Na my langverlof na net 'n week se inval by die werk, het die laaang vakansie begin. Soos gewoonlik in die wintertyd verwag mens alles gaan so ietwat hiberneer. Wel, dit het maar het ook nie. Hoe praat ons nou weer oor 'n tekkie en die teer se intense ontmoetings. Behalwe dat die 5 weke vir my 'n goeie kussing was om weer terug te kom in die gewoonte om te werk (want die nag kom nader), het die winterslaap soos 'n goeie bui reen in 'n droogtetyd iewers agter die berge verby geskuur. Selfs my geliefde het 'n paar goeie sinvolle familie-idees gehad oor hoe om my (ons) "vrye" tyd te spandeer. Sy het gister so tussen die varktjop-reuke deur, laat val dat min tot geen daarvan uiteindelik gebeur het. Ek kla nie, glad nie. Ek het tog so skelm-skelm gehoop dat die reuk van die tyers wat die afgelope 6 weke hier diep in die openinge van my aristokratiese goedbedeelde (my siening) neusholtes hang, eers hierdie week so skerp sou wees. En in hierdie week en kwartaal gaan ek 'n wyse oom van die Bybel se raad moet verder vat en ook die miere se business en werksetiek ernstig beloer. Ek sien egter min van hulle, moet ek noem. Ek vermoed die koue fronte van die 2010-winter, die sokker en lang skole vakansie met al die kinders by die huise, het hulle gevang. Dalk moet ek in hul afwesigheid of die video van Ants gaan kyk of die google-youtube-roete volg. Gelukkig was ek nog nooit bang vir skerp reuke nie en is ek regtig bereid om die gesprek tussen twee goedgespierde werkesel miere af te luister.
Intussen het ek in my gedinkery ook besef dat die aroma hier in my asemhaalopeninge nie noodwendig net as gevolg van die realiteite van my werk is nie, maar daar is iets anders. Ons praat baie oor houdings. Ek het agtergekom my liggaamshouding is so paar grade duskant 90 grade, na die rugkant toe, en my hakke is af en my tone bloulug se kant toe gekrul. In die spanning in my rug begin ek ook verstaan dat hierdie 'n briek-houding is (niks met die briekdans te doen nie, of dalk het dit) en die warm rubberreuk kom van my voetsooldrag. Ek weet daar is 'n kwartaal wat nagnader gekruip het, maar daar is meer aan hierdie gebriekery. Dis seker deel van die ontdek, leer en groei kurwe in my lewe om hierdie storie uit te pluis.
As 'n ongereelde bergfietsryer weet ek daar is min dinge so lekker soos om met 'n downhill die brieke te los en 'n vryheid te ervaar wat jou na liedjies laat soek (ek los gewoonlik die brieke baie berekend en net so nou en dan trek ek te laat daaraan met slegte gevolge).
Ek dink ek moet hierdie reuke en die oorsake daarvan vinnig begin ondersoek, want ek weet ook van te veel gebriek kan jy baie hard vooroor val.
OOOH helsim, ek't altyd gedink jy't jou groot neusgate gekry daaai keer toe die windpombriek jou ligte uitgeslaat het? Jy het so erg gebloei en ons was bang jou breins loop uit - toe het ons jou kop met twee bobjaan-spanners vasgeklamp en twee eerigtingnippels in jou neusgate geprop. En daai ruber-brand-reuk in jou neusholtes? Onthou jy daai keer toe ons die kallers se horings gesny het.... ek sal jou maar wee annerdag moet vertel, my kop draai skielik wee van skoonteerwalms.... jy weet mos...
ReplyDeleteDaai slag het wel 'n brein-invloed gehad. Dis die dat ek vergeet het daarvan. Ek dink die nippel was verkeerde kanttoe ingesig, want Ma het altyd gekla ek snuif en my neus het altyd toe gevoel.
ReplyDelete