Monday, May 31, 2010

Die reuk Onder die Akkerboom

Hoe lui die spreekwoord: arbeid adel..... Ek is terug om die akkerboom van Napierstraat 2. Dis 'n vreemde gevoel. Ek is vol gelaai met 2 maande se eenkant toe staan, met die Sondagmiddagblues oor ons spore teen die duin. Maar ek is oop opgewonde om terug te wees. Na 30 dae slaap ek vir die eerste keer weer in my eie bed. En dit is nogal lekker om die bekende reuke en donker en ligkolle van die pastorie in te neem en te weet dit het oor die afgelope 12 en half jaar my huis geword. Die reuk en kolle is goeie reuke en skakerings van die lewe. Hier het ek/ons al gelewe. Hier is my kinders gebore en het hulle geword wat hulle nou is en sal dit hopelike 'n belangrike "tuiste" wees waaruit hulle as kinders verder kan grootword. Ek steek steeds my dankbare-hande in die lug vir Reën wat God my hele lewe lank en ook nou in hierdie 2 maande gegee het. Daar is steeds dors-kolle wat nie kan ophou drink nie. Daar is iewers ook 'n Afrikaanse sanger wat sing: "Jou huis is waar jou hart is....". As dit die geval is, het ek baie huise. Die huis in die Oos-Kaap, die huis in Stellenbosch, Gunobie, en die Strand, die huis in die Swartberge, die huis in Blanco, die huis in die klowe onder die Witelse, die huis selfs op die duin. En dan ook die huis hier neffens die mastieuse akkerboom in Blanco. Jesus praat in Johannes 14 van die huis van God met die baie woonplek. Ek verstaan dit nou, want my hart is veilig by God. Nie omdat ek goed kan kies of bly kies, of goeie gene het of op 'n goeie geestelike trip is nie. Doodgewoon omdat God op een of ander mistirieuse wyse tog gekies het om my en ons liefgenoeg te hê.

Die lewe hier onder die Akkerboom het met alle intriges van die verlede, van nou (van die toekoms weet ek nie) 'n goeie reuk. Die mengsel van blaarstuif, beeskrale, mense en huisgeure is my huis waarvan ek daagliks saamsoek na 'n groter Melodie vir die lewe. Die meeste van die akkers het al vir hierdie seisoen geval, maar ek weet hier is waar ek ge-aard word. Hoewel die akkerboom nie inheems is nie, sal dit 'n spesiale boom en plek wees waar ek Nesskrop op Moeder Aarde (Robin Hood se tuiste was in die Akkerwoude en sy meer as filantropiese legende praat my diep aan: geregtigheid en regverdigheid, opkom vir die minderes, ens).

Dis goed om hier by hierdie huis te wees.........

Daar waar dit saak maak

Die afgelope vier weke was een van my tydverdryf-groei-momente om met die kwas, verf en doek te speel. Vir my was dit 'n grootse ervaring om oor die grense van my eie vrees te kom om te waag om nie net met lyne nie, maar ook met kleure 'n perspektief op die werklikheid te bied. In my geval is dit nie noodwendig 'n perspektief nie, maar my enigste perspektief gegewe my vaardigheid met die kwas, potensiaal met lyne en kennis van kleure. Noem dit sommer in geheel 'n gebrek aan (betaalbare) kreatiwiteit en kunstigheid. Daar is seker wel iets daarvan in my gene, maar hoe dit refleksie op die doek kry is nie noodwendig 'n esteties aangename ervaring (vir almal wat oor hulle hart kry om daarna te loer) nie. Wat wel saak maak, so hoor ek by almal wat al iewers na ander regte kunstenaars se skilderye gekyk en al gekoop het (sommige meen nogal dat hulself meer as die gemiddelde Jan van Alberton weet wat goeie kuns is), is dat dit gaan oor wat vir jouself mooi en aangenaam is. Dit bepaal die waarde daarvan vir jou en as jy dus lus is en die regte bankbalans het bereid om is om 'n prys te betaal. So het my "kunskenner-kinders" al vir my eerlik gesê dat ek nie regtig mooi kan teken nie en dat my kuns ook nie hulle smaak is nie. Hulle opmerkings het wel die testament-kwessie opgelos dat ek hulle nie een doodsdag sal belas met een van my "kunsstukke" nie. Van Gogh het wel net een of twee skilderye in sy eie leeftyd verkoop maar het die uitgangspunt gehad dat hy plesier sal hê as die arm plattelandse mense wat geen ander kuns kan bekostig nie, wel van sy werke op hulle mure sal kan hê om die vaalbestaan op te kikker. Of my skeppings enige opkikker-waarde het is te betwyfel. Wat saak maak is dat ek dit doen en terwyl ek dit doen ek meer as net 'n hedonistiese ervaring het. Dit is vir my 'n hartsaak. Ek klim binne in die oomblik, word meegevoer op 'n medeskeppende reistog om 'n liefdestorie te vorm van ou en nuwe prentjies. Indien ek ou prentjies gebruik soos 'n foto van kind of van berge, dan moet die storie herleefbaar wees. Dis nie net die neerplak van verf op 'n doek of karton nie, maar deurvloei van my hartklop in elke bewerige lyn en kleur. Ek moet die kind weer sien lag en die wind deur die kloof hoor waai. As dit gebeur, dan weet ek, dit is waar dit saak maak.

