Die rimpels van die stap langs die Olifantsrivier klots nog steeds teen walle van my binneste. Dis goeie rimpels vir my. Een van die momente was toe Steve gaan stilstaan by 'n trop olifante se vars spore. Diere spore oor die algemeen is soos 'n storie-boek vol prentjies en betekenisse. Olifante wat rustig is en gemaklik stap, trap met hulle agtervoete op die spore van die voorvoete. Die trop op wie se spore ons gestap het, se voor en agtervoetspore het groot gapings tussen-in. Hulle was baie haastig en dalk onrustig. Hulle het spoed opgetel en met 'n redelike tempo onder en voor ons uit gestap. Die wind het ons weggegee en ons het later die trop aan die oorkant van die rivier gesien. Maar hulle stadige en vinnige spore het in my kop gefossileer.
Ook mense se spore maak 'n interessante leer-ervaring uit. Ons is 'n ingewikkelde en komplekse spesie en daarom is ons spore net so ingewikkeld. Ons besool ons bewegings met leer en rubber en gebruik 'n klomp werktuie daarby om ons voorentoe en agtertoe beweeg aan te help. As deel van die Westerling-trop het ek begin agterkom dat ons eerder vinniger as stadiger wil "loop". Daarvoor is daar 'n magdom baan en land-rekords in so ander boek en 'n klomp ander plekke opgeteken. Vir ons is daar sekerlik die onskuldige adrenalien en prestige wat ons grootliks voorentoe jaag. Daarom is die "afstand" tussen ons spore "groot". Die spoorsnyers-gulde sal 'n groot saak hiervoor kan uitmaak, ek is redelik seker daarvan.
Ek het ook oor die afgelope 40 of wat jare agtergekom dat ek 'n sekere ritme aangeleer het wanneer ek stap. Hierdie ritme werk net as ek teen 'n sekere tempo voorentoe beur. My liggaam is met die tyd geprogrameer om vir hierdie tempo fiks te wees. As ek stadiger stap, word ek ongevraag vinniger moeer (en dalk ook moeerig..... sonder die een "e"). As ek enigsins 'n aanpassing in my ritme wil maak, is dit van (westerlinge)nature om vinniger te gaan. Nie sommer stadiger nie. Ek dink nie dit is noodwendig verkeerd nie, want dit is hoe ons stap. Maar ons staphoudings en stapgedagtes teenoor ander is die ding wat ons moet verstaan.
Hierdie stapstorie en -spore wat ons met groterwordende gapings agterlos is stewig vasgegrond in ons saamstap met ander. Daar is min genade en tyd vir ander wat stadiger (ook die wat vinniger stap) as onsself stap. In elk geval, so lyk dit vir my. Die grootste gros van ons in hierdie geWeste sukkel met die geduld ding. Ons praat hierdie week hier by ons rond veral oor geduld wat liefde is in ons saamstap met mekaar. Daar is nie maklike antwoorde nie, maar dalk kan ons twee dinge doen. Dalk kan ons soms wel stadiger stap en 'n nuwe soort fiksheid met ander opbou (dit is wel beter om 'n meer totale fiksheid te kry). Dalk kan ons ook in ons vinnige stapritme stadiger dink en voel oor almal en alles om ons. Ek verstaan dat daar baie reuke en klanke en miskien "gevare" is wat ons aanjaag om voor vanaand by 'n veilige plek te gaan wei. Gelukkig is ons nie soos ander diere nie.....ha...
No comments:
Post a Comment