Jy stap vir die eerste keer met jou eerste span baadjie die pawiljoen af terwyl die hele skool stadig ritmies begin hande klap vir die 15 "diknek" spelers van die skool. Jy is effens skamerig maar sonder dat jy dit kan help word jou nek styf soos die ouens wat voorspeel en voorstap. Jy kan jou kop nie meer normaal loslittig draai wanneer iemand dalk jou naam uitroep nie (dis nou as hulle jou miskien herken, want jy lyk nou skielik anders) en jou oe is ook stywer in hulle kaste en daar is 'n harde-baard-erns frons tussen jou kykers. Jou arms swel weg van jou lyf en jy stap ook stywer met jou bene en besef in die emosie van die handgeklap vir geen oomblik dat jy jare later lekker oor hierdie houding gaan lag nie. Maar dit is real en as jy nog nie toe al baard gehad het nie, het jou wangwitwolle pikswart in die son geskyn asof jy al vir jare skeer (niemand weet ook dat jy skelm jou pa se naskeermiddel steel as jy by die huis is nie en dat sy skeermeslemme nie wil vat op jou wanghare nie.....die is te sag en buig voor die dubbelle gillette-effek van die twee-ry-lemme). Maak nie saak nie, want van daardie oomblik is jou houding anders sonder dat jy besluit het (of het jy dalk).
Jy is in jou twintigs en het in die groter wereld jou diknek onwillig halfpad verloor, daar is ouens en vrouens met baie dikker nekke as jy. Jy loop ook meer gemaklik in jou eie spore, en die kyk in jou oe se silwerblouwolke het 'n donker rant. Werk is al skaarser en jy moet settle en allerhande skulde begin betaal.
In jou dertigs (wel 'n lekker tyd van mens se lewe) is jy so besig om te bestaan en die ritmes van 'n nuwe handeklap op te soek (die goedkeuring van jou base in die note van jou bankbalans) dat jy selfs dan nie eers jou houding bewonder of bevraagteken nie.
Iewers in jou veertigs, sien en beleef ek, besef jy jy het 'n keuse. Jy het jou eie woorde en menings en word vry om dit bekend te maak sonder om te veel oor die handeklap te wonder. As jou nek styf voel, moet jy dokter toe gaan vir 'n ernstig ondersoek, want die grootheid van die lewe het jou al met sagte-growwe hande losnek gemasseer (en dit gebeur nog steeds).
Party van ons het egter stywe nekke eers later in ons lewens gekry en dit het tot op hul oudag nooit weer losgeraak nie. Seker maar die rimatiek of iets. Party het stywe-nek-houdings van geboorte af omdat dit in hulle familie se genetika vasgeteel is. Ander hunker oordrewe na sulke nekke en besef nooit die skalkse spotlag van almal wat verby hulle leef nie.
Houdings is dieper in ons lywe as ons nekwerwels, ruggraat, arms en bene. Dit is die klop van jou hart, die waarde-grense van denke, dit is ook die ligtheid (of swaarheid) van jou spore hier op aarde, dit is die ruimte wat jy skep in jou saamwees met ander vir ander, dit is die maklikheid van jou lag en groet.
Ek dink tog.....die styfheid (dis nou die mediese geval nie) van jou nek en houding bly 'n keuse en iets waaroor ek myselwers harde dinksessies moet hou.......
No comments:
Post a Comment