Ons stop by die Poskantoor op Hofmeyr. Toe was die Posbedryf nog in volle swang en tannie Poppie en kie het die Sentrale beman, een muur weg van die poshokkies. Dis my beurt om pos uit te haal hierdie Vrydag. Ek is 8 jaar oud en ons gaan plaastoe na die week(likse) se koshuislewe. Ek hol verby oom Tommie-hulle se bakkie en oom Wolvie (weet hoekom hy so heet nie, dalk omdat hy 'n Volvo gery het). Terug in die Kombi met 'n armvol pos (Huisgenoot, Bollie en weet nie wat nog nie) vra my ma: "het jy die mense gegroet?". Ek weet ek het nie ordentlik nie (en steek vuurrooi my kop onder die agterste sitplek weg, daar is nou nog sulke brandmerke onder daai sitplek) en mompel iets binnensmonds van te haastig wees of iets. "Hier groet ons mekaar soos beskaafde mense" gonsbrand my ma van voor af.
Na daardie middag het ek min kere doelbewus daarop uitgemis om mense te groet. Dis die eerste ding wat jy doen as ons iewers gestop het is om die mense in die omtrek deur te draf met die groetery. As ons iewers verby hulle ry, waai jy eerder jou arm in 'n spasma as om weer die moederlike brandwoorde te hoor. Jy hoor dit in elkgeval eggo deur al die klowe in jou brein.
Gedurende my tienerjare het die skool, waar ek daardie fase van my lewe afgerond is (need I say more), die groetseremonie of rituele erg op prys gestel. Behalwe dat daar 'n sekere soort handdruk tussen ons was, moes jy elke lewende asemhalende skepsel met respek groet. Indien die seniors iewers hoor dat jy nie die tannies en ooms (en veral die meisies) gegroet het tydens Vrydae se dorpbeurt nie, dan bars die hel los. Die hele skool, of in minder ernstige gevalle net jou klasgroep, word sumier agter die Rookhuis ingeroep. Daar het die Rookhuis-chief, die Eerstespan kaptein, die hoofseun en die res van die matrieks (en 'n paar hardebloubaard standerd neges) jou ingewag. Daar by die Rookhuis was daar nooit 'n Kombi se agterste sitplek om jou vuurrooi kop weg te steek nie.Ek het altyd 'n ontstellende vermoede gehad dat agter daardie Rookhuis 'n klomp Army samajoors gebore was. Ek was nie in die Army nie (te lank aanhou swot), maar ek het prentjies gesien en stories gehoor.
Destyds het ek begin besef om ander te groet die regte ding is om te doen. Later het ek begin agterkom dis 'n medemenslike ope vriendelike handeling wat erkenning gee aan die ander se bestaan. Jy is op die uitkyk vir ander, jy soek die oogkontak en leer dat die glimlag saam met die groet, die saamstap deur die lewe die moeite werd maak. Dis hoe dit is.
Soms kos dit iets. Jy moet jou trots diep op snaakse plekke indruk en met jou groet 'n spasie vir ander skep sodat hulle menslik en aanvaarbaar kan voel. Op daardie oomblikke kos selfs 'n gratis glimlag jou iets, maar nooit geld of 'n verlies aan bestaan nie.
Ek kom hier in die Suid-Kaap-geweste tot die slotsom dat dit moeilik is om almal te groet soos waar ek groot geword het. Hier is te veel mense. Daarom leer mens die sleg gewoonte om selektief te groet. Soms waai ek wel my (sterk) arm uit pootjie om al die bekendes wat van vooraf oppad dorptoe ry, te groet. My kinders lag gereeld vir my, maar ek hoop hulle kan leer..... Ek dink ons is nou in fase 2 met hulle in die "Hallo Oom!" Hier-groet-ons-mekaar 101-kursus. Fase 1 staan bekend as die Kyk-en-leer 101. Fase twee is nog aan die ontwikkel want die Uitkomsgebasseerde onderrig word mos altyd aangepas.....
No comments:
Post a Comment