Friday, June 17, 2011

Hou vas daai stuurwiel

Die wind waai sy beste weste go van linksvoor af, die reendruppels sous die voorruit angstig vol blinkspatsels, die ruitveer se skoonvee-ritme is te vinnig om enigsins hopnoties in te werk op jou hartspier wat soos 'n rockshow bloedkook pomp en van vooraf storm 'n groot vragmotor soos 'n vooreeuse vuurspuwende draak in die middel van die pad reg op die piepklein rooigeskrikte Yaris af. Binne-in speel gesels my kinders rustig een of ander woord-speletjie en Elise kyk grootoog na my oor die sopraanagtige toon waarmee ek vuur terug spoeg na die helse 21ste eeuse draak met sy ronde rubber kloue wat gate uitruk uit enigiets wat onder hom beland. Met oopgesperde oe en witgekneukelde hande beklou ek die stuurwiel versugtig vir die res van die pad, op die uitkyk vir die groot blink oe van enige "vuurspuwende" gedierte.

As ek iewers in die VSA gewoon het sou ek waarskynlik vandag 'n dringende afspraak met my eie persoonlike sielkundige gemaak het en ook so gou moontlik die bose spoedvraat padvark-draak se eienaar gedagvaar het vir een of ander verlies van lewensin.

Maar nou, vanoggend, drink ek rustig dankbaar my eerste beker boeretroos(ryk en lekker) en hoor my vrou se salige inle oggend-asem.
Sent from my BlackBerry® wireless device

Monday, June 6, 2011

Dorsland

Soos wat koue fronte van binne en buite op my (en ons almal) inspeel, so is daar ook die grootse wye Dorsland-ervarings. Volgens oorleweringe het daar hardebaard mense van verskillende dele van Suid-Afrika in vorige vorige eeu, die pad gevat na iewers in Angola en toe die dorste vlaktes van onder andere Namibie met mening getref. Daar was groot swaarkry dorskry tye en is die Dorsland woord gemunt uit hulle koorstige droogmond wedervaringe. Volgens die gebede van 'n skaapwagter-kryger-koning in die Bybel is daar ook sulke groot dorstye in mens binneste wat die lewe laat uitstrek soos woestyn landskappe. Selfs dan en veral dan word jou lippe krakerig soos gebarste na-reen modderpoele en jou hart en denke 'n uitdroogde oordroog stuk biltong wat sy lus vir mooi lyk verloor het.

Met 'n sekere Liefdeskyk na mense om jou (en ook na jouselwers), sien mens die grootDors le barslip-vlak in almal se kiewe. Party van ons se dorsland is 'n dubbeldoor (buite-binne)-landskap. Maar dors is ons dors. Dis 'n groter dors as die na-nag dors van 'n groot partytjie. En omdat ons heeltyd soek na water om ons gebarste lewenslippe te salwe, word ons dag tot dag bestaan 'n soek-soek skattejag na die fontein wat selfs in droogtes die soetste water borrel.

Hoewel ons weet van 'n ander groter Koning-Herder wat vir almal in die Dorsland, die pad na die fontein van soetste ewige water wys, bly meeste van ons dorstig blindoog soek-soek deur die lewe gaan. As lipgebarste soeker sal ek altyd glo dat die Groter Dors van ons Dorsland-lewe vir altyd ons paaie met hierdie Herder-Koning kruis.
Daarom kan ek elke dag maar net bely, ek dors, ek soek, ek stap in Dorsland en elke oomblik drink ek dankbaar Water wat ekself nog nooit kon uitput uit 'n dorre aardkors bly.

Wednesday, June 1, 2011

Stywe vingers

Kleintyd daar oppi plaas en ook op skool het die koue weer 'n stywe invloed op mens lyf gehad. (Dit was toe erger as nou, omdat ons deesdae gehoor het van globale verwarming.....) Behalwe vir die stadiger bewegings van mens bene en 'n seker maak dat jy reg trap ('n geswikde enkel in die koue is nie lekker nie), het die lewe uit my vingerpunte altyd eerste ge-ysdood. O ja, my neus en ore se skurwe rooigeit het ook die tekens uitgegloei van die ysdood wat nes wil skop. Vir laasgenoemde was daar darem altyd die Ingram's room (vandag is daar meer as een soort).
Maar dit was in my "doodvoelers" waar die ys-typerk soos 'n pre-moderne planet earth toneel dramaties my vat kom beinvloed het. Soggens met ontbyt kon jy skaars die lepel voel tussen jou vingers en het die pap ook na niks geproe nie (seker maar 'n ys-smaak). In die klaskamer het jy moeilik die pen kon vashou en het dit gevoel of jy met elke nuwe sin, weer van voor moet leer om te skryf. Die ergste was om stadiger te hardloop en te probeer om die rugbybal normaal uit te gee. Ek was destyds skrumskakel en was dit van wedstryd-belang om die lewe in my vingers eerste terug te voel.
Dit was altyd pretterig om jou ysvingers teen iemand anders se warm lewendige nek af te druk. Dit was egter nie pret om aan die koue ontvangkant te wees nie.
Die kort en lank was dat die koue winterweer het van buite my "vatte" erg beinvloed. As ek nie my hande warm genoeg kon kry nie, was dit maar 'n dooierige ervaring aan die eindes van elke vinger en die sensors was dan op nul ge-ys.
Dit is ysig interessant om 'n anderse soortgelyke verskynsel by ons menslike spesie te sien. Hoewel die koue van buite veroorsaak dat ons, om warmer word, nader aan mekaar wil le, sit of staan, gebeur dit egter dat yswinde en kapokstorms in ons binneste ons juis verder van mekaar af dryf. Hierdie soort kouete loop deur jou hele lyf en die styfheid van jou koue vingers wat niks wil of kan raakvat of vasvat of iemand kan en wil aanraak nie, verwinter enige konneksie met ander. Dan pomp jou hartklop erge ysstorms uit na jou oe, deur jou woorde en maak die litte van jou vingers stokstyf. Hierdie winterritme van jou hart kan ook enige minuut van jou lewe na 'n ystydperk laat voel.
Koue kan ongemaklik, frustrerend en selfs gevaarlik wees, of dit van buite of van binne kom.