As jou mening en perspektief die heeldag afhang van ander mense se grille en dinge, dan gaan jy sukkel. Daarom is dit dalk nodig vir my om soms 'n tree of tien terug te staan en die Genisis 1 vertolking te doen: na elke "dag" se skeppery te kyk en te sê: Dit is goed! So bevestig ek die saakmaak-plek. Ek moet (imperatief bedoel) eers self sinvolheid beleef in myself, met myself, met God, met ander en met die skepping waarop ek leef, voordat ek kan toelaat dat ander my bepaal. Ek kan nie op die positiewe of negatiewe bydraes van ander teer om my lewe te leef nie. Dan word ek geleef en is ek heeltyd afhanklik van hulle menings en teenwoordigheid.

Ek gaan nie onder die boom uitkom nie of van die duin afklim nie, maar 'n harde poging aanwend om mense saam met my onder die Boom en op die Duin te laat leef. Ek wil graag met my kwaste in die hand die kuns van die lewe bemeester solank ek lewe. Twee maande langverlof is te kort daarvoor. Ek wil steeds groei, want anders sterf ek. Ek sien uit na nuwe bome en duine en nuwe weergawes van God se song in die klowe, bergstrome en branders.

Tuesday, May 25, 2010

Elke ding het sy tyd

Party mense is meer geroetineerd as ander. Sommige hou nie van roetine nie en doen alles in hulle vermoë om die roetines te breek. Hier op die duin het ek nog steeds my gewone roetines. Ek staan vroeg op (behalwe vir lyf wat seer raak van te veel bed-rus) om die res van ons huishouding aan die gang te kry. Ek maak koffie, kry die papgoed reg en jaag almal met 'n ysere dissipline uit die bed (soms vat ek dit ver deur die samajoor in my volle mag te gee) en jaag hulle aan om betyds klaar te wees. As ek verslaap of laat inlê dan is almal meesal omgekrap. Meesal gee ek nie om vroeg voor almal aan die gang te wees nie, want dit is stil en kan ek vir 'n paar oomblikke eenkant toe staan en bid en lees en dink en soms nonsense skryf. Laasgenoemde doen ek te veel en die eerste paar te min.

Dit lyk my dat roetine en orde saam gaan, dit veroorsaak 'n vaste bekende ritme waarbinne mense en alle ander skepsels kan asemhaal. Dit is seker deel van die groot Song, die Ritme van God. Roetine gee ook geboorte aan unieke ritueeltjies. As jy opstaan in die oggend is daar altyd sekere dinge wat jy doen: jy drink eers 'n glas water, sit die ketel aan, loop 'n draai (as jy op die plaas is en dis vroeg genoeg, tot by die plek wat so groen is waar jy elke oggend water ten gronde laat; as jy in die huis is, wel dus logies waar die enigste opsie is), maak koffie, ens. As jy dorp toe gaan het jy ook die dorp-toe-gaan-ritueel. Hou maar vir Morne Steyn dop (en enige ander skopper), die skop-ritueel word 'n bygeloof. Roetine is in klein dingetjies, selfs vir die visserpersoon/hengelaars. Alhoewel ek vermoed dat vir visserpersone/hengelaars geen ding klein is nie. Die regkry van hulle toerusting, wat hulle doen as hulle by die viswaters kom, die regpak van die gerei, elke ding op sy plek sodat daar nie tyd gemors word met aas aansit en ingooi nie.

Diere het ook hulle tyd en ritmes. Hulle wei op 'n sekere tyd van die dag, die veiligste tyd. Gewoonlik skemertyd. Bv. Koedoes begin klokslag teen 16:00 uitbeweeg uit die skaduwees. Diere gaan drink 'n sekere tyd van die dag water, ens. Die Kaapse fisante kom groet my elke oggend so teen 7:30, hier op die duin. Soms, meer gereeld is daar 'n Fiskaal laksman wat ook nuuskierig nadersit. Die Kwikkies kom loer by die huis in so 9:30 se kant. Die dolfyne roer die "viswaters" min of meer op dieselfde tyd van die dag en speel soms vermakerig in die duinings asof hulle vir enige surfer wil wys hoe die branders eintlik gery moet word: klim in die "swell" betyds en klim betyds uit.

