Monday, January 31, 2011

Stywe nekke en houdings

Jy stap vir die eerste keer met jou eerste span baadjie die pawiljoen af terwyl die hele skool stadig ritmies begin hande klap vir die 15 "diknek" spelers van die skool. Jy is effens skamerig maar sonder dat jy dit kan help word jou nek styf soos die ouens wat voorspeel en voorstap. Jy kan jou kop nie meer normaal loslittig draai wanneer iemand dalk jou naam uitroep nie (dis nou as hulle jou miskien herken, want jy lyk nou skielik anders) en jou oe is ook stywer in hulle kaste en daar is 'n harde-baard-erns frons tussen jou kykers. Jou arms swel weg van jou lyf en jy stap ook stywer met jou bene en besef in die emosie van die handgeklap vir geen oomblik dat jy  jare later lekker oor hierdie houding gaan lag nie. Maar dit is real en as jy nog nie toe al baard gehad het nie, het jou wangwitwolle pikswart in die son geskyn asof jy al vir jare skeer (niemand weet ook dat jy skelm jou pa se naskeermiddel steel as jy by die huis is nie en dat sy skeermeslemme nie wil vat op jou wanghare nie.....die is te sag en buig voor die dubbelle gillette-effek van die twee-ry-lemme). Maak nie saak nie, want van daardie oomblik is jou houding anders sonder dat jy besluit het (of het jy dalk).

Jy is in jou twintigs en het in die groter wereld jou diknek onwillig halfpad verloor, daar is ouens en vrouens met baie dikker nekke as jy. Jy loop ook meer gemaklik in jou eie spore, en die kyk in jou oe se silwerblouwolke het 'n donker rant. Werk is al skaarser en jy moet settle en allerhande skulde begin betaal.

In jou dertigs (wel 'n lekker tyd van mens se lewe) is jy so besig om te bestaan en die ritmes van 'n nuwe handeklap op te soek (die goedkeuring van jou base in die note van jou bankbalans) dat jy selfs dan nie eers jou houding bewonder of bevraagteken nie.

Iewers in jou veertigs, sien en beleef ek, besef jy jy het 'n keuse. Jy het jou eie woorde en menings en word vry om dit bekend te maak sonder om te veel oor die handeklap te wonder. As jou nek styf voel, moet jy dokter toe gaan vir 'n ernstig ondersoek, want die grootheid van die lewe het jou al met sagte-growwe hande losnek gemasseer (en dit gebeur nog steeds).

Party van ons het egter stywe nekke eers later in ons lewens gekry en dit het tot op hul oudag nooit weer losgeraak nie. Seker maar die rimatiek of iets. Party het stywe-nek-houdings van geboorte af omdat dit in hulle familie se genetika vasgeteel is. Ander hunker oordrewe na sulke nekke en besef nooit die skalkse spotlag van almal wat verby hulle leef nie.

Houdings is dieper in ons lywe as ons nekwerwels, ruggraat, arms en bene. Dit is die klop van jou hart, die waarde-grense van denke, dit is ook die ligtheid (of swaarheid) van jou spore hier op aarde, dit is die ruimte wat jy skep in jou saamwees met ander vir ander, dit is die maklikheid van jou lag en groet.

Ek dink tog.....die styfheid (dis nou die mediese geval nie) van jou nek en houding bly 'n keuse en iets waaroor ek myselwers harde dinksessies moet hou.......

Tuesday, January 11, 2011

Ratwerk van voorentoe en agtertoe

‘n Ruk terug het ek vertel van Oom Sambok (die Shangaan Veldwagter in die Kruger Wildtuin saam met wie ek daar langs die Olifantsrivier gestap het) se opmerking oor stappery:”Terug is ver en voorentoe is naby!”. Iets daarvan het ek ervaar, nie met stap nie, maar met ons geliefde Condor. Met Saterdag se aankoms op De Uitvlucht wil ek tru-ry om die waentjie te parkeer sodat ons kan aflaai. Die volgende oomblik, met die los van die koppelaar en versigtige voet op die brandstofpedaal, is dit ‘n geklak-klak, twee tree tru en toe ‘n gekrrrruuuu sonder enige beweging. Klink soos ‘n eend wat die hond se been ingeslurp het. Ek dog eers dis net ‘n misgisting (die Condor loop met ‘n maand oue nuwe koppelaarplaat en ‘n dag oue nuwe cv-joint), maar na ‘n paar probeerslae kom ek agter die ou Condie het ‘n iewers ‘n groot mistasting in sy ratwerk of is dit eerder sy gebit. Maar ek is nie seker wat dit is nie. Al wat ek weet is dat ek nie kan agtertoe beweeg sonder die gansbeengeklak nie. Alles agtertoe of terug voel meteens baie ver en tokkel my geduld se snare totdat dit breek (daaroor mag ek nie in die openbaar praat nie as gevolg van persoonlike redes). My geliefde vroulief se woorde word soos haastige swaeltjies wat verby my swiep sonder dat ek dit mooi kan behoor, selfs nie eers die beste gehoor-gedoentes sou kon help nie. My kop is te bewolk en die hare op my lyf staan alles reggop soos ‘n verweerde maanhaar-leeu in die droe lope van die Olifantsrivier se sytakke. Onheilswoorde spat deur my toegekettingde mond en hulle blitsgeslypte kante steek diep in alle vlees rondom my. Die bewolkheid in my kop maak my eintlik dofkop want toe die waentjie afgly teen die se kleinvoorste wieletjie en ek die swaargelaaide ding optel met die eenhand en die wiel se skroef met die ander hand vas maak (dit was eerder dom leeukop hand-bewegings) en toe ook sommer dit opdraend staanmaak op die regte plek, toe reageer my tussenribgespiertes en rugvleise op ‘n baie realistiese wyse. Saam met hierdie skiet-skeur-pyne slaan Oom Sambok se woorde soos reuse slagtande in my woeskop vas. Ek kon nie toe al daaroor glimlag nie, was of te kwaad of te trots……

Die pad gister terug George toe om die Condor se ratwerk te laat diagnoseer was ver, al het ek dit vinnig gery. Die diagnose, later gistermiddag, dat twee tande van die tru-rat nie meer met ons is nie, het die tyd tot nou toe ook ver gemaak. Hoe kan tyd ver wees? Ek sit hier in die huis en my vrou en kinders (en een hond) sit in die berge en ek wil by hulle wees en ook daar wees en nie met ‘n aftand Condor sit nie. As dit net vir tandestop was, sou ek seker al amper kon ry, maar daar moet nuwe tande ingeplant word. ‘n Hele desektering van die Condor se gebit. As alles klaar is, weet ek gaan die pad voorentoe lekker naby wees, want ek glo vir Oom Sambok, hy is ‘n wyse man wat deur die tyd en natuur geletter is.

Kersfees 2011 en Oujaar 2011 voel vir my heelwat naby, so byvoorbaat mooi wense en mag al die ratte mooi vat……