Daar is 'n veelvoud van klanke wat op my ore ('n beperkte klein hoorgaatjie) afstorm. Party kortstondige oomblike voel dit of alle klanke gelyktydig hierdie openinge wil deurbars. Eerstens is dit die gesuis van my eie (soms onsamehangende) gedagtes, dan is dit die simfonie van my familie se daaglikse samesyn wat liefdevol wissel tussen 'n kakafonie en 'n harmonieuse vredeslied (dalk is dit een en dieselfde song), verder is dit geroesmoes van voertuie wat mense karwei na daaglikse tydspasies, die gesingel van insekte wat desperaat buzz na oorlewing, die wisselsang van verskillende voels wat evolusioner die leer kon klim tussen die stankbestaan van mense industrie en geldmarkglimlagte, iewers in 'n wolkkolom die HD gedagtegang van mense wat smag na goedgenoeg wees vir die volgende holte in die maag van die verbruiker, die eiendom-honger-pastoor opsoek na parkeergrond vir sy kerk en die seer-lagwoorde van mense wat 'n broer verloor het. Dalk klink hierdie vir die gewone oorleweraar na 'n pot vol neussproei (sorry dis hoe ek dit maar dink in woorde waarin ek die mees opbouendste prentjie kan fabriseer), maar om te luister en soms sin te maak van dieper luister is om jouself bloot te stel aan die spasies tussen mense se woorde, die multidimensionele beelde agter 'n oomblik van blote oogkontak, die stand van die maan, die beweging van die diere, voels en insekte en selfs die invloed van die bergwind op die asemhaal van gewone mense. Dit gaan wel oor meer as die hier en nou van jou saamleef met mense om jou. Dit gaan ook om die ritme danse van die Hollywood, Bollywood, Pasela en Top Billing tsunamies en die trendsetter golwe van elke sogenaamde diknek iewers op 'n aardse ashoop.
Iewers is die rustige jazz-klanke van 'n Nora Jones wat jou uitnooi na 'n normale bestaan van intieme verhoudings wat daagliks uitgeleef word.
Ek probeer wel konneksies maak tussen al die klanke en beelde vandag en voel effens verlore omdat dit soms te oorweldigend vinnig deur my hoorgaatjies gaan. Dis veel meer intens as in die studente-dae met ure lange lesings waarin die lugleegte tussen hierdie gaatjies nooit samehangend vol kon word met die klankwarboel van 'n akademiese diskoers wat onbewustelik opsoek is en was na 'n sinsbestaan tussen vele ander bane van die heelal.
Ek besef nou (as ek verder dink en luister) dat ek dalk veels te intens na woorde soek om doodeenvoudige klanke van die lewe te verstaan.
Tog, dink ek wel, dat ek so skuins-skuins begin leer om sagte spore te trap in die lewens van ander deur goed te luister en ligvoetig oor die aarde te beweeg en selfs net vir 'n oomblik te dink aan die geknakte grashalm onder my branderige voetsooldrag. Ek wil graag doelbewus saam asemhaal met almal en alles anders en dalk net hakkel-hakkel die note van Psalm 150 as bladmusiek om my leesbaar maak.
No comments:
Post a Comment