Daar is 'n orde daarin wat gerustellend is. Soms doen dit die menslike spesie goed om betyds uit te klim uit 'n vaste roetine net om 'n "mini-me" adrinalien ervaring van iets anders te ervaar. Dit is goed, want dan kan jy soms rus van die meedoenlose meesleuring van 'n gewone dag. Dis eenvoudig: loop eers die draai in die oggend voor jy die ketel aansit en was heel laaste jou gesig voor jy in jou kar klim om in te val by die ritme van die verkeer. As jy inklim in jou kar (sit maar eerste jou veiligheidsgordel aan, dis die veiligste maw nie terwyl jy ry oppad na die eerste verkeerslig nie), skakel dalk eerste die radio aan en sit dan jou sonbril op. Hoe dit ook al sy, ritme en roetine is goed. Ek dink nie dit moet 'n wet wees nie, maar gee soms 'n hupstoot aan die soeke na sin in die lewe. Dit bied 'n ander tydsbril aan dit wat jy altyd doen. Die herprogrammeer jou lyf met 'n nuwe soort energie.

Vir sommige is dit (ritme, roetine en rituele) die veilige spore waarbinne hulle moet funksioneer. Daar is niks mee verkeerd nie. Vir ander is die uitdaging om nuwe ritmes te vestig. Ook dit is goed. Vakansies is so verandering van ritmes en roetines. Dis die sabbat van die gejaag van 'n ses-dae bestaan om geld te maak, naam te maak, iets in die lewe te bereik en ook kos op die tafel te sit. Elke familie se vakansie het oor weer sy eie ritmes. Jy stop oppad na die Noorde elke keer by Boufort-Wes se Wimpy vir ontbyt nadat jy, soos elke ander vakansie 6:00 vertrek het en alles reeds die vorige aand gepak was (soos elke ander keer).

Monday, May 24, 2010

Hengelaar of Visvanger

Twee weke terug het ek die eerste keer vir Nehan en Henu vir visvang of hengel gevat. Sies,! Kan iemand dalk uitskree, Henu is al 8. Ek weet ek weet. Behalwe vir die 7 stokvisse eenkeer van 'n boot in die diepsee, het ekself nog net 2 kolsterte gevang. Dan is dit oor die lewenspan van my amper 42 jaar. Ek het vroeer in my lewe die hunkering om die "grote" te vang, vaarwel toegeroep. Die grote het nie eers kans gehad om weg te kom nie, die vrekselse vis het nooit gebyt en my 'n kans gegee om vir ewig deel van hierdie sport bedryf te word en jaarliks my gereedskap op te gradeer nie. Vir die afgelope paar weke het ek soos die getye draai, 'n paar wanhopige pogings aangewend en nog net een aand 10:30 se kant 'n brawe seebaber gevang. Ek kan twee afleidings maak: die eerste is 'n hooplose een dat 'n hengelaar/visserpersoon wat sy of haar sout werd is baie tyd langs die viswaters spandeer en net wanneer alles in jou guns is, dan sal daar iets byt wat jy kon haak. Die meeste ouens wat hier voor die duin visvang lyk na ervare manne (gelees aan die gereedskap wat hulle saamdra), maar ek het in die oomblikke wat ek hulle fyn dopgehou het (om te leer en groei) nog net twee visse gesien wat uitgekom het ('n elf en een of ander platbekhaai wat seker 'n sandhaai heet). Óf hier is nie baie vis nie (die weer, die water ens) of visvang is 'n geduldige sport wat jou so nou en dan beloon. Die tweede afleiding is dat ek vorder in die sport. My linie van vissoorte groei. Ek moet net aanhou (soos die tyd dit toelaat) en my toerusting opgradeer (soos dit ons begroting pas) en aanhou. Ek moet leer om die weer, die water se temperatuur en kleur, die gate, die visse se gedrag te lees en ........ groei. Iewers gaan ek die grote kap.

