Ek was nog altyd gefassineer deur warrelwinde. Van grootword dae (deesdae tel seker nog steeds) het dit vrees, bewondering en respek by my opgejaag. Vanoggend loop ek hier by die huis en warrel so 'n jackrussel-tipe-warrel-wind die laaste rondle blare so ent van my in 'n dapper poging om iets groters bymekaar te maak. Die garage se deur het egter alle wind uit sy seile gehaal en moes die ou stert tussen die bene bek-af teen die muur gaan le.
Gelukkig beleef ons nie hier in ons geweste die groot-ooms of eerder die great dane-tipe nie, maar kleintyd het die groteriges daar in die karoo-vlaktes altyd so 'n effe angstigheid by my veroorsaak. Want in my gedagtes was die prentjies in boeke van groot vernietigende tornados wat huise verwoes, diere laat rondomtalie vlinder, karre rondgooi en klein dorpies verlate laat lyk het asof hulle so pas gestofsuig is. So ek wou altyd uit hulle pad bly en het gekyk watter diere dalk in hierdie 8m karoo-weergawe se pad gaan wees. Die ergste wat ek ooit gesien het, was rolbosse en ander ligte takkies wat so half vermakerig kophoogte saamgedans het. Maar 'n kind se gedagtes is mos altyd intens en 'n mens weet nooit. Daarom was ek altyd dankbaar dat dinge nooit hand uitgeruk het nie. Een of twee keer het so 'n warrel-wind ons verras in die veld of op die plaaswerf en was die gevolg meer 'n menopause-tipe irritasie van die warmwind wat jou oe en tande voel stof en stokkies warrel. Die kort en lank of dalk eerder die hoogte en laagte van so warrelwind is maar om uit hulle pad te bly. Jy kan nie altyd nie. As jy allergies vir stof en grasse is, is die rooi-oog-reaksie van jou liggaam en die klippertjies tussen jou tande (hopelik gesonde tande sonder kloppende gate) die snellerfaktor wat jou vir die volgende halfuur laat transformeer in 'n mens-wandelende warrelwind. Dan moet alles en almal uit jou pad bly totdat die antihistamine inskop en die tornado-gevoelentes in jou, stert tussen die bene laat verdwyn en jy weer soos 'n goeie mens kan liefhe en mooi woorde praat.
In my kort (amper) 42 jare van asemhaal op moederaarde het ek heelwat mens-wandelende warrelwinde gesien. Dit is asof hulle dit van nature is en nooit ophou om oral deur almal met wie hulle te doen kry se lewens vernietigend te stofsuig en net verwese en verlate klein dorpies agterlaat. Baie kere verras hierdie warrelwindmense jou van 'n blinde kant af en ander kere suig hulle jou stelselmatig, amper liefdevol en speels na binne. In beide gevalle is die gevolge nie net stoffies-klippies-grashalmpies oral in jou nie, maar eerder die dieper trauma van 'n 24/7 ongevalle eenheid. Ek sien om my heelwat mense wat op beddens in hierdie ongevalle eenhede le en wag dat alles heel moet word.
Die gevoel hier in my is nie die van vrees, bewondering en selfs respek nie, maar meesal die van terleurstelling, kwaad en 'n rolbos vol onchristelike gevoelentes. En dit moet ek en ek alleen hanteer.
Hoe dit ook al sy, ek probeer die warrelwind mense meesal vermy en gaan my eie antihistamine in my gatsak hou vir ingeval ek onverhoeds betrap word.
No comments:
Post a Comment