Kleintyd daar oppi plaas en ook op skool het die koue weer 'n stywe invloed op mens lyf gehad. (Dit was toe erger as nou, omdat ons deesdae gehoor het van globale verwarming.....) Behalwe vir die stadiger bewegings van mens bene en 'n seker maak dat jy reg trap ('n geswikde enkel in die koue is nie lekker nie), het die lewe uit my vingerpunte altyd eerste ge-ysdood. O ja, my neus en ore se skurwe rooigeit het ook die tekens uitgegloei van die ysdood wat nes wil skop. Vir laasgenoemde was daar darem altyd die Ingram's room (vandag is daar meer as een soort).
Maar dit was in my "doodvoelers" waar die ys-typerk soos 'n pre-moderne planet earth toneel dramaties my vat kom beinvloed het. Soggens met ontbyt kon jy skaars die lepel voel tussen jou vingers en het die pap ook na niks geproe nie (seker maar 'n ys-smaak). In die klaskamer het jy moeilik die pen kon vashou en het dit gevoel of jy met elke nuwe sin, weer van voor moet leer om te skryf. Die ergste was om stadiger te hardloop en te probeer om die rugbybal normaal uit te gee. Ek was destyds skrumskakel en was dit van wedstryd-belang om die lewe in my vingers eerste terug te voel.
Dit was altyd pretterig om jou ysvingers teen iemand anders se warm lewendige nek af te druk. Dit was egter nie pret om aan die koue ontvangkant te wees nie.
Die kort en lank was dat die koue winterweer het van buite my "vatte" erg beinvloed. As ek nie my hande warm genoeg kon kry nie, was dit maar 'n dooierige ervaring aan die eindes van elke vinger en die sensors was dan op nul ge-ys.
Dit is ysig interessant om 'n anderse soortgelyke verskynsel by ons menslike spesie te sien. Hoewel die koue van buite veroorsaak dat ons, om warmer word, nader aan mekaar wil le, sit of staan, gebeur dit egter dat yswinde en kapokstorms in ons binneste ons juis verder van mekaar af dryf. Hierdie soort kouete loop deur jou hele lyf en die styfheid van jou koue vingers wat niks wil of kan raakvat of vasvat of iemand kan en wil aanraak nie, verwinter enige konneksie met ander. Dan pomp jou hartklop erge ysstorms uit na jou oe, deur jou woorde en maak die litte van jou vingers stokstyf. Hierdie winterritme van jou hart kan ook enige minuut van jou lewe na 'n ystydperk laat voel.
Koue kan ongemaklik, frustrerend en selfs gevaarlik wees, of dit van buite of van binne kom.
No comments:
Post a Comment