My geliefde armtydhouer (normaalweg genoem 'n polshorlosie van 'n soortvan bekende naam) se sewende bandjie het twee weke gelede gruwelooslik die gees gegee (dit was sy tyd). Hoewel ek omring is deur super-tegnologiese instrumente wat saam tydhou en met een of ander grootklok iewers op 'n plek in die wereld (weet nie waar nie) gesinkroniseer word, het ek gou verlore gevoel. Die tik-tik-tik van 'n tradisionele tydhouer het ek al afgeleer om te hoor as gevolg van die digitale invloed. Maar die gerustheid om te weet hoe laat dit is, hoe laat ek is, of hoeveel tyd oor is voor 'n volgende afspraak of "task" (behalwe vir werksgoeters, veral deesdae die op en aflaai van my kinders by allerhande dinge wat hulle moet doen) het 'n nuwe tik-tok-ritme deur my hartspiere gepomp.
Na 'n week sonder my tydhouer, onthou ek dat daar iewers in 'n kas 'n geskenk-horlosie van my pa is. Hoewel dit nie 'n bekende naam het nie, lyk dit darem of die tyd eweredig gehou word. Die gespot van my geliefde en my spruite oor die fynheid van die betrokke tydhouer wat nie pas by breedte van my skouers en die lengte van my arms nie was redelik ergelik. Maar dit was die stil-oomblikke wat klokslag gebreek word deur die tiktok tik-tik van die sekonde-afteller en my gedwing het om 'n besluit te neem. My hartslag was nie gewoond hieraan nie en het 'n ongedwonge angstigheid in my laat posvat. Daarby het 'n paar goeie vriende my uitgedaag om sonder my armtydhouer klaar te kom (ook nadat hulle die fyner armtydhouer aan my arm sien blink het)......wie het dit in elkgeval nodig om tyd te hou van die lewe se verbyvlug ......tyd vlieg vanself en het nie tydhouers nodig nie. Skynbaar is dit baie bevrydend om sonder een klaar te kom. Ek weet een van my broers haal syne oor naweke en vakansie-tye af. So asof mens tyd se vlerke so effe daarmee kan knip om stadiger te vlieg in hierdie spesiale tye.
Vir die afgelope paar dae loop ek sonder enige vorm van armtydhouers. Die gevolge was ietwat rampspoedig (wel, ok niks lewensbedreigend nie). In die eerste plek het ek agtergekom dat ek redelik afhanklik geword van my tydhouer en 'n roetine ontwikkel het om hom nou en dan te beloer om my dag te orienteer. Ek het ook laat gekom vir 'n paar afsprake ten spyte van ander tydinstrumente rondom my (soos ek al genoem het, ek hou nie van laatkom nie, en hou nie daarvan om te wag nie). In my afhanklikheid van hierdie tydhouer, wat boonop 5min vroeg gestel is(eintlik 'n stupid idee, want ek kan myself nooit verneuk met die idee dat ek daarmee tyd kan wen nie) weet ek dat iewers weer 'n plan gaan maak vir 'n ordentlike bandjie. Laasgenoemde wat van goeie stoffasie gemaak is, kos min of meer soveel soos 'n nuwe tydhou-instrument. Ek weet ook dat ek nie my afhanklikheid moet voed nie, maar so kan dit ook nie aangaan nie........
No comments:
Post a Comment