Die spikkelveer raasrasper (dis eintlik 'n skelwoord maar in Afrikaans = Tarentaal) roep iewers na 'n maatjie sonder ophou met die reelmaat en commitment wat ek wens ons menslike kalante kan openbaar. Ek en Elise stap verby 'n baie vriendelike Oom en Tannie wat voels kyk en opskryf. Ek sien hulle beloer 'n voel iewers in 'n tuin en kyk ook nuuskierig na die swart piek (weet nie of daar so voel is nie) wat hulle identifiseer. Na so vinnige geselsie met hulle (nie die voels nie, maar die Oom en Tannie) kry ek die smaak van kitskoffie en sien die krummels in die beker agterbly na die laaste sluk. Die raasrasper rasper volhard steeds soos 'n kortstondige vinnige geroesde waensdeur........
Toe word ek wakker en vra Elise of sy ook nou-net daai tarentaal gehoor het. Dit was te veel van 'n hoe definisie-werklikheid vir 'n droom, maar al wat ek hoor is die kransduiwe se geselsies en niks van tarentaal se liedjies nie. My slaapgedagdtes dwaal onmiddellik na die fliek "Inception" (dit gaan lank vat om te verduidelik, gaan kyk maar eerder die fliek of wag vir die DVD, inkort dit gaan oa oor drome in drome en idees) en ek wonder oor die "werklikheid" waaruit ek nou-net wakker geword het.
Nou met 'n regte egte beker koffiekapitaal agter die blad en met my smaaksintuie wat nog bolamakisie-speletjies maak, dink ek aan die Ringsitting van Maandag. Dit is al die Ringkoppe van die meeste George NG Gemeentes wat kom saampraat en bid het hier by ons. Dit is asof die manne en een vrou wakker word uit 'n diep slaap. Hierdie slaap se drome was die werklikheid waarin sovele van ons gemeentes met 'n realiteitsepie besig was. Ek probeer nie galstene hyg nie, maar almal weet dat baie gemeente is iets soos 'n bouval-realiteit nou beleef. Die nuwe werklikheid waarin ons nou almal wakker word is 'n ontstellende een waarin nuwe drome nou geboorte moet gee aan kreatiewe moontlikhede. Baie gemeentes sukkel met die werklikhede van elke dag en die spikkelveer raasrasper wat hard aan skril-gesange sing, sing sy lied aan beide kante van die droom.
Ons hou daarvan om te droom oor die toekoms en dit moet ons dan help om ons "nou" te verander in 'n meer aanvaarbare en leefbare wakker werklikheid. Maar ons hou ook van snoesig slaap en ook dan drome te droom waarin ons veilig en goed voel. Maar iewers moet ons wakker word op 'n koue wintersoggend en regte koffie drink. Ons praat ook van 'n droom (dis nou die slaap-werklikheid en ook dit wat ons in wakker oomblikke oor die toekoms wil glo) en bedoel daarmee positiewe beelde, mense en oomblikke van ons nagtelike gedagtes. As ons negatiewe belewinge van hierdie slaap-werklikheid het, praat ons nie van drome nie maar van nagmerries (het nog nooit hierdie woord verstaan nie, want merries was nog altyd makliker om te ry as 'n befoeterde hings). Die punt is ook dat die grense tussen drome en wakker-wees nog altyd 'n interessante ervaring was. Wat is 'n droom en wat is nie?
Drome het altyd 'n hoop-gedagte. Ons hoop dis net 'n droom (of 'n naghings), of ons wil met ons drome 'n hoop-geloof in toekoms verwoord.
Iets wat ek hoor en sien by almal (die manne en een vrou by die Ring) is 'n helder liefde vir God en vir die Liggaam van Christus. En ek weet dit sal hulle (ons) dra, maar dit is eintlik mos andersom (God se liefde vir ons). Dis ook soos om 'n nuwe boom te plant en te hoop en glo dit word groot om al die mooi dinge te word wat ons van bome droom-verwag (selfs om vir tarentale slaapplek te gee).
Die werklikheid waarin ek nou wakker-akkerig droom is 'n brose een, en ek het hoop. Intussen het die spikkelveer raasrasper sy maatjies die tarentale-in gemaak, want hulle almal sit in die akkerboom met dromerige stilstuipes......ai tog daar begin hulle weer hul dagliedjies skree-sing.....
No comments:
Post a Comment