Thursday, November 4, 2010

"Blues"

Ek is nie 'n aanhanger van die Idols-storie nie, maar baie mense om my het iewers die afgelope tyd wel hierdie realiteitsreeks in gesprekke geopper. Ook hulle openlike ondersteuning (of nie) van die Suid-Kaap aspirant en nou die wenner, naamlik ene Elvis Blue, was een van die belangrike sake wat aangeraak word. Hy lyk na 'n great ou met 'n mooi storie. Elvis se woorde in die Burger is onder andere, en ek haal aan: "Hy het gesê die eerste ding wat hy nou wil doen, is om sy vrou te sien"  laat skemer iets deur wat simptomaties is van 'n groot groep mense (ook mense met wie ek te doen kry en ander wat ek sien en hoor) se "toestande"  hierdie tyd van die jaar. Elvis verlang na sy vrou vir wie hy min gesien het in 'n baie besige en spanningsvolle tyd. Ek ken hom nie en het ook nog nie baie van hom gepraat nie so ek weet nie presies of ek sy media-aangehaalde woorde reg lees nie.
Maar hierdie tyd van die jaar skop daar by mense (dalk veralgemeen ek nou) hierdie groot verlange in na rustiger wees, na meer krag en energie, na 'n opgewekte gevoel wat dieper is as 'n post romantiese-komedie-fliek-emosie. Dit is in my kopwerk 'n ding wat ek die "vierde-kwartaal-blue(s)" begin noem. Ja dit is einde van die jaar en almal is opge"werk", die spanning loop hoog van alles wat moet klaarkom en ook reeds klaar moes gewees het en mense plaas druk op mekaar en op verhoudings. En iewers tussen al hierdie einde-van-die-jaar-tekere-ganery skop hierdie verlange na iets, na iets beters en rustiger in. Ek weet nie of dit die boesem van 'n moederfiguur is waarna almal verlang nie, maar dit is 'n verlange na iets. 'n Verlangente na ....om geliefd te wees en om selfwers so bietjie daarvan vrypostig mededeelsaam weg te gee. Die verlangente na 'n doodgewone mens-wees wat aanvaar voel en stadige spore trap. Dit is die blues(s) van uitgetapte energie wat al twee maande gelede leeggeloop het.

Hierdie blues is 'n gevaarlike ding, reken ekke. Want jy kan perspektief op jouself, ander en dinge verloor. Ek wonder sommer hier vroegoggend so met die platoniese geskreeu van die hadedas oor hoekom die winkels altyd so vroeg begin met hulle bemarking van kersfees. Ek weet hulle moet produkte verkoop. Maar dalk verstaan hulle die weerlose psige van mense hier teen die einde van jaar. Dalk het hulle agter die skerms ook 'n naam vir hierdie blues en het 'n 10 punt plan om dit te benut sodat hulle produkte al minder op die rakke kan word en ons kaste en stoorplekke al voller gekoop word. Die blues kan gevaarlik wees as jy 'n gewillige kredietkaart en ywerige bemarkings- behoefteskeppende foefies mekaar se paaie laat kruis.

Die lug is vanoggend blou oor die Outeniqua's (nie soos blues nie), die raasraspers is stil (net die hadedas wat by hulle oorgevat het) en mense begin met hulle oggendlewe. Maar ek verbeel my by baie huise met skoorstene, by oop vensters en motors wat aangeskakel word trek daar sulke blouerige walm-rokies uit, en ek is nie eers new age nie.
Die einde van die jaar het ons almal stewig in die palm van sy skurwe hand.

No comments:

Post a Comment