Tuesday, April 27, 2010

Om ‘n seun genoem te word

Hier waar ek nou asemhaal, langs die waterstroom, onder die wilde perske begin ek ook weer verstaan dat om 'n seun genoem te word (Ps 2) 'n spesiale titel is. Dit is erfgenaam, deel van my, hier by my, familie. Dit roep na 'n spesiale eenkantgesitte verhouding wat heilig is. Dit is ook 'n plek of ruimte waarin jy veilig voel en skuilinggebied word voordat jy dit gretig vra en mens-mens kan wees en word. Dit is 'n rol en verantwoordelikheid wat as geskenk aan my gegee word deur God en nie deur mense nie of iets wat ek vir myself kan opeis nie. Dit is nie bedoel vir my om met halow's bokant my kop rond te loop en op egosentriese trips te gaan nie. Dit is ook nie 'n pak klere wat jy aan en uittrek wanneer die geleentheid reg is nie. Dit is 'n liefdesdaad van God aan my/ons, wat ons kan ontdek saam met elke brose asemteug. Dit is nie 'n boetman-plek nie, maar 'n waardige menswaardige leefspasie.

Ek besef vandag weer dat De Uitvlucht nie blote wegvlug van ander en plekke is nie, maar eerder 'n oomblik se eenkant toe staan is. Toe Jesus sy alleentye gehad het, was dit om te bid, met God te praat eenkant toe te skuif vir spesiale heilige oomblikke (my afleiding). As ek mooi dink wou ek oor my hele lewe nooit regtig vlug nie (behalwe by troues en partytjies waar die musiek so hard is dat jy nie jou eie gedagtes kan lees en jou eie hees-stem hoor nie, wat nog te sê van die mense met wie jy gesels). Ek het gereeld die dringende behoefte om eenkant toe te staan (vermoedelik omdat ek een of ander persoonlikheidsvoorkeur en dalk 'n klein bietjie sukkel met gedragsafwykings) om net te kan hoor en sien (in stillerige niemand-oomblikke). As ek ook eerlik is, was daar al baie sulke tye, maar deur die jare moet ek elke keer weer leer om my eenkanttyd beter te gebruik. Nou weet ek dit en kan ek weer verstaan wat ek al dofweg vergeet het of sommer net aanvaar as iets wat maar so is en moet wees soos die waterstroom wat hier geduldig sy plek tussen die berg se tone het. Ek weet ek is seun/kind en word nie bepaal deur sosiale rangordes en kerklike en religieuse instansies nie, maar deur God, die Koning van die Psalmdigter wat die lied lankgelede gesing het vir al die nasies om te hoor. Ek weet dit al die tyd, maar vandag is dit weer duidelik want ek kon myself weer oopstap deur die berg-op verby die suikerbekkies en jangroentjies se lofgedigte in die proteahange en kon sien hoe die kranse blinkwater lek na die klowe en ek kon die bosvark se lêplek sien en hulle voetpaadjies spelerig volg (ook die koedoes s'n). Daar waar niemand anders is, behalwe by die plante en diere en voels was en is ek broer (ook hier onder die boom). In die diere se spore het ek seun gevoel, bevoorreg om mens-skepsel te wees. Ek moet wel bysê, daar moes verseker ook slange en ander goggonjorras gewees het, maar ek het versigtig getrap en gereed vir 'n skielike gesisbrom van een of ander adder of die koue kyk van 'n kobra. Maar ook hulle sal my laat verstaan wat my plek is.

