Nadat ek terug gekom het van 'n kamp met ons (gemeente)Tieners, is van die eerste ontstellend-opgewonde nuus wat ek kry dat die honde (en by name veral ons ou gryse boerboel Nandi, 11 jaar in mense jare) een van die spikkelveer raasrasper aan gehelp om te tydelike met die ewige te verwissel. Die nuus is effe ontstellend omdat ons gewoond geraak het aan en sentimenteel-lief geword het vir hierdie 3 survivors van die buurt. Nou is daar net die twee finaliste oor in hierdie stryd om te oorleef in ons "gevaarlike" omgewing. Africa is a tough country. Die opgewonde kant van die nuus was oor ons Boerboel wat haar so jeugdig-jaghond hou. Sy voel seker verantwoordelik teenoor Tigger (die Labrador) om hom die fynere kunsies van 'n Alfa-hond in die erf aan te leer. Saterdagaand was volgens die familie-nuusberigte 'n redelike warboel van opgewondheid in die erf. Tigger het soos 'n waffers verlee leeumannetjie eenkant in die erf gesit en toekyk, terwyl Nandi in hondetaal in gesprek was met die afgestorwe raasrasper. Heelnag lank.
Of die twee werfbewoners my iets wou laat verstaan van te min vleis in hulle dieet, die weet ek nie. Maar voor die agterdeur het 'n perfekte ontveerde tarentaal gele. Kompleet (sonder daai kleurvolle kop) asof hulle wil laat weet, so lyk vleis. Eintlik dink ek nie dit is die rede nie. As jy 'n tarentaal moet opkook in 'n mens se kombuis, dan het die raasrasper blykbaar 'n sterk reuk en taaiheid wat met allerhande kombuismiddels tot 'n aanvaarbaarheid gedokter moet word. Omdat ons brakke dalk 'n verfynde smaak ontwikkel het, was dit miskien wat hulle verwag het: "'n goed opgekookte raasrasper met al daai lekker kombuisgeure by". Ek dink ook hulle hou nie van rou voels nie (die ontveerde eks-sanger van die buurt het twee lank onaangeraak net daar gele). Hulle hou net daarvan om dit te ontveer met perfeksie. Die volgende op die kirrukulum van Alfa-werfhond wat Nandi aan liewe Tigger moet leer, is die kursus "Vere-optel-202", want die erf se gedeelte waar hulle manewaleer, was gepluis met die spikkelvere. Gelukkig het die wind van die afgelope paar dae dit bymekaargehark iewers in 'n hoek.
Ek het 'n gespikkelde vermoede dat hierdie ontslape ontveerde raasraper die hoofsanger was, want dit is erg stil. Die reelmaat van die rasperklanke is gebreek (of is dit ontveer). Die twee ander lewende finaliste is in rou, so vermoed ek. Ek sal dalk iewers vandag 'n draai moet loop om aan hulle 'n paar menslike pastorale woorde te gaan uiter. Net dalk verstaan hulle my ek kan ek oor die natuur-grense heen ondersteuning bied.
Het jy my nou heerlik aan die lag ... :-)!
ReplyDeleteKarina seg jy moet dit instuur vir die Kerkbode se humor-afdeling ;-)! Ek het dit gepost op my fb - Ina Cooper se kommentaar: Uitstekend!
ReplyDeleteBaie oulik ek het ook nou lekker gelag en kon myself net indink hoe daai hond/e baljaar het.
ReplyDelete