As mens Malawi met Mosambiek kruis, dan kry jy Malambiek. Dis my weergawe van ons ervaring die afgelope week.
Ek moes so paar dae terug 'n kort bondige beskrywing vir die Facebook van die Getuienis kommissie gee. Dit het toe so iets geklink:
Om iets van Afrika in Malawi en Mosambiek te beleef is 'n voorreg. Om ook iets van God se genade ritme saam met sy kinders hier te beleef, laat my klein voel. Ek was verras deur die jeug van Liazi-gemeente se buite-wyk (prayerhouse) se honger na God se Woord. Ek sal ook nie maklik die gesprek met Isaac, ons tolk, onder die Mangoboom Sondagmiddag na ete vergeet nie. Dit was soos enige ander gesprek met 'n jongman wat passievol oor God en oor sy land is, maar dit was ook totaal anders. Ek leer boeke vol by die kerk -en gemeenteleiers om met moed, drif en hoop sinvol God se liefde prakties in elke gemeenskap te leef. Hierdie leiers neem eienaarskap as rolmodelle om lig te wees in 'n moeilike en uitdagende konteks. Zikhoma!
My ervarings het nie veel verander in terme van die situasie van die kerk in Malambiek nie. Die verskil tussen die twee lande is dat die kerk vanuit die NG Kerk se kant, baie langer geskiedenis het in Malawi. Die strukture hier is diep gevestig en spoel selfs deur tot in die platteland. In Mosambiek staan die kerk passievol op van hul kniee na die vorige burgeroorlog wat in gruwel merk gemaak het op mense, diere en die grond.
Hoewel die CCAP en IRC kerkgenootskappe in Afrika is en hul leierskap plaaslike leiers is, is soveel van hul maniertjies, formaliteite en voorkoms so westers as wat kan kom. Hulle kan ook seker nie anders nie, want die invloed van die kultuur-goedere van die westerse (christene) is oorweldigend en aanloklik. Daarom is die dilemma van geld 'n verlamende behoefte. Hul sien hulself nie meer as 'n dogter-kerk nie, maar as Suster-kerk (We are partners). Dit het 'n mini-bus vol implikasies vir hulself en vir die NG kerk, maar dit is 'n ander dag se gesprek op 'n ander plek. Die uitdagings vir die christene hier kan so kompleks wees soos 'n Interkaap bus se jumbo trailor wat vol Afrika-sakke gepak is en deur 'n grenspos iewers op hierdie kontinent moet gaan. Die arme grenspos beampte se maskerbravade sal nooit genog wees om 'n eerbare goeie job daarvan te maak wanneer die propvol trailor se deure dankbaar oopskreeu nie.
Dis nie 'n eenvoudige saak om kind van God te wees en die aanslae van 'n spesifieke kultuur te oorleef nie.
Ek wil met waagmoed dit vereenvoudig. Ons uitdaging en dagtaak is om wel die eenvoud en skoonheid van Liefde oop te maak in die klein en groot wêrelde waar jy nou is.
Hier onder 'n klomp mooi uitheemse bome (geplant deur "sendelinge" met goeie bedoelings) sit ek en luister na my eie binne-pratery. Ek weet soos elke keer onder 'n boom, ek moet goed luister......