Behalwe vir die duisende Steekvlieë wat die tydelike met die ewige gewissel het in hulle pogings om ons dun witvelle aan te val en ook die hordes Reënspinnekoppe (net die wat ons erg bedreig het, is nie meer met ons nie), was daar Nehan se soektog na Bobbejaanspinnekoppe. Die ontdekking dat die ronde halwe-hand grootte gate in die grond nie slanggate is nie, maar pragtige neste van die geagte Bobbejaanspinnekoppe, het groot opwinding veroorsaak. Die steekvlieë het ons goed uitgedaag en het geen respek vir klere gehad nie. Ek is seker dat selfs 'n jeanbroek of baadjie nie bestand is teen hulle bloedige ywer en angstige aanvalle nie.
Na goeie rus-tyd saam met mekaar, is ons gesin terug in George om voor te berei vir die voluit van 2012. Na so paar dae terug in die tuig, het drie Kaapse Gevlekte Oor Uile met 'n skemer vermaaklikhei met ons in die nuwe jaar begin flankeer. Die vermoede is dat hulle iewers veilig in die forse en hoe takke in een van die omliggende Akkerbome gebroei het en nog die soogtyd hier neffens ons wil spandeer. Ek kon op een van die flankerings tot ongeveer 3m van een uil kruip (hy/sy het op die grond gesit) om ampers makro-foto's te neem. Hulle koeel ronde goudgeel oë moedig my met elke oogkontak aan om wakker akker te wees in hierdie jaar. Afhangende van jou gemoedstoestand kan die uitdrukking in hulle oë so effense veroordelende blik uitstraal en jou laat skuldig voel oor iets wat jy gedoen het of nog gaan doen. Verder kan dit ook voel of hulle ietwat meerderwaardig na jou gluur omdat jy nie hier hoort nie, hulle was eerste hier (daaroor kan ons nog lank met hulle praat en 'n wyse teologiese interaksie telepateer (ek dink dis 'n nuwe woord....)). Ek dink tog dat hulle na die onlangse Eko-beraad in Durban so paar dinge vir ons hier in die Suid-Kaap wil oordra.
Die nuwe jaar het deeglik teen ons velle kom sit, maar die Krismis onder die Wildeperskes is darem nog vars onder ons velle. Ek weet dit, want kort-kort klap ek 'n denkbeeldige steekvlieg as ek 'n geringe geritsel iewers op my lyf voel.