As kind was ek altyd bang vir die donker. Om alleen in die donker te loop (nee, hardloop) was een van my grootste uitdagings as kind. Ek het nie lewensdramatiese-tsunamie-agtige uitdagings gehad om te hanteer nie. Ek was 'n normale kind met normale dinge en uitdagings. Maar die donker was elke keer, wanneer ek die binnestes daarvan moet moes betree, soos om in die oopbek van 'n grootwitdoodhaai in te kyk. Ek het nog nooit, maar nadat ek JAWS in 1977 gekyk het, het alles verander. Die donker maak musiek wat jou hartklop verander in diep stereo borskasbasklanke in die trillings van jou oordromme. Dit skroef die deure van jou verbeelding oop en loop rond soos mis-bewegings in jou skaduwee as die som van alle onbewuste rillerprentjies. Jy voel vreemd in jou eie hoendervel en jou bene wil soos 'n kop-af haan onwillekeuring weghol-rondtrap in jou broek na waar die lig bekend en veilig voel. Soms, wanneer die donkerte so erg, vreemd en bedreigend die suurstof uit jou mond wil steel, word jou wêreld verplaas na skemertes met slierte swamdrade wat oor elke boomtak in jou gedagtes gedrapeer is. Dis die onderwêreld van jou skaduwees waar jy alle klanke, beelde, gedagtes, reuke en teksture onrealisties super groottes gee. Dit volg jou, elke beweging, elke aksie, elk geluid......
Wanneer jy weer "veilig" terug is in die lig, kleef die dampe van die donker nog taai in jou asem en in die sinapses van en na jou brein. So voed ons (en ek maak nou kwantum-spronge by gebrek aan geduld, tyd en spasie) die honger van ons vrese, ons vrese vir alles en almal wat anders is.
.
Ek weet nie of dit regtig so werk en so erg is nie, maar ek het 'n mistige vermoede dat ons vrese en onsekerhede gewillige bedmaatjies is van ons instinkte om te oorleef. Of ons veg, of vlug of doen net mooi niks nie, op grond van die boodskappe in ons brein (dat ons nog lank ons broeke hier op moeder aarde wil dra).
Volwassenes is bang vir baie dinge wat soos spinnerakke deur jou lewe van een kant na 'n ander kant, van een dag na 'n volgende jaar gespan word. Ons is bang ons verloor ons werk, ons huis, ons kar. Ons is bang ons maak nie genoeg geld nie. Ons is bang ons kinders maak keuses waarvoor ons nie kans sien nie. Ons is bang ons mors (nog meer) verhoudings op. Ons is bang vir....... ek weet nie, dalk jaag ek spoke op.
In ons geliefde land word die buitelanders nou oor die grense gejaag deur mense wat agendas het. Ek dink iewers in die fynskrif van die agendas is daar die instink op oorlewing. Die vrese kook op, naamlik dat vreemdelinge van ander dele van donker Afrika en die Ooste uit die skadus van hul eie oorloë kom en ons eersgeboorte reg voor ons wegraap. Ek is seker die media se aptyt vir grootnuus het petrol gegooi op hoe so klompie Suid-Afrikaners gereageer het op hulle oorlewingsinstink en die donkergange van hulle vrese. Die situasie op die oomblik is soos 'n "moerby"-potjie met allerhande bekende en onbekende bestandele (gooi nog die standbeeld-protes-situasie vir ekstra geur by), maar wanneer dit eers in die pot ge"m#@r" is, is die resultaat buite beheer en is die kos in jou bord 'n onbetroubare bouquet vir jou palette. Onwillekeurig word jy ingeruk in die donkerbangbroek-ervarings van kind-wees waar geen rasionele redenasies jou by 'n veilige verligte plek kan bring nie.
Ek is nie meer 'n kind nie en ek kon darem iewers in my lewe die donkertes in die oë kyk. Maar my donker-bangbroek-tye eggo in tye soos hierdie soos helder skimme deur my lyf. Nog duideliker egter (gelukkig) is die klokhelder evangelie van Matteus 25: 35 oor spesifiek vreemdelinge en ander weerloses (banges). Dis soos 'n inenting wat jou weerstand teen die vrese laat groei en jou oopmaak vir nuwe dapper soort verhoudings waarin jou mure, grense, stamverwantskappe, kleure, reuke, woorde en kyke deur die Eksodus-woestyne gelei word na die beloofde land. Die beloofde land is meer soos 'n pad wat aanhou, al weet ek nie altyd presies waarheen nie.
Een van die maniere waarop ek die donker-vrese in die oë geloer het, was om 'n liedjie te sing. Veral 'n liedjie wat met God te doen het. Die geloof dat God se lig groter as die donker se basklanke is, het waarskynlik my gemotiveer om uitasem 'n liedjie te sing. Ek het Psalm 23 baie gesing. Ek het nog steeds my spore lig getrap, maar ek kon stadiger begin asemhaal en my oë op meer plekke oopmaak om te kyk of die donker wêreld in my kop regtig bestaan. Ek kon leer, van een skemer swamdraad na 'n volgende, dat dat die donker aan die einde van elke dag steeds daar gaan wees. Maar ek kon dit meer en meer in die oë kyk. Ek weet ek moet nog steeds. Ek weet ek moet leer om nuwe ruimtes te skep vir ander en ek weet moet meer sing (al is dit net in my kop waar niemand anders die vals note kan hoor nie).