Die effek van die seisoene wat aanskuif is soms 'n ontstellende (vir sommige angswekkende) ervaring. Dit het 'n rimpel-effek deur en oor jou hele lyf. Ek sal byvoorbeeld nie aan enigiemand wat so bietjie flankeer met angstigheid, aanbeveel om te gereeld geheel en al kaalbas voor 'n spieel te staan nie. Die rimpels is soms sagte flabberagtige (oorhangerige) swellinge met 'n fyner en genuanseerde plooitjie-agtigheid op die buitekantste velle. Ek sou kon aangaan oor die rimpel-effek van die seisoene, maar ekself raak nou kort-asem en dit is nie van opwinding nie. Net vir kennisname, ek is volledig geklee soos wat ek hier sit en griffel, maar die seisoene se aanskuif het 'n ewige prentjie in my korter geheue ingebrand.
Daar is tog 'n kant waar een seisoen 'n goeie en vrugbare skuif maak na die volgende. Ons word wyser met die tyd, so hoop ons regtig. Ek weet ook dat ek rustiger word (party van my naby-mense sal se ek word te rustig) alhoewel my geduld voel of dit korter word. Ek weet ook dat ek stadiger en beter begin luister na ander stemme as my eie. Die verskillende seisoene leer my van respek vir die lewe, vir die skepping, vir mense wat anders as ek dink, voel en leef. Dit leer my hoe weerloos-kosbaar elke oomblik is. Die tyd stap aan, "nou" as 'n moment van asemhaal is klaar weer verby en wag nie vir 'n oomblik nie.
Ons het vandag Elise se Ouma Nellie van Albertinia begrawe. Haar seisoen is nou verby, maar het kwalititeit aan ander se seisoene gegee.
Hieronder volg 'n paar (meer as 'n paar) woorde aan en oor haar:
Liefste Ouma,
Toe ons klein was,
was ouma vir ons soetkoekies, hertzogtertjies, groentesop met varsgebakte
brood, rooi aanmaakkoeldrank en melktert. Ons onthou ook die gekraak van houtvloere,
die klokhorlosie in die gang, die reuk van sterk swart koffie en die geluid van
die toeklap van die koolstoof soggens vroeg as alles nog stil was.
Maar wanneer ons
vroegoggend in die kombuis gekom het, was alles klaar reg en het ons ouma en
oupa gekry waar julle sit en wag. Amper
soos die bybel sê wanneer jy goed doen “laat jou linkerhand
nie weet wat jou regterhand doen nie”.
Soos ons ouer geword
het, het ons ook begin leer van en lief word vir die mense wat vroegmore reeds
die drumpel begin deurtrap het en ons het verstaan hoekom ouma se huis altyd
vol mense en lag en geselsies was. En
soos ons nog ouer geword het het ons ook meer en meer begin meeleef in die
stywe drukkies en die stille trane as ons wegry en ouma en oupa vir lank nog
vir ons staan en waai het.
Ten spyte van die
swaar tye oor die jare was ouma se glas altyd vol. Al was ons vir so lank in
ons lewens ver van ouma en oupa, sal ons altyd die vreugde van ons saamwees
koester. Ons het by ouma geleer van
eenvoud as die vreugde van die lewe, die
gee en neem net wat daar is en die
dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.
Ouma het altyd net gelag
as ons sê ouma moet vir ons kom kuier waar ons ver oor die waters of ander kant
die berge was. Maar ons is dankbaar vir
elke oomblik wat ouma deel was van ons lewe.
Hier in Diani aan die ooskus van Afrika drink ons vandag
saam met Ouma 'n koppie sterk swart koffie en sê ons baie dankie
vir soetkoekies en 'n lewensuitkyk wat ons help vorm het.
Elise, Tiaan, Alana
en die agterkleinkinders in Kenya
En toe het ek ook 'n paar woorde gewaag van my eie saamstap (net ongeveer 19 jaar van haar 92 jaar) met haar. Ek besef nou eers dat dat ek haar langer geken het as my hero Oupa Andries Pretorius...........
Ouma
Nellie was nie my eie bloed-ouma nie, maar het van dag een vir my soos huis
laat voel.
Baie
vinnig deur die jare was Ouma Nellie so goed soos bloed-familie. Na elke
kuier-slag by haar, of dit ‘n vinnige verby-ry-inval of dalk ‘n oorslaap was,
het sy met die groetslag se druk, ‘n mens so vinnig vasgedruk, so asof sy jou
nie nou-al wou laat gaan nie. Sy het mense om haar gesoek.
