Tuesday, August 31, 2010

Vrae en antwoorde

My kop hak vandag vas by 'n ding waaraan ek myselwers nou gaan skuldig maak. Hoekom werk ons koppe met 'n vraag-en-antwoord-sisteem? 
In die Woord is daar wel Job-se-gewonder, so paar van die Psalms-se-gebiddery, die dissipels-se-dowwe-dolla-momente, ens. Maar verder is die Bybel vol verhale (van 'n volk wat volheid gefees en gevou het, van ouens wat gelowig praat oor drome, ander wat slimwoorde het, ander vertel die Jesus-storie, sommige skryf briewe) maar nerens is daar 'n Q&A-afdeling wat alles van die lewe maklik maak (antwoord) nie. Met dit alles wonder en vra ons elke dag en soek antwoorde. Kyk maar hoe gewild is Wikipedia en ek sien daars deesdae ook ande wiki's (wikihow, wikianswers, wikispace en nog 'n hele internet vol). Eintlik wonder ek maar net, want ek kan en wil nie te diep ingrou in my grysstowwe nie......ek het gisteraand te hard geval met 'n touchie-wedstryd saam 'n klomp jong(er)manne en dan het ek ook nog littekens oor van my eerstejaar by US met die vak Logika (Filosofie onderafdeling).

Logika was vir my soos sin, cos en tan op skool. Ek het altyd net gemaak of ek weet wat aangaan. Soms het ek regtig probeer weet, want ek moes 'n punt kry om deur te kom. Dan het ek maar vrae gevra (net soms want ek wou nie dom klink nie), ander ouens se vrae in ou vraestelle bewerk met moontlikke antwoorde en selfs probeer luister wat ander ouens vra (die slim ouens se vrae was gewoonlik slim vrae en kon ek lekker parasiteer op hulle vrae en antwoorde wat gevolg het). Volgens sekere reels oor elke vakgebied, was my antwoorde reg of verkeerd.

Wanneer die vraag-en-antwoord-ding binne verhoudings in werking kom, skop 'n ander strorie in. Dit voel vir my dat die reels van hierdie vakgebied anders benader en verstaan moet word. Vir verliefdes is dit 'n lekker ontdekkingspeletjie. Met ou getroudes, familie en gewone vriendskappe word dit 'n versigtige, emosionele en veelkantige bestaans"risiko". As ouers vrae aan hulle kinders of tieners (veral lg) vra en sekere antwoorde verwag, is dit  frustrerende momente. As getroudes dit doen, is daar baie op die spel. Die stemvolume, die pitch van stem, die pouses tussen elke woord, die kyk in die oog, die liggaamshouding en die mood van elkeen is maar net 'n paar faktore wat my gedagtes laat hakkel.


Vandag wonder ek maar net weer en vra hier aan die voet van die mooi berg vir myself hierdie vraag en weet ook ek wil eerder versigtig wees met (maklike)antwoorde en ook versigtig en sensitief moet omgaan met almal wat saam met my asemhaal.

