Twee weke terug het ek die eerste keer vir Nehan en Henu vir visvang of hengel gevat. Sies,! Kan iemand dalk uitskree, Henu is al 8. Ek weet ek weet. Behalwe vir die 7 stokvisse eenkeer van 'n boot in die diepsee, het ekself nog net 2 kolsterte gevang. Dan is dit oor die lewenspan van my amper 42 jaar. Ek het vroeer in my lewe die hunkering om die "grote" te vang, vaarwel toegeroep. Die grote het nie eers kans gehad om weg te kom nie, die vrekselse vis het nooit gebyt en my 'n kans gegee om vir ewig deel van hierdie sport bedryf te word en jaarliks my gereedskap op te gradeer nie. Vir die afgelope paar weke het ek soos die getye draai, 'n paar wanhopige pogings aangewend en nog net een aand 10:30 se kant 'n brawe seebaber gevang. Ek kan twee afleidings maak: die eerste is 'n hooplose een dat 'n hengelaar/visserpersoon wat sy of haar sout werd is baie tyd langs die viswaters spandeer en net wanneer alles in jou guns is, dan sal daar iets byt wat jy kon haak. Die meeste ouens wat hier voor die duin visvang lyk na ervare manne (gelees aan die gereedskap wat hulle saamdra), maar ek het in die oomblikke wat ek hulle fyn dopgehou het (om te leer en groei) nog net twee visse gesien wat uitgekom het ('n elf en een of ander platbekhaai wat seker 'n sandhaai heet). Óf hier is nie baie vis nie (die weer, die water ens) of visvang is 'n geduldige sport wat jou so nou en dan beloon. Die tweede afleiding is dat ek vorder in die sport. My linie van vissoorte groei. Ek moet net aanhou (soos die tyd dit toelaat) en my toerusting opgradeer (soos dit ons begroting pas) en aanhou. Ek moet leer om die weer, die water se temperatuur en kleur, die gate, die visse se gedrag te lees en ........ groei. Iewers gaan ek die grote kap.
Hoewel hierdie vir my die werklikheid van my visvang/hengel-lewe is, het dit ook nou 'n metafoor geword in my en ons saamstap met God en met mekaar. Vir my is daar erg ontstellende lewensperspektiewe wat hieruit kan groei. Soos, dat my verrassende ongeduld (dis asof die gedruis van die branders my met 'n pap snoek, wat nie hier voorkom nie, deur die gesig slaan en sê ek moet kyk, diep kyk in die spieël hierbinne my). Ek behoort rustiger saam met die lied van die branders te sing, soms glad nie sing nie en net luister, kyk en stadig my toon ritmies tap.........
Dis meer as net 'n visser-van-mense metafoor wat met een of ander evangelisasie-metodiek ge-net kan word. Dit gaan vir my oor 'n lewenshouding waarin ek passievol inklim in dit waarmee ek besig is en besig behoort te wees. Vra enige van daai ervare visserpersone/hengelaars met al die toerusting om 'n visvang storie te vertel of gaan staan iewer naby as hulle besig is met die sport. Die is 'n werêld vol passie, energie, afwagting en 'n kyk in die oë wat lewe. Die inklim is nie as 'n blamerende fluitjie-blasende toeskouer nie, wat skynbaar (klem op die skyn) alles weet nie. Eerder 'n deelnemer, aktiewe skepsel (spelskepper) wat my plek verstaan (Ps 8) wat intens besig is om vaardighede goed aan te leer om die sport van die lewe goed te doen. Die beloning is nie noodwendig die grote nie, maar dat ek nou besig is om voluit te leef.
No comments:
Post a Comment