Friday, April 23, 2010

Soos 'n boom by waterstrome

Ek lees vanoggend Psalm 1. Dis weereens so vars oorbekend, net soos die bergwater wat koud verby die wildeperkses, die taaibosse, die olienhoute en al die ander wat ek nog nie ken nie, rustig kabbel. Die water het gestyg na die lekker reën van gister en is dit ‘n sterker stroom wat boodskappe van hoop en lewe bring. Ek lees ook ‘n stuk van ene dr. James van Standford oor die doop (die doop het mos met water uit te waai). Die doop-issue het ook op Hofmeyr weereens wortel geskiet met al die Queenstown-strominge en in hierdie dokter se geskrifte vind die dopelinge hulle rus en woorde vir hulle reddingservarings. Dit is seker goed so. Ons buurman daar is onrustig oor al die aantuigings van die “regte dopers” en hy soek rus.
Ek is net self onrustig (as ek te lank na die kabbel van waterstrome, of dit riviere of branders by die see is, dan word iets weer onrustig) oor die aansprake wat ons almal maak in ons oordink van die Woord. Ek hoor die digter praat van dag en nag oordink. Maar ek dink ons verstaan nie wat hy bedoel nie. Ons (suigeling-dopers, weer-dopers, bekeringsdopers en selfs die gewoonte-dopers) dink oor die Woord, lank en aanmekaar. Dan gebeur daar iewers ‘n snaakse ding, die Woord word ons woorde, ons prentjies, ons beelde en ons lewe. Tog lyk dit vir my of dit nog snaakser en hartseerder kan raak as ons woorde en al daai goed, uiteindelik Die Woord raak wat vorm gee aan die woorde wat God gegee het om ons te vorm. Dan raak dit ‘n gevaarlike gemors (soms is sommige gemors wel goeterig, want ons kan mos recycle) wat mense uitmekaar jaag, verhoudings doodsteek, woorde vergiftig en vertroue ‘n familie-skandaal maak. En dit is nie die tweesnydende Swaard nie. En dit is nie vervolging van God se kinders nie (hieroor sal graag woorde wil mors oor ons soms masochistiese soeke en oordrewe begeerte om enige vervolging uit te snuffel sodat ons tog net as stryders en martelare onthou kan word, maar ek het klaar woorde gemors).
Ons dink elkeen ons het die waarheid beet, dalk het ons. Is dit nie dalk dat God se Waarheid ons moet beetkry nie. Dit maak ons nederig, liefdevol teenoor almal (nie net hulle wat soos ons is en dink en lyk en ruik en ryk en bly nie). Die Waarheid gee ons plek en menswaardigheid en laat ons luister en versigtig woorde kies. Die Waarheid omvorm ons om op te staan vir liefde, reg en geregtigheid, vir die weerloses, vergifnis, vir vrede en diensbaar te leef. As ons die waarheid beetkry en ons woorde is die “Woord” dan dink ons ons is magtige name wat nuwe grense stel en mure bou waarbinne en waarbuite ander moet en kan wees. Ons woorde is harder en dit kom voor of ons weet waarvan ons praat, want sien ons oordink mos die woord.
Ek kan mos nie die woord wees nie. Die Woord het wel mensgeword en onder ons kom woon. Nie om mense te laat doop nie, maar God se hart te wys en ons harte oop te maak vir God en ander (selfs vir onsself). Jesus Christus het die Koninkryk van God kom vestig nie om nuwe rituele te vestig nie (ek weet ons as mense het dit nodig om tog maar sin te maak van ervarings en gedagtes), maar onder andere om vrede te bring, reg en geregtigheid onder ons weer te laat leef en ons God se wil te laat doen (dit is omsien na die weerloses, so hoor ek Miga 6 en Matt 25).
Hier by die rivier, voel dit vir my, kan ek net groei en rus, nie as ek en ons met dogmatiese-tegniese-interpretasie-stryd-bekers God se water wil skep nie, maar met dapper-eenvoud-waagmoed die koue vars bergwaterstroom indrink (nie as besprinkelde of onderdompelde woordgeworde mens nie) en voluit kind van God (nuwe kinders van Abraham, gelowiges, christene, liggaam van Christus en nie wedergebore-christen of selfs wedergedoopte nie) kan wees. Hier langs die waterstroom staan sommige bome in die water, ander langs-effens in die water en ander so ent of wat weg. Maar almal is ‘n boom by die waterstrome. Dit is die regte plek om te wees en op die regte tyd gee hierdie bome vrugte.
(Let wel: hierdie woorde is ‘n mens-man-kind van God se woorde oor God se Woord en daarom is daar ook iewers agter elke letter, komma, punt, dubbelpunt en hakie ‘n dogmatiese-tegniese-interpretasie)

