Iewers vroeg donkeroggend het dit begin natmaak en het die klap van druppels op sinkplaatdak die dag gegroet. Die wind stuur koue rillings deur die ribbekaste van die Swartberge en maak my diepste sielsbestaan vars wakker om oop-oog God se genade-ruimtes op te neem en stadig dankbaar asem te haal om nie meer as my reeds getrapte mensspoor die balans verder te versteur nie.
Tog weet ek en ons pas en hoort hier, maar ons hoort versigtig en sag hier. Nie met ‘n die-lewe-skuld-my-dit houding nie.
Ek bly vir die volgende paar dae in die shack op die De Uitvlucht. Vanoggend voel ek net dankbaar en soek in myself na ‘n kreatiewe selfvertroue om lyne te trek en aan vorms en kleure sinvolle estetika te gee op wit papier. Dit is die vensters van my soeke en behoefte na groei in die volgende 5 weke om skeppend besig te wees en so in te gaan in ooptes waarin ek kan sin maak van die plek en tyd waarin ek nou saamleef met geliefdes, bekendes, onbekendes, met die geskepde werklikheid en weer God kan ontdek as die groot liefde in my lewe. Dit is wat ek hier moet begin ontdek onder die wilde perskeboom, om konneksies te maak in alle verhoudings, gedagtes en maniere van doen. Ek is geskepde, skeppende, man, mens, pa en vriend.....
No comments:
Post a Comment