Gepraat van die jare wat aanstap en velle en bene wat dunner en minder raak. Nehan is besig om voor te berei vir 'n groterige Biathle byeenkoms. Dit veroorsaak dat ek of Elise soms fisies saam met hom moet draf (ek sou graag wou he dit moet eerder stap wees). Eergister was so gulde geleentheid waar ek kon wys ek is nog lank nie koud nie. Hy het twee keer omgedraai om my te kom haal. Die skok was dat ek voor die tyd besig was om te dink dat my fiksheid aan die optel is. Wat ek ter versagting kan noem is dat my tekkie my tone erg seergemaak het en 'n groot pynigende spoed-en-ritme invloed op hele lyf gehad het (spoed en ritme is nogal belangrik vir my). Die ander ding is dat ek nie ontbyt geeet daardie oggend nie en was ek al tam voor die tyd en het ek ook die rugsak met ons gym-gerei daarin op my rug gehad en dan was dit vroegmiddag terwyl my lyf en kop en bene gewoond daaraan is om in die oggend te oefen (ek het al genoem dat ritme vir my belangrik is). Soms het ek in die gestoei met my lyf, oppad na die gym, vir hom aangemoedig om vooruit te gaan (dis die dat hy twee keer teruggekom het.....goeie kind hierdie met goeie maniere).
Ek dink hierdie skokervaring is ook diep ingeweef in die realiteite waarin ons asemhaal. Dit werk so, ongelukkig, met baie vriendskappe dat die saamstap later 'n aanstap word. Die vriendskapverhouding se bene het lam en tone seer geword. Dit is soms beter om aan te stap of toe te laat dat die ander (met of sonder aanmoediging) maar aanstap. Soms, net soms, gebeur die verrassende dat iemand omdraai en dat die aanstap weer 'n nuwe soort saamstap word.
Dit werk ook so met sakevennote, dit werk so in gemeentes en op baie ander terreine. Hierdie realiteite, so dink ek maar, so sien ek maar en so hoor ek maar, is in baie gevalle self die oorsake van nie net lam bene en seer tone nie maar ook van lam boude en papperige gedagtes. Die ergste is dat hierdie soort saamstap en aanstap (wat gereeld eerder 'n wegstap is) ook mense se harte uitpars asof dit 'n lemoen is. As jy nie die kursus in "Aanstoot neem" geslaag het nie, stuur jy hierdie vriende summier diep in die diepblou see in. Ek het so DVD-reeks hier by my oor die onderwerp waarmee ek graag weer ernstig tyd wil spandeer.
Ek dink die wyse oom wat Prediker geskryf het is reg dat dit lyk of alles tot niks kom, verseker ook die saamstap wat 'n aanstap word. Maar ek dink ook partykeer word hierdie sinlose verwagting en realiteit self terug geskok in die lewe in met die verrassings van almal wat terugdraf en weer kom saamdraf (stap). 'n Mens sug 'n dankbare vrede oor hierdie saamstap.
Vanoggend het ek vroeg die ongewone ding gedoen om hier waar ek sit 'n warmmaakapparaat aan te skakel. Ek kon tydelik beheer vat van die omgewing waarin my velle dun word en winterskaduwees met 'n drafstap wissel tussen kort en lank. So in die lekker warmkry, dink ek en weet ek daar loer in die ritme van hierdie kort na lank nog baie toetse om te skryf.
No comments:
Post a Comment