‘n Ruk terug het ek vertel van Oom Sambok (die Shangaan Veldwagter in die Kruger Wildtuin saam met wie ek daar langs die Olifantsrivier gestap het) se opmerking oor stappery:”Terug is ver en voorentoe is naby!”. Iets daarvan het ek ervaar, nie met stap nie, maar met ons geliefde Condor. Met Saterdag se aankoms op De Uitvlucht wil ek tru-ry om die waentjie te parkeer sodat ons kan aflaai. Die volgende oomblik, met die los van die koppelaar en versigtige voet op die brandstofpedaal, is dit ‘n geklak-klak, twee tree tru en toe ‘n gekrrrruuuu sonder enige beweging. Klink soos ‘n eend wat die hond se been ingeslurp het. Ek dog eers dis net ‘n misgisting (die Condor loop met ‘n maand oue nuwe koppelaarplaat en ‘n dag oue nuwe cv-joint), maar na ‘n paar probeerslae kom ek agter die ou Condie het ‘n iewers ‘n groot mistasting in sy ratwerk of is dit eerder sy gebit. Maar ek is nie seker wat dit is nie. Al wat ek weet is dat ek nie kan agtertoe beweeg sonder die gansbeengeklak nie. Alles agtertoe of terug voel meteens baie ver en tokkel my geduld se snare totdat dit breek (daaroor mag ek nie in die openbaar praat nie as gevolg van persoonlike redes). My geliefde vroulief se woorde word soos haastige swaeltjies wat verby my swiep sonder dat ek dit mooi kan behoor, selfs nie eers die beste gehoor-gedoentes sou kon help nie. My kop is te bewolk en die hare op my lyf staan alles reggop soos ‘n verweerde maanhaar-leeu in die droe lope van die Olifantsrivier se sytakke. Onheilswoorde spat deur my toegekettingde mond en hulle blitsgeslypte kante steek diep in alle vlees rondom my. Die bewolkheid in my kop maak my eintlik dofkop want toe die waentjie afgly teen die se kleinvoorste wieletjie en ek die swaargelaaide ding optel met die eenhand en die wiel se skroef met die ander hand vas maak (dit was eerder dom leeukop hand-bewegings) en toe ook sommer dit opdraend staanmaak op die regte plek, toe reageer my tussenribgespiertes en rugvleise op ‘n baie realistiese wyse. Saam met hierdie skiet-skeur-pyne slaan Oom Sambok se woorde soos reuse slagtande in my woeskop vas. Ek kon nie toe al daaroor glimlag nie, was of te kwaad of te trots……
Die pad gister terug George toe om die Condor se ratwerk te laat diagnoseer was ver, al het ek dit vinnig gery. Die diagnose, later gistermiddag, dat twee tande van die tru-rat nie meer met ons is nie, het die tyd tot nou toe ook ver gemaak. Hoe kan tyd ver wees? Ek sit hier in die huis en my vrou en kinders (en een hond) sit in die berge en ek wil by hulle wees en ook daar wees en nie met ‘n aftand Condor sit nie. As dit net vir tandestop was, sou ek seker al amper kon ry, maar daar moet nuwe tande ingeplant word. ‘n Hele desektering van die Condor se gebit. As alles klaar is, weet ek gaan die pad voorentoe lekker naby wees, want ek glo vir Oom Sambok, hy is ‘n wyse man wat deur die tyd en natuur geletter is.
Kersfees 2011 en Oujaar 2011 voel vir my heelwat naby, so byvoorbaat mooi wense en mag al die ratte mooi vat……
No comments:
Post a Comment