Rugby is maar die koning wat vele gesprekke se inhoude vul en bepaal. Afhangende van hoe sterk die windstreke waai, sal jy iewers 'n soort taal hoor. Party praat 'n blou-taal, ander 'n oranje-taal, ander gestreep en ander swart. Behalwe as jy 'n doelbewuste besluit geneem het om nie hierdie taal te praat nie en jou willekeurige en onwillekeurige assosiasie met 'n tipe gemeenskap soos hierbo van gepraat word, afgesweer het is hierdie tyd van elke vierde jaar 'n lente wat aanbreek vol groen (bokkie-blom) verwagtinge.
Ander sporte is ook groot en indrukwekkend, maar dis asof alles nou groener in die natuur is. Die geel van die son (effe ovalerig) is goud en as dit donker word aan die einde van 'n groen-goue dag, begin jou hart onrustig klop. Kompleet asof al die toeriste-gedrewe "haka's" van die suid-see-eilande se kant-af 'n tsunamiese pikswart polsing in jou onderbewussyn veroorsaak. Sonder dat jy dit kan help sluk jy stadiger en swaarder met die flitssekonde drogbeelde van silwervaringagtige gespierde swartgedoentes en jy hoop hulle choke-seisoen het weer aangebreek.
Ek moet maar net vir myselwers en baie mense om my begin lag. Dit is tyd vir rugby (behalwe vir die pa wat eergister met ons kinders se laaste rugby-wedstryd vir my noem dat die jaar (2011) se sport nou verby is).
Ons doen ons eie voorbereidings deeglik bepland. Ons laai wedstrydskedules af en doen haarfyn berekeninge van ons bewegings en wanneer ons op watter stoel moet sit. So asof ons vir lynstaan-ingooie oefen. Ons praat nou 'n groen-taal en alles anders moet versigtig inpas by hierdie nuwe tydsones. Dit maak nie saak of jy +2 ure of -6 ure van die Greenwich geposisioneer is nie, solank jy realisties is en jou tyd gesinkroniseerd is.
No comments:
Post a Comment