Monday, May 31, 2010

Daar waar dit saak maak

Die afgelope vier weke was een van my tydverdryf-groei-momente om met die kwas, verf en doek te speel. Vir my was dit 'n grootse ervaring om oor die grense van my eie vrees te kom om te waag om nie net met lyne nie, maar ook met kleure 'n perspektief op die werklikheid te bied. In my geval is dit nie noodwendig 'n perspektief nie, maar my enigste perspektief gegewe my vaardigheid met die kwas, potensiaal met lyne en kennis van kleure. Noem dit sommer in geheel 'n gebrek aan (betaalbare) kreatiwiteit en kunstigheid. Daar is seker wel iets daarvan in my gene, maar hoe dit refleksie op die doek kry is nie noodwendig 'n esteties aangename ervaring (vir almal wat oor hulle hart kry om daarna te loer) nie. Wat wel saak maak, so hoor ek by almal wat al iewers na ander regte kunstenaars se skilderye gekyk en al gekoop het (sommige meen nogal dat hulself meer as die gemiddelde Jan van Alberton weet wat goeie kuns is), is dat dit gaan oor wat vir jouself mooi en aangenaam is. Dit bepaal die waarde daarvan vir jou en as jy dus lus is en die regte bankbalans het bereid om is om 'n prys te betaal. So het my "kunskenner-kinders" al vir my eerlik gesê dat ek nie regtig mooi kan teken nie en dat my kuns ook nie hulle smaak is nie. Hulle opmerkings het wel die testament-kwessie opgelos dat ek hulle nie een doodsdag sal belas met een van my "kunsstukke" nie. Van Gogh het wel net een of twee skilderye in sy eie leeftyd verkoop maar het die uitgangspunt gehad dat hy plesier sal hê as die arm plattelandse mense wat geen ander kuns kan bekostig nie, wel van sy werke op hulle mure sal kan hê om die vaalbestaan op te kikker. Of my skeppings enige opkikker-waarde het is te betwyfel. Wat saak maak is dat ek dit doen en terwyl ek dit doen ek meer as net 'n hedonistiese ervaring het. Dit is vir my 'n hartsaak. Ek klim binne in die oomblik, word meegevoer op 'n medeskeppende reistog om 'n liefdestorie te vorm van ou en nuwe prentjies. Indien ek ou prentjies gebruik soos 'n foto van kind of van berge, dan moet die storie herleefbaar wees. Dis nie net die neerplak van verf op 'n doek of karton nie, maar deurvloei van my hartklop in elke bewerige lyn en kleur. Ek moet die kind weer sien lag en die wind deur die kloof hoor waai. As dit gebeur, dan weet ek, dit is waar dit saak maak.

As jou mening en perspektief die heeldag afhang van ander mense se grille en dinge, dan gaan jy sukkel. Daarom is dit dalk nodig vir my om soms 'n tree of tien terug te staan en die Genisis 1 vertolking te doen: na elke "dag" se skeppery te kyk en te sê: Dit is goed! So bevestig ek die saakmaak-plek. Ek moet (imperatief bedoel) eers self sinvolheid beleef in myself, met myself, met God, met ander en met die skepping waarop ek leef, voordat ek kan toelaat dat ander my bepaal. Ek kan nie op die positiewe of negatiewe bydraes van ander teer om my lewe te leef nie. Dan word ek geleef en is ek heeltyd afhanklik van hulle menings en teenwoordigheid.

Ek gaan nie onder die boom uitkom nie of van die duin afklim nie, maar 'n harde poging aanwend om mense saam met my onder die Boom en op die Duin te laat leef. Ek wil graag met my kwaste in die hand die kuns van die lewe bemeester solank ek lewe. Twee maande langverlof is te kort daarvoor. Ek wil steeds groei, want anders sterf ek. Ek sien uit na nuwe bome en duine en nuwe weergawes van God se song in die klowe, bergstrome en branders.

1 comment:

  1. Kollega, ek wil saam met jou onder die Boom en op die Duin leef. Dankie vir jou vriendskap! En op hierdie gaan ek jou quote: "Ek wil graag met my kwaste in die hand die kuns van die lewe bemeester solank ek lewe."

    ReplyDelete