'n Klompie jare gelede het 'n vriend my gewys op die "gladrap"-effek wat met baie mense gebeur wanneer hulle Sondae by kerkgeboue se deure instap. Dit is 'n misterieuse oogwink-eensklaps ding wat hulle oorkom sodra mense (die meeste of eerder baie) hulle lywe deur die kerkdeur beur. Dis asof, so beskryf my vriend dit, daar 'n kleefplastiek oor mense se gesigte kom vir die res van die volgende uur (hang af hoe lank die armsalige dominee'tjie tog preek). Dit maak nie saak wat verder gebeur in die erediens nie (dis nou nie na die preek nie), mense wat die gladrap-effek oorgekom het se gesigte bly dieselfde. Die emosies bly monotonies tydens die liedere (wat na aan tranetrekker lokettreffers kan wees) en ook volledig "straight face" (asof hulle een of ander kaart-speletjie speel wat jy nooit Sondae mag gespeel het nie) tydens die prediker se beste oratoriese hoogtes en laagtes. Net wanneer 'n obskure ding gebeur, soos wanneer 'n by 'n kind steek die knaap een van sy pa (of ma) se geliefde woorde gebruik, sal die gladrap begin skeur onder die druk van alles wat wil uitkom. Nie net die emosies bly staties nie, maar ook die lywe. Die bewegings is beperk van niks tot 'n stywe opstaan en gaan sit (en moenie die styfgeit vergeet as die kollekte in gegooi word nie). Wat in mense se koppe aangaan (as mens nou holisties oor hierdie tipe konkoksie van inhibisies dink).....dit sal 'n geheim bly, maar gewoonlik verraai die helderheid of dofheid van die oe die tipe konneksies wat op daardie stadium in die brein plaasvind.
Wanneer die seen aan die einde van die diens uitgespreek word, is dit asof mense nadat hulle deur die deure uitstap, vrygespreek is van die gladrap-effek en kan hulle weer terugkeer na normaal. My vriend se opmerking is dan gewoonlik dat hierdie hele storie nie "real" is nie. Dit is 'n aangeplakte oor -en ingeoefende besigheid wat erg ontstellend ver verwyderd is van mense se dag vir dag spore trap en asemhaal buite die ruimtes van kerkgebou een keer vir een uur per week.
Dit het my baie laat dink, want ek is en was een van daai pedistallasie outjies daar voor wat deel is en was, wat dit moes meemaak en aanskou en sorg dat hierdie "heilige" gedoente binne 60 minute 'n einde moes kry. Dit het my ook uitgedaag oor hoe real en onaangeplak ek leef met myself, met God en mense. Ek het mettertyd ook verstaan dat hoe ek glo en my geloof saam ander (en ook alleen) uitleef, baie nou saamhang met hoe eg en geniune ek is.
Die geleerde boeke beskryf egtheid of "real" soos hy soms ook gepraat word in die gange as: nie nagemaak te wees nie; waaragtigheid, opregtheid, outentisiteit. Twee van die Bybel celebs, Paulus en Petrus verbind egte geloof met volharding en met hoop. Ek het al my eie lyf gevoel dat om real te wees, meer hoop (en Hoop) gee vir myself en ander mense as wat 'n kammagtige "gladrap" lewe doen.......
Een ding weet ek, as ek met 'n gladrap-effek leef, of dit in my kar is, voor die stoof, of in die kerkgeboue of by 'n eindstryd van 'n belangrike rugbywedstryd tussen die meesal kusbewoners, plaas dit druk op myself om meer te wees, iemand anders te wees as wat en wie ek is. Dan is ek toegerap met allerhande prentjies (afhangende van die situasie: kerk of braai) waarvan ek "bevry" moet word sodra ek deur die deure stap.
As my vriend van destyds se woorde ge-eggo word in die gange van my lewe, kry ek 'n dankbare glimlag oor die tye saam met hom en almal so real soos hy.
No comments:
Post a Comment