Wednesday, August 25, 2010

Mure en klokke

So ongeveer twee jaar gelede het ek so nou en dan ywerige pogings aangewend om my bergfiets ('n Kona van een of ander soort) van totale verlatenheid te red. Een van hierdie energieke pogings het ons twee, ek en Kona, gelei op 'n sirkelroete in die berg wat ons altyd ry. Binne 'n uur het ons beide (ek meer as die gespierde Kona) gewoontlik 'n goeie workout gehad. Daar is lang bulte, downhills, kort bulte, steiltes, rusplek langs 'n stroom op 'n stomp (net plek vir my) en dan die lang afdraend terug huistoe. Op hierdie spesifieke bloulug dag met een van die laaste lang afdraendes, met musiek in my ore en my gedagtes tussen die woorde en note verstrengel vlieg ons oor elke hobbel, mis die ongemaklike klippe in die pad en voel ernstig in beheer van hierdie feestelike rit. Iewers op/in/langs 'n skewe skelm draai besef ek te laat dat ek liewers sterker op die rit met ou Kona moes gefokus het. Ek voel soos Man van Staal (program op TV toe nog SAUK in die 1980's) met sy woorde:" Ek gaan val, ek gaan val......". Op 'n stadium het ek gedink ek moet probeer uitkom uit hierdie val, maar alles het te vinnig gebeur. Die volgende oomblik is ons reguit in die kant-wal in en ek voel soos pleister teen 'n muur en die musiek verander in klokke wat raserig lui en ek sien prentjies uit die verlede (sommige mooi, ander skrikwekkend). Iewers tussen die klokke en pleister onthou ek dat ek nie my vrou en kinders goed genoeg gegroet het nie. Dis toe dat alles stil word, net vir 'n wyle, want toe skiet die pyne deur sekere plekke op my lyf en ek onthou ook dat ek moet probeer asem kry. Maar daar is nie asem nie, niks nie en die klokke hou aan om te raas. Een van die mooi oomblikke was toe ek deur 'n skrefie van die pyn vars berglug koel oor my longe voel hyg. Dit was onaardige geluide soos die suurstof weer lewe in my pomp, maar ek besef ek moet stadiger asemhaal en nie te opgewonde raak nie. Dit was toe dat ek my lyf begin soek en voel of daar nie 'n oog of tand iewers loshang nie. Ek sien ou Kona neffens my teen die wal, net so moedeloos en  hy glimlag nie oor hierdie reddingspoging nie.Na 'n ruk besef ek dat alles nog heel voel. Dit vat toe so vyf na tien minute om op te staan en ek is dankbaar  dat die water en melk van die Karoo my jeuglyf goed laat groei het in 'n stewige raamwerk. Na ek my eie lyf weer reguit getrek het, maak vir Kona ook meer vaartbelyn en fiets-semetries. Ons ry met 'n ongemaklike gekreun (beide van ons) terug huis toe.

Oppad terug besef ek dieper as tevore dat ek moet keuses maak oor my lewensritte en selfs meer fokus. Ek moet bewus word van die skielike draaie, die mure in die pad........voordat die klokke lui. Ek het selfs daarna al 'n paar kere weer soos pleister teen  mure al tepletterende van vorm verander en die klokke hoor lui en ek weet ek gaan nog baie. Ek weet ook ek staan in elkeen van daardie oomblikke op om te kies hoe om die volgende downhill te vat. Ek kan mos nie vir Kona alleen laat voel en elke slag nog 'n buig moet reguit maak nie.

Monday, August 16, 2010

Stadiger stap?

Die rimpels van die stap langs die Olifantsrivier klots nog steeds teen walle van my binneste. Dis goeie rimpels vir my. Een van die momente was toe Steve gaan stilstaan by 'n trop olifante se vars spore. Diere spore oor die algemeen is soos 'n storie-boek vol prentjies en betekenisse. Olifante wat rustig is en gemaklik stap, trap met hulle agtervoete op die spore van die voorvoete. Die trop op wie se spore ons gestap het, se voor en agtervoetspore het groot gapings tussen-in. Hulle was baie haastig en dalk onrustig. Hulle het spoed opgetel en met 'n redelike tempo onder en voor ons uit gestap. Die wind het ons weggegee en ons het later die trop aan die oorkant van die rivier gesien. Maar hulle stadige en vinnige spore het in my kop gefossileer.
Ook mense se spore maak 'n interessante leer-ervaring uit. Ons is 'n ingewikkelde en komplekse spesie en daarom is ons spore net so ingewikkeld. Ons besool ons bewegings met leer en rubber en gebruik 'n klomp werktuie daarby om ons voorentoe en agtertoe beweeg aan te help. As deel van die Westerling-trop het ek begin agterkom dat ons eerder vinniger as stadiger wil "loop". Daarvoor is daar 'n magdom baan en land-rekords in so ander boek en 'n klomp ander plekke opgeteken. Vir ons is daar sekerlik die onskuldige adrenalien en prestige wat ons grootliks voorentoe jaag. Daarom is die "afstand" tussen ons spore "groot". Die spoorsnyers-gulde sal 'n groot saak hiervoor kan uitmaak, ek is redelik seker daarvan.

Ek het ook oor die afgelope 40 of wat jare agtergekom dat ek 'n sekere ritme aangeleer het wanneer ek stap. Hierdie ritme werk net as ek teen 'n sekere tempo voorentoe beur. My liggaam is met die tyd geprogrameer om vir hierdie tempo fiks te wees. As ek stadiger stap, word ek ongevraag vinniger moeer (en dalk ook moeerig..... sonder die een "e"). As ek enigsins 'n aanpassing in my ritme wil maak, is dit van (westerlinge)nature om vinniger te gaan. Nie sommer stadiger nie. Ek dink nie dit is noodwendig verkeerd nie, want dit is hoe ons stap. Maar ons staphoudings en stapgedagtes teenoor ander is die ding wat ons moet verstaan.