Koffie-kuiers en al die
inval-mense
Haar
koffie in die sak in die ketel op die stoof was meer as net ‘n beker koffie. Dit
was ‘n stop, ‘n sit, ‘n pouse, ‘n saam-wees met haar en ander wat daar is en
deur die dag kom inval (tydig of ontyd). Dit was soos die sela van
die Psalm-kore in die tempel van ouds. Dit was ‘n korte asem-teug wat sy geskep
het maar ‘n ewigheidswaarde uitgestoom het in ‘n beker vol aroma en haar
eiesoortige nederige liefde. Daar was altyd ‘n kou-ding by die koffie. Die het
sy gaan haal in die donker toe kamer (seker op sy tyd ‘n eetkamer, maar dit het
nie gedeug soos die kombuis-tafel se kuier nie). As ek soms skelm daar ingeglip
het was die donker vol lig. Oupa Krisjan se pype het op die buvet-tipe kas
versamel gestaan. Onder toegemaakte houers was daar altyd ‘n goudgeel melktert
(waarskynlik iewers nog een van tant San), die houer met die Hertzoggies en dan
die immergroen geliefde Ouma-koekies (soetkoekies). Die soetkoekies was ‘n ete
in sy eie reg. Deur die dae wat ons wel by haar spandeer het, het was die huis
meer as gereeld gevul met mense wat ‘n vinnige koffie kom drink het. Oom Samp
het mens lankal gehoor voor jy hom gesien of geruik het...”my kwit....” dit was
seker ‘n ander woord gewees, wat ek maar ter wille van Ouma wat blinkoog na my
geloer het, geignoreer het. Oom Gert vir wie ons gereeld ‘n skelm stopsel Rum
en Maple gebring het, het meer as gereeld ‘n dankbare beker koffie opgeslurp
tussen sy skrapse woorde.
Koffie brand
Koffie
het deur die loop van die jare vir my ‘n belangrike lewensmetafoor geword. Ouma
Nellie se koffie het wel ‘n deeglike inbrand gehad in my verstaan wat koffie
eintlik is. So kort na ons troue en ook nie te lank na Oupa Kitty se dood nie,
bring ons vir Ouma Nellie ‘n groot pak lekker Mocha Java en Blue Mountain koffie.
Klaar gebrand en gemaal. Sy het een slag daarvan gemaak, seker om ons tevrede
te hou, maar baie gou haar ontevredenheid met die flouerige soort grand koffie
wat ons daar aanbring, gewys. Ek glo nie daardie koffie was ooit weer in haar
brousels gebruik nie. Op ‘n stadium het ek gereeld ‘n klompie groen koffiebone
as geskenk gekry.Op ‘n stadium het ek besef dat Ouma Nellie se koffie-tradisie
moet iewers in die familie aangevat word. Ek het gebel-waarsku en na haar in
Albertinia gery, met ‘n kilo of twee groen koffiebone en sy moes my leer koffie
brand. Daar was nie veel rituele-fanfare nie. Ek moes in die stoor met die
gasstoof en swartpot gaan sit en en begin roer. Gereeld het ek gevra,”Nou
wanneer is dit reg?” of “Wat moet ek nou doen?”, maar sy het net gesê ek moet
aanhou roer, ek sal sien en weet as dit reg is. “Moet ons nie iets bygooi nie?”
het op ‘n stadium benoud gevra. “Jy kan as jy wil so bietjie suiker hier op die
laaste bygooi, as jy die bitter wil breek” het sy laat val en so ‘n Ouma-mate
suiker oor die goue brandende bone gestrooi, “nou moet jy roer!” het sy ferm
gesê. En so het ek begin leer hoe die koffie-brand geboorte gegee het aan ‘n
liefdesdaad wat meer is as net ‘n beker vol stomende koffie.
Gasvryheid
Gastvrijheidt,
soos die Hollanders dit praat, beteken vir hulle: die vryheid van die gas.
Bedoelende dat jy as gasheer of gasvrou vir jou gas die vryheid skep waarbinne
jy jouself kan wees. Daar in haar huisie, eenvoudig en netjies, het elke gas
hulle plek geken (want daar was waardes en standaarde), maar elkeen het ook die
vryheid gehad om hulself te kon wees. Sy het elkeen wat daar was, of dit vir
koffie was, of dit sommer net ‘n kuier was, ‘n ruimte gegee waarin jy as mens
gewaardeer en menswaardig gevoel het.