Thursday, April 22, 2010

Dit reen in die Klein-Karoo

Iewers vroeg donkeroggend het dit begin natmaak en het die klap van druppels op sinkplaatdak die dag gegroet. Die wind stuur koue rillings deur die ribbekaste van die Swartberge en maak my diepste sielsbestaan vars wakker om oop-oog God se genade-ruimtes op te neem en stadig dankbaar asem te haal om nie meer as my reeds getrapte mensspoor die balans verder te versteur nie.
Tog weet ek en ons pas en hoort hier, maar ons hoort versigtig en sag hier. Nie met ‘n die-lewe-skuld-my-dit houding nie.
Ek bly vir die volgende paar dae in die shack op die De Uitvlucht. Vanoggend voel ek net dankbaar en soek in myself na ‘n kreatiewe selfvertroue om lyne te trek en aan vorms en kleure sinvolle estetika te gee op wit papier. Dit is die vensters van my soeke en behoefte na groei in die volgende 5 weke om skeppend besig te wees en so in te gaan in ooptes waarin ek kan sin maak van die plek en tyd waarin ek nou saamleef met geliefdes, bekendes, onbekendes, met die geskepde werklikheid en weer God kan ontdek as die groot liefde in my lewe. Dit is wat ek hier moet begin ontdek onder die wilde perskeboom, om konneksies te maak in alle verhoudings, gedagtes en maniere van doen. Ek is geskepde, skeppende, man, mens, pa en vriend.....

Wednesday, April 21, 2010

As die bome ander skaduwees gooi

Die tyd op die plaas in Hofmeyr onder die Soetdorings was 'n goeie rustyd en inasem van Karoo-lug saam met Elise se broer en sy gesin. Soos elke dag, het hierdie tyd verby gevlieg en die bome gou lang skaduwees gegooi. Net teen die einde moes ek die tuk-tuk-tuk van 'n droe Condor cv-joint hoor en is my fietsrit terug in die wiele gery. Met 'n gelapte CV-joint is ek toe maar saam Eise en ons kroos op die pad terug na George sonder om die fiets se voorwiel ooit vas te skroef. Al die voorbereidings, leen van fiets-saalsakke, gepak en roetes uitwerk moet nou plek maak vir rustyd, dinktyd, leestyd en bidtyd onder De Uitvlugt se Wildeperske boom. Ek weet dat ook hierdie aanpassing in my eie beplannings sal uitwerk soos God dit wil en vir ewig die moeite werd wees. Tot later dan, wanneer ek vinnig weer ons voortuin-akkerboom se koel George skadu sal voel.

Wednesday, April 14, 2010

Van kokospalms tot jakkalsbessies

Mossieland vowl ver terug. Die land het veel meer vir ons gegee as wat ons tot nou bewustelik geabsorbeer het. Daar was veel meer as die deesdae skaars glimlagte van Mossieland se mense. Die land groei en ontwikkel en mens sien baie skole, maar ook baie meer agterdogtige harde oe. Ons tye onder die kokosneutpalms (Morrungulo en Paindane) was tye van ontspan, swem, snorkel met 'n akwarium-gevoel en nuwe prentjies saam-teken van asemhaal en speel en leef in God se gasvrye ruimtes.
Nou hier onder 'n jakkelsbessie inni Krugerpark geniet ons elke dier saam met die uitdaging om Nehan, maar veral Henu gefokus te hou as daar nie veel diere langs die pad te sien is nie. Vanoggend, die laaste voor ons more Hofmeyr toe ry, sing die voels oggendhelder. Die bospatryse probeer om een of ander rede almal doodskree...op hul eie noot en so hard as moontlik, ietwat uit sync met die subtiele harmonie van die res.

