Ek sit Saterdagoggend langs die Huisrivier in die Swartberge. Die rivier stroomsnel met 'n dankbare vol maag verby. Die Berg is vandag vrygewig met die water. Dis asof elke blinkwit borrel oor die klippe hande klap saam met die lied "Alle volke klap julle hande en juig tot eer van God". Alle ander lewendiges in die omgewing eggo hierdie gevoel tot 'n groter danklied wat die atmosfeer in die lug met speelse verwondering volmaak. Dit voel of die voeltjies se sang helderder vroliker is en swaeltjies se swiep deur wolklose skoon lug nog blouer in die oggendson is as gewoonlik.
Dit het lekker gereen in die Klein Karoo. Die Katbosse het nog nie hulle bekende vars en verrassende reuk uitgestoot nie, en mens kan nie wag daarvoor nie. Die takkies en die grashalms slaan die tromme van die rivier se maag ritmies en sonder ophou. Elke rotsbank en groter klip laat swel die skoon bergwater totdat dit 'n soelende dieper opgewonde grom laat hoor.
Die klanke en prentjies wat gevorm word, word deel van dankbare drink van meer as net gewone water. Dit is daardie groter Dors (nie daardie waarvan hulle altyd in die pubs sing nie of langs vure oor spot nie) wat in-"sync" kom met die aardse skoonheid van die bergwater-lewe. Jy wil net drink en drink, want iewers kom mens agter dat jou hart 'n nuwe beter Ritme klop en jou woorde inperk tot oorgee en dankgesange.
No comments:
Post a Comment