Ek het weer myself die afgelope tyd begin commit om na elke dag terug te kyk, te luister en te dink oor die dinge, klanke en prentjies wat ek gesien, gehoor en bewus geword van. Soms gaan die dae roekeloos haastig verby en weet ek ek is nie ingegrawe in my sielsbestaan nie. Behalwe vir die Bybelwoorde van God, weet ek maak Hy op vreemde maniere die drumming van sy Hartklop oral om ons hoorbaar. As ek hard genoeg fokus (dis nou nie soos 'n 3D prentjie waar jy jou oe moet skeeltrek en skeefkop deur die agterkante van jou wimpers loer nie) dan hoor en sien ek soms op maniere wat my siel laat rus. Ernst van Heerden dig erens in 'n wroeggedig: "...ononderbroke neurie Sy sang in my ore soos 'n sonbesie in die doringboom...."
Die (hoofsaaklik) akkerboom blare het weereens dik geval. Die bergwind van vroeer die week het hard probeer om in elke hoek, kom, gat of ingehokte spasie hierdie blare in te warrel. Met eeue se oefening agter die rug is hierdie ruk-en-pluk-warrel pogings ontstellend suksesvol. 'n Groot swerm van hierdie blare hou massavergadering reg voor ons voordeur en toi-toi glibberig verby sodra enige mens die deur kom oopmaak. Daar is 'n paar ander bome wat net uitgedroog pronk terwyl die ou grote kollos in die voortuin na nog 'n genade-jaar weer kon winterblare afgooi. Nog 'n jaarring is besig om in te kring by die Akkerboom. Ek dink ek hoor die danklied ritsel in die rugskuur van al die warrelblare.
Vanoggend hoor ek weer die hadida's se uitskel uit die hoogtes en die tarentale wat hul beste rasper-tjirpe sing. Die glasogies se fyngeklankte liedjie is skaars hoorbaar soos die son opkom. Oral is daar ander voels (wat ek nie ken nie, nog nie ontmoet of met die oog gesien nie, maar wel gehoor van hulle) wat inval by hierdie Sabbatspoging om die lewe voluit op te roep. Vandag is daar mense wat huil oor 'n seun of man wat dood is, daar is mense wat met vonkelogies hulle fees-hande klap, daar is winde wat waai en gaan le. Die dag is vol.
Ek dink ek moet nog verder luister en kyk....
No comments:
Post a Comment