Tuesday, December 6, 2011

Die laaste woord

Hierdie tyd van die jaar is of daar obviously baie afsluitings. Die laaste byeenkomste van die jaar gaan by baie mens-samekomste gepaard met 'n gesalfde wat die Woord moet kom spreek (net so 5-10 min). Gewoonlik aan die einde van 'n kwartaal en aan die begin, moet dieselfde gebeur. Tussen-in is die gewone onderwyser, skoolhoof, voorsitter, direkteur, ens goed genoeg om die Woord kortliks te bring en menswoorde voor God namens die ander afsluiters te prewel (party prewel nie, want prewel klink en voel negatief en of jy selfs sukkel om jou woorde binnensmonds te kan praat. Soms klink dit of sommige selfvoldane afsluiters eerder met of van God asof hulle die laaste woord het en Hy nou regtig moet luister).

Ek wonder gereeld in my voorbereiding vir sulke afsluitings-Woordspreek-geleenthede wat die regte motiewe is dat sogenaamde gesalfdes dit moet doen en ook oor die 10 minute tydspasie waarin kort kragtige bondige spyker op die kopslaan woorde die hele gehoor se aandag vir 'n laaste keer moet vasvang. Ek wonder oor die gebruik selwers. Is dit net 'n beleid of gebruik (die bloedbroer van 'n gewoonte-ritueel) om die Here die laaste woord te laat spreek deur 'n mens in sy diens of........ is dit regtig 'n behoefte van die skool of instansie om eintlik hulle geloof in God te bely.

'n Goeie vriend en eks Baptiste pastoor (het wel saam met my by Stellenbosch begin.....net 'n grappie) noem gereeld die afgelope tyd oor die voorreg om in mense se lewens ingenooi te word. Hoewel die afsluiting-storie 'n geleentheid is (jy word ingenooi in die hartkamer van 'n skool of besigheid), laat spin dit 'n gewonder in my binneste soos om melk en room van mekaar met 'n seperator te skei. Aan die eenkant gee dit aan mense die gevoel van Salige koebaai-sê met 'n garnering van kortstondige dankbaarheid, maar aan die anderkant is daar die vraag of dit 'n egte soeke en uit-sing van innerlike dankbaarheid vir dit wat verby is en 'n afhanklikheidsverklaring is van dit wat nog moet kom. So aan die een kant is daar die dieper motiewe wat melkskommel hier binne my en aan die ander kant het ek die vraagwonder oor die krag van die laaste woord inkry.

Maar wie is ek om die laaste woord oor enige iemand te spreek.

Tog is daar 'n komiese trek op die mond en effe skrefie oog gevoel. Dit is soos koebaai sê wanneer jy op die telefoon/selfoon praat. Dit is soms uiters ammiserend om te hoor wie nou die laaste koebaai gaan uiter......"ok baai!" "yes groete da en baai!" en "baai", "ok baai baai", "ja, baai!" "totsiens", "ok baaai". Ek het in my tienerdae op Marlow gereeld, terwyl ek wag vir 'n telefoon-beurt, by die telefoonhokkie gehoor hoe die verliefde kalwerwoorde van die prater daarbinne in 'n liefdespeletjie vasgevang word oor wie se liefde meer is as die ander een s'n: "Nee ek is liewer vir jou..........nee ek ......liefste.....nog liewer......ek is meeeer...." skaamteloos en tot vervelends toe. So asof hulle met hulle hormoonbelaaidheid kon verstaan wat liefde regtig beteken. Ek het myself belowe ek gaan nie in so liefdesmagspel betrokke word nie (kan nie nou meer onthou of ek toe wel het nie........maar ek dink toe ek vir Elise gevra het om te trou het ek die laaste woord ingekry....of het ek.....want sy het toe "Ja" gesê).  


Ek en my kinders het altyd bedtyd (toe hulle kleiner was) so 'n laaste woord Pa-kind liefdesverklaringspeletjie gehad. Ek begin altyd met "ek is liewer vir jou as wat daar sterre in die heelal, sand in die see, water in al die damme, miere in die grond, ens" en dan sê hulle (afhangende vir wie ek nag-sê) maar hy of sy is liewer as dit. Dan is dit weer my beurt en so gaan dit aan tot ek as Pa die laaste woord kon inkry met my groter woordeskat. 


Om die laaste woord in te kry is 'n mag-ding en kan seker 'n lelike ding wees en gesoetsuiker met 'n vriendelike ferm toon in die stem (wat op of af beweeg op die toonleer). Aan die anderkant het een van my proffies altyd oor God se almag en liefde as dieselfde ding gepraat. Sy liefde is sy Almag en s Almag is sy LIefde. Nogal iets om oor te dink.

As die laaste woord 'n liefdeswoord is, dan is dit waaragtig 'n magtige ding.