Hierdie stapstorie en -spore wat ons met groterwordende gapings agterlos is stewig vasgegrond in ons saamstap met ander. Daar is min genade en tyd vir ander wat stadiger (ook die wat vinniger stap) as onsself stap. In elk geval, so lyk dit vir my. Die grootste gros van ons in hierdie geWeste sukkel met die geduld ding. Ons praat hierdie week hier by ons rond veral oor geduld wat liefde is in ons saamstap met mekaar. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar dalk kan ons twee dinge doen. Dalk kan ons soms wel stadiger stap en 'n nuwe soort fiksheid met ander opbou (dit is wel beter om 'n meer totale fiksheid te kry). Dalk kan ons ook in ons vinnige stapritme stadiger dink en voel oor almal en alles om ons. Ek verstaan dat daar baie reuke en klanke en miskien "gevare" is wat ons aanjaag om voor vanaand by 'n veilige plek te gaan wei. Gelukkig is ons nie soos ander diere nie.....ha...

Thursday, August 12, 2010

"Flat" Coke

Ek weet nie of dit die ou mense is nie, maar iewers het die geloof in flat Coke as 'n toniek vir maagkrampe ontstaan. Ek dink nie dis die ou ou mense nie, want hulle het net bossies en kruie gehad en Coke was nog nie daar nie. So dit moet die nuwe ou mense wees wat so glo. Of dit regtig werk, die weet ek nie. Al wat ek weet is dat ek nie daarvan hou nie. Coke wat flat geword is nie lekker nie.....klaar....punt. Daarom moet dit seker medisyne wees, want medisyne is nie lekker nie. My punt is dat ek van min mense weet wat doelbewus flat Coke sal drink om dit te geniet. Hou maar hulle gesigte ook dop as hulle sulke borrellose koue drankie afsluk. Ek verstaan ook dat smaak verskil, maar Coca Cola se maatskappy sou 'n spesiale lyn uitgebring het wat bekend kon staan as Flat. Maar hulle het nie.
In sommige Ingelserige lande soos die US of A praat hulle van 'n flat, bedoelende 'n papwiel. In ander Ingelserige lande noem hulle 'n papwiel iets anders (ek kan dit nie sommer so probeer spel nie, want daardie deel van my brein is nou bietjie flatterig al weet ek dit is 'n maklik een om te spel). Maar 'n flat is 'n flat. So ook Coke wat flat is.
Die afgelope week het ek so borrel-gaslose tyd beleef (met 'n borrel-volle-lewe bedoel ek nie die cloud nine storie nie). Dis soos die flat Coke ervaring. Ek hou nie daarvan nie en wil nie daardie beker drink nie. Dit is nie 'n depressie ding nie. Dit is eerder dat ek iets so 'n tipe bewussynlose week beleef het. Ek het nie geluister en gekyk nie. Dit was asof ek nie kon nie. Dis soos 'n droee bergwind wat alles in jou plat maak. Alle gas word uitgeskud. Vir myself voel dit dan of alles wat ek wel hoor en sien en selfs proe, soos 'n glas flat Coke is. Al is jy dors, bly dit nie lekker. Jy sluk omdat jy dors is, maar dis flat.
Die bietjie wat ek kon hoor en sien was dat ek saamstap met ander mense en by hulle dieselfde ervaring beleef. Party erken dit, ander wil dit nie erken nie. Mens hoor dit in hulle woorde en sien dit in die spore wat hulle sleep-sleep trap. Mens sien hoe hulle (ons) halfhartig werk, gasloos (dit is liefdeloos of mensloos) met ander omgaan en ook met 'n kamma-borreldans ander probeer mislei. Mens sien dit in beide die brose-weerlose commitment en ook die totale gebrek aan commitment. Hoe ons ook al sluk, dit bly 'n flat-bestaan.
Ek is deeglik bewus van al die(dalk eerder die meeste) goedbedoelde vinnige "goeie" antwoord-oplossings. Ek is ook baie seker dat al hierdie sogenaamde oplossings nie 'n kits-Gas-ervaring van die lewe bied nie. Al wat ek weet is dat ek nie van flat Coke hou nie, maar ook dat ek met alles in my moet en kan commit tot die Lewe om deeglik en goed te Luister en Kyk. Daar is vir myself (en ek is seker vir ander mense ook) baie oorsake vir die gaslose-Coke ervarings. Ek weet ook verder dat ek eerlik moet wees hieroor. Wat ek wel ook weet, nou, is dat ek lewe en dat dit opsigself beter is as enige selfgemaakte  Sodastream gaskoeldrank (daardie soort borrel-cola het ook nooit vir my na die ware jakob gesmaak nie). Ek lewe nie omdat Ek lewe nie, die is mos lankal dood. Ek lewe omdat dit God se groot geskenk is. Maar soms, soos die afgelope week, het my soeke na woorde om hierdie lewe te bewoord en celebrate doodgewoon nie gebeur nie.
Al wat ek nou weet is dat ek van vooraf weer moet Luister en Kyk, want dit was nog altyd 'n Goeie ding.......vir my...

