwe dat ek so effe skaam outjie is, het ek darem maniere ook. Ek is immers goed groot gemaak. So loop ek maar aan...
Wat baie lekker was, was om op sekere plekke te kon sien waar daar nog nie 'n stootskraper of baksteen naby genoeg gekom het nie, stoei 'n hele paar inheemse bome en struike dit deur die ruigtes. Dit was of hulle my met 'n glimlag groet en aanmoedig (en selfs tuis laat voel het). Dit was ook aangenaam om met elke groet die mede dapper stapper voetsool mense se glimlagplooie te sien oopgaan.
Met 'n stapspoed van een brandende voetsool per sekond raak dit later 'n bedompige storie. Nie 'n asemnood van my onfiksheid nie, maar van brandstofdampe wat alle asemhalendes langs die strate oorval. Ek besef weereens dat ek nie in dieselfde groep as die motoriste is nie. So spoed ek aan tot by die huis (gelukkig nie met 'n gestrompel nie) en trek dankbaar beter sagter skoene (minder bekende naam) aan en weet ek gaan so paar uur later weer 'n verbyjagende motoris wees. Salig dof onbewus van 'n dapper stapper lewe.....
No comments:
Post a Comment