Hoewel hierdie vir my die werklikheid van my visvang/hengel-lewe is, het dit ook nou 'n metafoor geword in my en ons saamstap met God en met mekaar. Vir my is daar erg ontstellende lewensperspektiewe wat hieruit kan groei. Soos, dat my verrassende ongeduld (dis asof die gedruis van die branders my met 'n pap snoek, wat nie hier voorkom nie, deur die gesig slaan en sê ek moet kyk, diep kyk in die spieël hierbinne my). Ek behoort rustiger saam met die lied van die branders te sing, soms glad nie sing nie en net luister, kyk en stadig my toon ritmies tap.........

Dis meer as net 'n visser-van-mense metafoor wat met een of ander evangelisasie-metodiek ge-net kan word. Dit gaan vir my oor 'n lewenshouding waarin ek passievol inklim in dit waarmee ek besig is en besig behoort te wees. Vra enige van daai ervare visserpersone/hengelaars met al die toerusting om 'n visvang storie te vertel of gaan staan iewer naby as hulle besig is met die sport. Die is 'n werêld vol passie, energie, afwagting en 'n kyk in die oë wat lewe. Die inklim is nie as 'n blamerende fluitjie-blasende toeskouer nie, wat skynbaar (klem op die skyn) alles weet nie. Eerder 'n deelnemer, aktiewe skepsel (spelskepper) wat my plek verstaan (Ps 8) wat intens besig is om vaardighede goed aan te leer om die sport van die lewe goed te doen. Die beloning is nie noodwendig die grote nie, maar dat ek nou besig is om voluit te leef.

Thursday, May 13, 2010

Die tyd vlieg


Ek sit nog steeds hier op die duin


Dis skielik ‘n snaakse ding om te sê: “Tyd vlieg”. Voor my sien ek vlerke, horlosies (want dit is ons tydhouers) met vlerke wat nie net verby vlieg nie maar ook rondvlieg. Dalk is dit te kinderlik om so konkreet en abstrak gelyktydig te wil wees. Ons almal weet wat ons daarmee bedoel. Vir myselwers is dit ‘n manier van woorde gebruik om ‘n onbeholpe gevoel hier binne my te beskryf. Daar is geen beheer oor tyd, sekondes wat driftig aan-tik, haastig oppad na die volgende minuut, uur, dag, week, maand, jaar, dekade, eeu en so kan ons aangaan. Dit klink amper angstig, maar dit is net realiteite........ alles wat so saam met tyd verby vlieg. Tyd is volgelaai met mense, verhoudings met mense, beelde-prentjies van ons ervarings met die lewe. Tyd is gelaai met die lewe self (avonture, verveelde oomblikke, kreatiwiteit en ek weet nie altyd wat nog nie). Daar is ook soms daardie oomblik in die tye van die lewe, dat dit voel of jy daardie spesifieke tydsbelewing wil vasvang. Jy weet jy kan nie, daarom wil jy niks doen nie, want dan laai jy tyd met ekstra dinge wat die vlerke vinniger laat klap of jy maak windbane waarmee tyd spoed optel. Jy wil net “wees” in daardie oomblik en absorbeer, opneem, integreer ens. As jy vanuit jou “doing”-funksie leef, dan kan jy tydmors as jy die momente wat tyd gee nie volmaak met sinvolle dinge soos geld maak, besig wees met goeie gesprekke en aktiwiteite, iets vir die lewe en almal wat saam-lewe op die tafel sit sodat dit gesien kan word, gevat kan word, verkoop kan word. “Moenie so sit nie, doen net iets” is eggo’s in menigte huishoudings en selfs in werksruimtes. Ons word gedwing om besig te wees en tyd uit te koop en beheer te neem van tyd. As jy aan die anderkant vanuit jou “being”-funksie met tyd te doen het, is die kans goed dat tyd beheer neem van jou en jou binnekant oopmaak vir nuwe ruimtes om te ontdek. Dit bring jou by tydsones wat niks met die Greenwich (op hierdie oomblik weet ek nie eers hoe spel mens dit nie) te doen het nie. Dit gaan ook oor meer as net “wees” in die tye. Dit is ‘n oorgegee wees en ‘n ingesteldheid teenoor die lewe waarbinne tyd sekondes aftel. Vir my is dit ‘n oorgegee wees aan God in wie se hand my tye is (Ps 31:16), dit is om in tyd (Spr 3) in te klim en elke oomblik as nou belangrik en van waarde te kan geniet (en te leer hoe om dit meer en meer te geniet). As ek iets doen met tyd dit voluit rondborstig in die oe te kyk. Of eerder in die tyd waarbinne ek nou leef dinge doen, ook dit voluit te doen en te geniet as ‘n gawe (die goed en sleg).
In alle sportsoorte (met balle) is tydsberekening een van die kernaspekte wat jou help om die sport sinvol te beoefen. Die raakslaan, vang, skop en aangee van ‘n bal bepaal die punte op te telbord. Dis ook soos ‘n engin se “timingbelt” wat reg ingestel moet wees om die vonk op die regte tyd te gee sodat die brandstof kan ontbrand ens. Nou wonder ek hier oor my belewing van tyd en tydsberekening. Ps 1 praat vrugte op die regte tyd (tydsbereking), Spr 3 wil dit hê dat elke ding sy/haar tyd het.
Hoe ons op die vlerke van tyd saamvlieg voel vir my bepalend met wat ons doen met elke sekonde.... Ek dink nou so: my timingbelt is belangrik sodat daar ‘n vonk kan wees om die lewe in die tyd (met vlerke en al) goed te ontbrand. My timing/tydsberekening met God, in die nou van elke sekonde, is deurslaggewend om alle tye alleen en saam goed te leef...... Dalk klink dit beter om dit so stel: my ingestel wees op wat God wil en wat Hy gee en my ingesteldheid daaroor maak van tyd goeie ruimtes waarin ek kan doen en wees...
Ek dink ek moet nog verder dink hieroor

