'n Anner vriend van my griffel ook op die wereldwye web so nou en dan. So ruk terug tokkel hy toe op 'n baie emosionele sentimentele snaar van menige mense. Dit was naamlik die dieperliggende heimwee van elkeen se eie verlangentes na die tye op die plaas. Dit is verskillende dinge. Die gerammel en kreune van die windpomp, die werfhoender se unieke geskrop en gekraai, die sonsopkoms en ondergang, die reuke van die huis en kombuis, die klanke en klanke daar van die bees en skaapkraal se kant af met die perde se gestoei, die beeste se gebulk en iewers 'n verlate lammetjie wat blerrend na sy ma in die trop soek. Die somtotaal van al hierdie gedagtes of selfs net een daarvan roep 'n vredevolle huistoe-kom, 'n welkom terug, 'n tuiste of enige van daardie huis-gevoelens wat jou weer na 'n mens-mens laat voel. Dis daardie unieke dinge wat in jou geheue so ingeprent is, dat huistoe wel plaastoe is. Of andersom, plaastoe is huistoe.
Die afgelope kort skole vakansie was weereens een van die talle saamwees tye (ek, Elise, Emme, Nehan en Henu) waar die plaas vir almal huis was. Die stap en ry in die veld, die koffie en hotchocolate drink in Boemsmanskraal se vervalle klipkraal, die ry van die nuwe bergpad en piekniek hou by die "fonteine", die bergklim tot heelbo op die kranse waar die wind jou na 'n witkruisarend laat voel, en dan ook ek en Nehan wat kilometers agter die paar wille springbokke aanloop en kruip. Twee keer was ons suksesvol met die bekwame hulp van myse geliefde in die getroue Condor. Die ram wat ek kon skiet was 'n langafstand gelukskoot. Maar dit was Nehan se eerste bok wat vir my uiters bevredigend was. Na dae se stap en beloer het ons so bietjie van die parmantige bokke se gedrag agtergekom en kon vanuit 'n sloot en agter 'n doringboom die onnadenkende (ha) en niksvermoedende troppie skelm inwag totdat Nehan met my .303 sy eerste (spring)bok, en 'n ram daarby, plattrek op ongeveer 80m (hy reken eerder 100m). Vir my was dit baie naby want die sprinkbokke vertrou geen beweging van enige soort en sukkel mens om nader as 400-500 meter van die "edelagtige spesie" te kom. Die meeste oggende se koffie op die stoep terwyl die son agter die Bamboesberge uitdans op die maat van die voels se klanke of saam met die wind se eentonige reelmaat om die hoeke van elke ding wat 'n hoek het, was en is tye van kyk en luister en dankbare woorde bid.
Die suide-wind en die pikswart karoo-bossies help mens onthou dat alles nie altyd lekker ruik en lyk op 'n plaas nie, die droogtes knyp aan alles wat asemhaal en groen wil wees. Die land se politiek en internasionale markte laat jou lyf pyn van die slapelose nagte. Jou kop sing van al die planne maak om die ekosisteem van elke hektar op die plaas 'n sinvolle finansiele en volhoubare bestaansruimte te maak. Tog is elke klippie en bossie en grassie en diertjie en wolk in die lug die plekke wat aan hoop geboorte gee en mens dieper laat asemhaal om die kombuis en krale te ruik en die plaasklanke beter te laat klink as enige stereo cd-speler. Hier op die plaas laat alles en almal jou gereeld stop om te kyk en te luister.
Daar is iewers ook 'n liedjie wat se dat "jou huis is waar jou hart is". My hart is 'n plaas.....
No comments:
Post a Comment