Thursday, August 5, 2010

Om jou "plek" te kry

Dit is 'n groot irritasie as jy jou plek in 'n boek te verloor. Jy het dalk so vae idee tot waar jy laas gelees het en kan selfs tot op die bladsy kom waar jy verlore geraak het en dan kom daar die fyngescan om die paragraaf en sin te kry waar jy was. As jy jou plek kry, is dit so kop-op-die-kussing-inwikkel-lekkerte-ervaring wanneer jy weer begin lees. Dis 'n ander tipe frustrasie as jy jou plek in 'n ry verloor. As jy 'n kind is en die ry is vol kinders, dan is die kans om jou plek terug te kry skraler as rietskraal. Volwassenes het hopelik so bietjie meer maniere en takt geleer en is die kans bietije vetter as die riet om weer plek te kry. My gevolgtrekking is dat ek altyd die hoop het dat 'n mens wat plek verloor het weer iewers op 'n reendag die spore in die modder terug na sy plek sal opspoor.
Daar is egter 'n ander soort plekverloor wat my maag drie draaie gee en met 'n rock-konsert-onrustigheid laat. Hierdie is my eie gevolgtrekking nie van akademiese of wetenskaplik geverifieerde soort nie. Ek het so bedompige sinusagtige vermoede dat ons as menslike spesie ons plek hier op die skepping verloor het. Op 'n teoretiese en selfs godsdienstige vlak is daar baie kennis oor hierdie plek van ons. Ons het selfs in die Christelike geloof 'n deeglike teologie hieroor. 

Simptone: besoedeling, oorbeweiding, ontbossing, uitsterf van diere en plante as gevolg van .......
Soms lyk dit of ons nie weet wat ons soek nie, want ons soeke na rykdom, na nog, die soeke om die onuitblusbbare onversadigbare drang na groter beter en in beheer wees, lei tot 'n verlies aan die vermoe om te luister (hoor), te kyk (sien) en te voel. Ons raak gedisorienteerde asemhalers wat alles en almal om ons uitput ........ ons het plek verloor. Ons soek ons plek, maar ons soek dit verkeerd en op verkeerde plekke. Dit word in baie gevalle uiteindelik 'n toegesmeerde magspeletjie tussen mens en mens. Die res van die skepping word fyngemaal in die stof van hierdie soort soeke na plek. Vir my het magspeletjies op enige vlak van lewe nog altyd geruik na 'n oneffektiewe rioolplaas wat orals uitlek en besoedel. Magspeletjies is soos besoedeling, nee dit is besoedeling. Jy sien soos bv met enige besoedelde rivier die gevolge daarvan eers op 'n ander plek, laer af uit die sig van hulle wat harteloos besoedeling veroorsaak.
Baie kere verloor ons ook ons plekke omdat ons doodgewoon te lui. Ons ly aan 'n soort leunstoel-aartappelsak-sindroom. Dit vat te veel moeite om ons plek te soek en dan voluit daar te leef (dalk weer eendag later praat hieroor)
Oral is daar "groot"mense wat probeer plek soek en plek maak en ander aanmoedig om vir mekaar weer plek terug te gee, maar dit lyk na 'n hopelose ding. Die verlies aan ons plek op die aarde en in die kosmos het baie redes, maar ek dink baie daarvan is dat ons soos redelose diere tekere gaan om een of ander legacy te bou. 
Ons het nie net plek verloor nie, maar ook hart verloor (ekologiese moraliteit).  Een van die Suid-Afrikaanse teoloe (Ernst Conradie) wat vir die kerk telkemale 'n ekologiese skrefie wil oopmaak, skryf in 'n artikel  "The Earth in God's economy" oor die mens se geskiedenis (storie) wat ingeweef is in die ganse kosmos en die weerlose plek wat ons inneem, soos volg (hy gebruik hier 'n ander skrywer se woorde):   "Tim Cooper notes that the place of humans within the earth community may be understood in terms of two metaphors. We may function as the nervous system of the organism that can register and respond to any pain impulses that threaten the organism. Alternatively, humanity may form a colossal, cancerous growth that threatens the survival of the whole ecosystem....(See Cooper 1990:150-1. These metaphors are derived from Peter Russel’s book The awakening earth)

