Die skuif van onder die bome, by die berge, in die vlaktes en tussen die klowe na die see is soort van 'n aanpassing. In die eerste plek, hier is nie bome nie. Behalwe vir so paar uitheemse Manatoke wat iewers in goedbedoelde oomblikke deur een of ander voorsaad aanplant is, is hier net duinbosse (ek sal hulle name nog uitvind). Verder is dit die see. Die huis dwing jou om see toe te kyk. Dis bo-op die eerste duin met 'n vry kyk na die groot blou dam.
Behalwe dat see en berge niks fisies, wat looks betref, in gemeen het nie, het hulle alles met mekaar in gemeen. Elke dag verander hulle kleur en dimensies. Die lug daarbo verander van potblou na dofvaal en wasig. Ek het my kinders groot gemaak met die idee dat God elke dag nuwe kleure op die berge skilder, want Hy is die groot Kunstenaar. Ek moes slimgenoeg gewees het om hulle dit ook van die see te leer, ek het nie, maar nou kan ek. Elke dag sal ek wag op die Dagligkwas-kleuremengsel. So die aanpassing is om nie onder boomskaduwees te wag nie, maar nuwe prentjies in te wag op die sandduin. Tweedens, dit gaan my langste see-vakansie wees waarvan ek bewus is. In die derde plek gaan ek rus moet vind in die gedruis van die branders. Ek het al genoem dat rivierstrome en branders se gedruis my na 'n tyd onrustig maak. My eie poging om hierdie rare verskynsel in my te verklaar is waarskynlik soos volg: na 'n oënskynlike rustig-word-tyd, begin die gedruis van die water konnek met die rapids en dumpers iewers dieper in my as wat ek kan dink. Die sielsenergie wat met hierdie konneksie losgeskommel word maak dat jy soek en kyk, maar nie meer kan luister nie. Die som hiervan is 'n gevoel van onrustigheid wat jou laat loop na 'n ander soort stilte.
Toe ek vanoggend hieroor dink, wat ek gaan doen met die stereo-gedruis, besef ek my kop gaan moet verander. Die kuns is seker om die gedruis van die water en die gedruis van die nog-nie-gedinkte-gedagtes of innerlike onbewuste onstuimige geklots met mekaar te laat sinkroniseer. Dit is so dat in die ou tye die see die onbekende, gevare, monsters, die woonplek van die onsedelike vrou en die dier verteenwoordig het. Maar dit is ook so dat die see 'n kreatiewe uitdrukking is van God wat chaos in 'n ordelike bestaansruimte verander. Ek dink ook dit is hoekom die digters en liedjieboere van die Bybel die see en alles daarin (saam met 'n spul ander goed) oproep om God se naam groot te maak. Ek dink dus dat my ding met die gedruis so moet werk: ek moet verstaan dat ek God se kreatiewe ritme hier op die duin moet hoor. Daar is 'n loflied wat ek moet hoor, dis nie net berge en klowe en riviere wat kan sing nie. Die see doen dit al van die begin af, maar ek kon nog nooit lankgenoeg luister om die lied te hoor en end-uit saam te sing nie. Nou weet ek moet en moet op die kleure wat God in die daglig bring 'n melodie soek en begin sing.....
1 Kron 16:32Die see en alles daarin
moet druis,
die veld en alles daarop
moet jubel,
33die bome in die bos
moet hulle verheug
voor die Here, want Hy kom
om oor die aarde te heers.
No comments:
Post a Comment