Hierdie is nie 'n groot oordeel oor ander nie, maar 'n obserwasie van my eie lyf en ander om my se lywe, se reaksie op die klere wat ons dra, die plekke waar ons dit dra en hoe ons dit dra.
Ek gaan koop so paar eet-benodigdhede in 'n bekende kettingwinkel. Terwyl ek in die betaalry staan en (on)geduldig wag, kom daar in die middel van die dag 'n man met drafklere ingestap. Hy draf nie meer nie. Hy stap net. Maar sy stap is nie soos iemand wat dalk 'n chino-broek en blokkies-hemp met Woolies-skoene aan, dra nie. Hy loop met so ekstra hop in sy linker of regterbeen. Sy drafhemp beklemtoon die rede waarom hy draf. Sy drafbroek dateer uit Johan Fourie se tyd en het hom ook vanmelewe se tyd betaamlik gepas. Sy houding, sy lyf se reaksie op sy klere en sy ritme praat rapsodieus saam. Ek is nie seker wat nie, maar dit is hoe dit nou is in realtime. Hy lag nie, hy huil nie, hy is lewensernstig met dit waarmee hy nou besig is.
Op die strand gebeur die byna onmoontlike. Mense loop 95 persent nakend rond. Die meeste mense sy klere lyk soos onderklere. Ons noem dit strandklere vir die strand. Dis wonderlike klere. Daar is 'n hele groot ekonomiese bedryf wat dit rugsteun en ook afhanklik is daarvan. Daar is verskillende kleure, daar is sommige wat soos amper lang broeke lyk en onder 'n oorhang maag ingetou word en 'n ortopeutiese verskil maak aan die postuur. Maar dit maak nie saak watter kleur, hoe groot, hoe min, klein en petite dit is nie. Almal se houding verander sodra daardie strandklere aangetrek, oorgetrek, ingetrek en opgetrek word. Mense loop regopper. Sommige ouens se arms begin hang nie meer nie, dis asof hulle iets vasknyp in die armholtes. Soms lyk die grootte van die "denkbeeldige" voorbeeld in verhouding met die grootte van die maag. Ek spot nie en kyk nie af na hierdie postuur en klere-gedrag nie. Ek praat met groot respek. Want almal met strandklere aan het baie selfvertroue. Daar is ' n magiese effek van hierdie klere op mense se loop, sit en lê.
Daar stap 'n lang maer man doelgerig in die straat af oppad werk toe geklee met 'n netjiese broek, hemp en ontwerperskoene. Dis vroegoggend. Sy donkerbril sit effens ongemaklik op sy skraal belynde gesig. Dit is duidelik dat sy stap se hip-hop dik in sy pype, sy skoene se sole en sy bril se donkerte gebore word. Sy hemp se formaliteit gee 'n diknek-houding aan sy ekstra lenigheid wat grens aan een of belangrike ou se lyfwag. Daar is egter geen limosine insig nie, ook nie 'n Duitste wa met getinte vensters nie. Sy arms se plek van bo-af tot langs die sye het 'n effense uit-die-loopritme heen en weer beweging. So, sy stap en klere-tooisels gaan vir die tyd saam soos 'n kat en sy soepelsag bewegings.