Ons sal weer ons harte moet soek en ons eie plekke nederig moet bewoon. Een van die beste plekke om hiervan bewus te word is buite in die veld, tussen diere en plante. Daar waar ons anders die klanke kan hoor, die grond kan voel en ruik, die plante en diere leer respekteer en bewonder en die wind nuut oor ons voel waai. Ons het dit broodnodig, nie net terwille van alle ander skepsels nie, maar terwille van ons eie sinvolle bestaan en mede-voortbestaan.
Ek weet ek moet by myself begin en baie meer onder 'n boom gaan sit en kyk en luister........





Monday, August 2, 2010

Verskillende werelde

Mvubus
Verlede week hierdie tyd het ek nog nie my eerste koppie sawwe lyf ingehad nie. Hoofsaaklik as gevolg van Steve, die veldwagtergids, se planne om die dag 'n stywe stap in te kry. Hy het ons vroeg uit die vere gewikkel, dalk omdat hy nie die sonsopkoms wou mis nie. Die vorige dag in 'n gesels oor hulle werk het hy 'n opmerking oor hulle salarisse gemaak:"We get paid with sunrises and sunsets!". Ek is seker hy sal enige tyd 'n groter salaris in geldwaarde verwelkom, maar hierdie opmerking som sy hele houding en passie vir die natuur en sy werk uitstekend op. So het ons hom oor die volgende paar dae ook leer ken.

Sy kennis van bome, voels, die rotse en grasse was 'n lewende biblioteek om van te tap. Dit was by elke onbekende boom of voel soos om Wikipedia te gaan google. So was of is dit ook met Sambok wat na 30 jaar se veldervaring 'n wereld van kennis het wat min tot geen boek hom sou kon leer. So in die stiller oomblikke as ons langs die Olifants dalk sit en koffie drink, sal Sambok met woorde en sinne kom wat nie net filosofies is nie, maar ook 'n onskuldige onbewuste naiewe poësie ontbloot bv. indien hy iets van die rivier verduidelik en dan na 'n stroomversnelling wys met die woorde "...daar water die breek..."

Kamp langs die Olifants
Die beste van alles was dat ons as hulle "studente" saam in die spore van die olifante (en baie ander diere), in die skadus van trosvye, jakkalsbessies, hardekool, njalabome (net om 'n paar te noem) en met die gesnork van die seekoeie en krokkeldille se lui-spartel die water in, kon leer of eerder skramslangs ontdek waar ons plek as mens-spesie behoort te wees.

Hierdie wereld waarin hulle saam met plante en diere in die veld kan leef, verskil so ongemaklik groot van ons eie stadsbestaan. 'n Groot deel van my menswees hoort daar (of in so tipe wereld) want dit is waar ek tuis kon voel en weer God se ritme van oor tot oor kon hoor. Hier waar ek nou sit, kan ek ook hierdie groter ritme hoor (ek kan nie anders as om dit te hoor nie), maar dit is anders, gans anders. Ek wens nie ek kan nou daar wees nie, want ek weet hier waar ek nou is, is goed en groots. Tog het hierdie lewenspasie (hulle wereld) diep in my bloed kom meng. En nou, nou kan ek vir my 'n derde koppie sawwe lyf  gaan maak en steeds gaan google in die boswikipedia......
Onder 'n ficus sycomore