Monday, April 5, 2010

laaste dag onder Matola mangoboom



Die kinders speel die doodsnikke van die tyd hier stil met alle oortollige energie beskikbaar. Elise en Emme het eers n 'n laaste keer help kosgee, ek het 'n deurknip probeer opfix en ons het klaargepak....reg vir ons Mozzi-vakansie journey. More-oggend vertrek ons vroeg na Morrungulo vir tent onder palm en koko's neutbome en al daai lekkerfinge....en dalk opsoek na 'n oomblik onder 'n baobab.

Sunday, April 4, 2010

Dis Paasfees...ook onder die boom


Ek en Nehan het saam Pieter en Pascal en 'n klompie Mosambiekers Huiskerk en Nagmaal gehou, Elise-hulle saam met Rika 'n kort Paasfees-aktiwiteit met die Huis-kidz.Die volwassenes was/is honger vir kennis van die Woord. Dis 'n lang pad om te stap vir almal hier.

Orals buite meng die Sondag-klanke van doopfeeste, bierfeeste op die ritme van hiphop en Latino-African voor en agterplaas musiek... Die seuns se daaglikse straatsokker word vandag nog meer aangevuur deur hierdie Afrika rustigheid.

Saturday, April 3, 2010

Goeie Vrydag en rustriger


Elise werk nogal, sy speel baie met die kinders, was skottelgoed, vee hier en gesels daar. Emme spandeer ok redelik tyd met die kids en Nehan en Henu hou die Boersma's se seuns besig.
Gister was rustiger met baie rugby-kyk en vandag was ons by Maputo se kunsmark.
Vanmiddag kom groet twee Hollandse jongens, Mike em Mirjam, wat 6 maande hier saam Youth for Christ gewerk het, met 'n kinderpartytjie. Hoewel ek nie die kids se dagroetines betrokke is, kruip hulle so stadig maar seker onder my vel in. Kinders wat nie gekies het of geroep het om hier te wees nie maar dorstig roep vra na aandag en lewe.

Friday, April 2, 2010

Dit reen



Dit het reeds twee keer gereen terwyl ons hier in Matola is.Saam met die verligting word 'n nuwe leerskare van muskiete uitgebroe. Elise spot dat ek banger vir muskiete as vie slange en leeus is. Wel nie een can laasgenoemde het al so baie van my bloed geproe nie. hier is so paar Mozzieland oomblikke.....

Thursday, April 1, 2010

Die son staan stil, selfs onder 'n boom

Daar moes 'n paar goed gebeur vandag...onder die boom...maar alles het nie. Nehan het met die tydsraamwerke van Afrika (se son) te doen gekry toe hy en Pascal kom help verf het by Huis 2. Om alles gereed te kry (rollers en nog goed te koop by die "hardeware mark") om 'n relatief klein area te verf, het ongeveer 3ure geneem met die hulp van Lois, die eks-straatkind, nou die "adjudante", self opgelegde sosiale werker,passievolle jeugwerker en skerp humoreerder wat die afgelope 5jaar by Pieter hulle bly. Nog 'n dag wat lank gaan vat om te verteer. Die hitte en humiditeit sorg saam met minimale bewegings vir liters sweet wat ek onvrywillig skenk aan moeder Afrika. Alle inspanning hier, tussen weggooi kinders, meesal nog te klein om 'n toekoms te droom, is wel vrywillig maar jaag ons almal aan oor grense om ons, om nie maklik weer dieselfde te wees nie. Hier onder die boom sweet ek dankie-woorde en stukkende pleitgebede vir hierdie 28 Mosambiekertjies wat in hierdie 2huise, met God se warm liefdesasem groot-oog grootword. Selfs, vir hulle bly die Son van God se genade die koelte van 'n mangoboom in die agterplaas.