‘n Nederige sterk vrou
Daarby
was sy ‘n nederige sterk vrou wat onder die ysterhand van Oupa Kitty ‘n mens in
haar eie reg was. Haar geloof was ‘n onuitgesproke dienende soort geloof
waarvan die ankers nou latere jare in die Ouetehuis met haar Bybelstudie-groep ‘n
vaste punt was.
Moet net nooit ophou nie (hierdie is aangehaal uit 'n vorige blog-inskrywing van Aug 2011)
Ek
het die storie al ‘n paar keer die afgelope paar jaar vertel. 'n Klompie jare
gelede kuier ons by Elise se ouma Nellie wat op daardie stadium seker so 84
jaar oud was. Nadat een van ons kinders iets op Ouma se kombuisvloer mors
(darem nie na 'n vloermoer nie), buk sy af met die flinkheid van 'n 20 jarige,
maak die gemors skoon en kom net so egalig en spoedig op. Geen gekreun, steun
en verskillende fases van vervattery nie, niks rooi in die gesig asof sy nou
iets groots en moeilik gedoen het nie.
Ek
spot nie oor hierdie tipe gedragsverskynsel (eerder gedragsbeperking) van mense
wat stoei met die gebuk-gedoente nie. Ek het regtig heilige respek vir die
ouderdom en die effek van gravitasie op ouer liggame (alles word mos nader
grond toe getrek met die styg van die jare, krommer, kleiner en plooie is ook
mos velle wat grond toe neig).
Haar
kleindogter, dis nou myse beterhelfte, Elise, staan toe op daardie kontradiksie
oomblik oopmond en verwonder haar aan haar Ouma se skatkis-buk-talent en vra:
"Hoe kry Ouma dit reg?" Ouma Nellie se mond het soos altyd so 'n
speelse trek gekry en haar oe vol wakker stout-lig toe sy antwoord: "Jy
moet net nooit ophou nie!". Agterna het ons al verskeie kere in oues en
jongeres se teenwoordigheid hierdie "kombuis-wysheid" van ouma Nellie
van Albertinia aangehaal (ek het wel so spesmaas dat die toepassing van die
wysgeit het ook te doen met daardie streek se gebrou en gebruik van karriebier,
maar dit kan nie bevestig word deur navorsing nie).
Die
ding van hierdie wyse boere-tannie-raad is dat dit tot in die dieptes van die
lewe inkruip en met jou flankeer as 'n soort beproefde lewensbeginsel. Die
toepassing daarvan het ons al baie laat dink. Vat nou maar die verhouding
tussen 'n man en vrou. As hulle vir mekaar lief is en vir mekaar lief wil
bly........moet net nooit ophou nie. Dis soos buk. As jy fiks, slank en soepel
wil bly, moet net nooit ophou oefen en strek nie. Dis soos buk. As jy baie
graag slim wil wees, moet net nooit ophou leer nie. Dis soos buk.
As jy weerloos is, seer is en ‘n groot gemis
(soos vandag) ervaar, dan hou jy net aan om te glo....dis soos buk.... moet net
nooit ophou nie.
As jy ophou, raak alles styf en word dit 'n
gekreun en steun en vervattery
Ek was bevoorreg om haar begrafnis te hanteer, maar dit was 'n moeilike deel van 'n seisoen wat verby is. Ek het veral toe ek die koffie
daar in die kerk aan die gang gesit het (ek het ter ere van haar 'n pot koffie op haar manier gebrou deur die loop van die erediens), erg geveg en gebyt teen die trane. ‘n
Paar maal voor die tyd het ek wel konsistorie-toe gegaan en my neus deeglik gesnuit en
diep asemgehaal en gebid vir krag. Op ‘n vreemde manier was my nerwe goed dun
en het alles vlak gewag om uit te kom, want sy was uiteindelik ook my Ouma Nellie.
Dit was vir my spesiaal dat niemand, veral Oom Jim van Zyl wat die bedankings
gedoen het, na my verwys het as ‘n aangetroude kleinseun, maar wel as haar kleinseun. Haar 92 jare het my en ons almal kom raak op ‘n baie spesiale manier.
Die seisoene loop.........