Hier waar ek nou asemhaal, langs die waterstroom, onder die wilde perske begin ek ook weer verstaan dat om 'n seun genoem te word (Ps 2) 'n spesiale titel is. Dit is erfgenaam, deel van my, hier by my, familie. Dit roep na 'n spesiale eenkantgesitte verhouding wat heilig is. Dit is ook 'n plek of ruimte waarin jy veilig voel en skuilinggebied word voordat jy dit gretig vra en mens-mens kan wees en word. Dit is 'n rol en verantwoordelikheid wat as geskenk aan my gegee word deur God en nie deur mense nie of iets wat ek vir myself kan opeis nie. Dit is nie bedoel vir my om met halow's bokant my kop rond te loop en op egosentriese trips te gaan nie. Dit is ook nie 'n pak klere wat jy aan en uittrek wanneer die geleentheid reg is nie. Dit is 'n liefdesdaad van God aan my/ons, wat ons kan ontdek saam met elke brose asemteug. Dit is nie 'n boetman-plek nie, maar 'n waardige menswaardige leefspasie.
Ek besef vandag weer dat De Uitvlucht nie blote wegvlug van ander en plekke is nie, maar eerder 'n oomblik se eenkant toe staan is. Toe Jesus sy alleentye gehad het, was dit om te bid, met God te praat eenkant toe te skuif vir spesiale heilige oomblikke (my afleiding). As ek mooi dink wou ek oor my hele lewe nooit regtig vlug nie (behalwe by troues en partytjies waar die musiek so hard is dat jy nie jou eie gedagtes kan lees en jou eie hees-stem hoor nie, wat nog te sê van die mense met wie jy gesels). Ek het gereeld die dringende behoefte om eenkant toe te staan (vermoedelik omdat ek een of ander persoonlikheidsvoorkeur en dalk 'n klein bietjie sukkel met gedragsafwykings) om net te kan hoor en sien (in stillerige niemand-oomblikke). As ek ook eerlik is, was daar al baie sulke tye, maar deur die jare moet ek elke keer weer leer om my eenkanttyd beter te gebruik. Nou weet ek dit en kan ek weer verstaan wat ek al dofweg vergeet het of sommer net aanvaar as iets wat maar so is en moet wees soos die waterstroom wat hier geduldig sy plek tussen die berg se tone het. Ek weet ek is seun/kind en word nie bepaal deur sosiale rangordes en kerklike en religieuse instansies nie, maar deur God, die Koning van die Psalmdigter wat die lied lankgelede gesing het vir al die nasies om te hoor. Ek weet dit al die tyd, maar vandag is dit weer duidelik want ek kon myself weer oopstap deur die berg-op verby die suikerbekkies en jangroentjies se lofgedigte in die proteahange en kon sien hoe die kranse blinkwater lek na die klowe en ek kon die bosvark se lêplek sien en hulle voetpaadjies spelerig volg (ook die koedoes s'n). Daar waar niemand anders is, behalwe by die plante en diere en voels was en is ek broer (ook hier onder die boom). In die diere se spore het ek seun gevoel, bevoorreg om mens-skepsel te wees. Ek moet wel bysê, daar moes verseker ook slange en ander goggonjorras gewees het, maar ek het versigtig getrap en gereed vir 'n skielike gesisbrom van een of ander adder of die koue kyk van 'n kobra. Maar ook hulle sal my laat verstaan wat my plek is.
Welkom by Gedragsafwykings-Anoniem, Cornie - ek's ook lid ;-)!
ReplyDeletehttp://metdiemaangepla.blogspot.com/
ReplyDeletebliksem julle mense ly aan slaapafwykings
ReplyDeleteoukei ek sien die spot se horolosie is ook op langverlof
ReplyDeleteEk is bly jy het die opgemerk dat tye nie is soos wat dit veronderstel is om te wees nie. Vat nou maar hoe ons een buurstaat maak en wat 'n sekere jeugou in hierdie tye sing oor ander mense.....
ReplyDelete