Monday, May 3, 2010

See en alles daarin moet druis....

Die skuif van onder die bome, by die berge, in die vlaktes en tussen die klowe na die see is soort van 'n aanpassing. In die eerste plek, hier is nie bome nie. Behalwe vir so paar uitheemse Manatoke wat iewers in goedbedoelde oomblikke deur een of ander voorsaad aanplant is, is hier net duinbosse (ek sal hulle name nog uitvind). Verder is dit die see. Die huis dwing jou om see toe te kyk. Dis bo-op die eerste duin met 'n vry kyk na die groot blou dam.

Behalwe dat see en berge niks fisies, wat looks betref, in gemeen het nie, het hulle alles met mekaar in gemeen. Elke dag verander hulle kleur en dimensies. Die lug daarbo verander van potblou na dofvaal en wasig. Ek het my kinders groot gemaak met die idee dat God elke dag nuwe kleure op die berge skilder, want Hy is die groot Kunstenaar. Ek moes slimgenoeg gewees het om hulle dit ook van die see te leer, ek het nie, maar nou kan ek. Elke dag sal ek wag op die Dagligkwas-kleuremengsel. So die aanpassing is om nie onder boomskaduwees te wag nie, maar nuwe prentjies in te wag op die sandduin. Tweedens, dit gaan my langste see-vakansie wees waarvan ek bewus is. In die derde plek gaan ek rus moet vind in die gedruis van die branders. Ek het al genoem dat rivierstrome en branders se gedruis my na 'n tyd onrustig maak. My eie poging om hierdie rare verskynsel in my te verklaar is waarskynlik soos volg: na 'n oënskynlike rustig-word-tyd, begin die gedruis van die water konnek met die rapids en dumpers iewers dieper in my as wat ek kan dink. Die sielsenergie wat met hierdie konneksie losgeskommel word maak dat jy soek en kyk, maar nie meer kan luister nie. Die som hiervan is 'n gevoel van onrustigheid wat jou laat loop na 'n ander soort stilte.

Toe ek vanoggend hieroor dink, wat ek gaan doen met die stereo-gedruis, besef ek my kop gaan moet verander. Die kuns is seker om die gedruis van die water en die gedruis van die nog-nie-gedinkte-gedagtes of innerlike onbewuste onstuimige geklots met mekaar te laat sinkroniseer. Dit is so dat in die ou tye die see die onbekende, gevare, monsters, die woonplek van die onsedelike vrou en die dier verteenwoordig het. Maar dit is ook so dat die see 'n kreatiewe uitdrukking is van God wat chaos in 'n ordelike bestaansruimte verander. Ek dink ook dit is hoekom die digters en liedjieboere van die Bybel die see en alles daarin (saam met 'n spul ander goed) oproep om God se naam groot te maak. Ek dink dus dat my ding met die gedruis so moet werk: ek moet verstaan dat ek God se kreatiewe ritme hier op die duin moet hoor. Daar is 'n loflied wat ek moet hoor, dis nie net berge en klowe en riviere wat kan sing nie. Die see doen dit al van die begin af, maar ek kon nog nooit lankgenoeg luister om die lied te hoor en end-uit saam te sing nie. Nou weet ek moet en moet op die kleure wat God in die daglig bring 'n melodie soek en begin sing.....

1 Kron 16:32Die see en alles daarin

moet druis,

die veld en alles daarop

moet jubel,

33die bome in die bos

moet hulle verheug

voor die Here, want Hy kom

om oor die aarde te heers.