Die afgelope tyd het ek amper te veel om elke hoek, draai, winkelrak, braaivleisvuur, intieme spreekkamergesprekke, whatsapps en telefoongesprekke te doen gekry met mense, en veral vrouens, wat 'n worsteling met kanker het. Teveel in die sin dat net oorweldigend voel. Al het die jare se luister na mense se seer en stoei oorlewingseelte in my ore, hart en lyf gevorm, is elke gesprek en die terugbons-kyke in mense se oë 'n middelpen-uitboul vol vrae en soeke na hoop en moed en heelword binne flentersheid. Van baba-kinders tot oud en afgeleefdes, wat iewers saam met hul families hierdie diepseerwond pad moes stap, het ek al begrawe. En elke keer is maar soos 'n stywe-arm duikslag om die steelkant van die skrum (en glo my, ek weet hoe dit as skrumskakel, flank en agtsteman voel om so onkant gevang te word).
Ek weet dat ons almal die dood moet vat as deel van die lewe ('n "kontradiksie" in terme), maar dit is 'n seker feitlikheid wat aan meer vrees en seer geboorte gee as wat ons regtig eerlik sal wil erken. Henry Nouwen skryf in sy boek Our Greatest Gift hoe ons met oop arms oppad na die dood moet kies om te leef. Die dood is nie ons vyand nie, maar 'n geskenk. Soos 'n kind wat uit die baarmoeder-wêreld met geboorte, deurgaan in 'n nuwe wêreld wat wag. Net so is dit met die dood. 'n Geboorte in 'n nuwe wêreld waarin ons ingenooi word om anders te leef. Hierdie soort gedagtes of perspektiewe help om dalk anders te dink en reageer. Ek weet ook dat 'n kanker diagnose nie noodwendig 'n doodsvonnis beteken nie. Dit bring mens wel by 'n klomp eerlike perspektiewe en vra diep keuses oor die pad wat geloop word.
Dis net dat die kanker-ding soos haelstorm deurtrek sonder om te bedaar. Dit is nie net die oes op die lande wat deurloop nie, maar ook die blygoed en rygoed wat soos hoopvolle voëlverskikkers die skerpkante van storm weerloos in die gesig vat.
By elkeen van hierdie mense leer ek baie van die lewe en van die dood. Sommige is moedeloos plat, ander kan nog nie glo hierdie soort storm het sopas hulle in repe kom slaan nie. Dan is daar diegene wat met 'n blinkglinster in die oog, maar met 'n regop lyf en 'n wip in die stap die skerwe bymekaarmaak en hulle geloof en vertroue soos gare gebruik om die repe weer aan mekaar te werk. Wanneer hulle praat, soek hulle nie krag nie, maar is daar krag en lewe in elke woord en stilte.
Saam met elkeen van hierdie mense en hulle storie, journey leer ek tree vir tree om met perspektief te kies vir 'n nuwe soort gesindheid.
Elke oggend voor ek opstaan, sit ek my voete op die grond langs die bed en voel die koelte van die vloer optrek deur my slaaplyf en dank God met 'n eenvoud gebed......dankie vir vandag, dankie dat ek vandag kan leef....