So ongeveer twee jaar gelede het ek so nou en dan ywerige pogings aangewend om my bergfiets ('n Kona van een of ander soort) van totale verlatenheid te red. Een van hierdie energieke pogings het ons twee, ek en Kona, gelei op 'n sirkelroete in die berg wat ons altyd ry. Binne 'n uur het ons beide (ek meer as die gespierde Kona) gewoontlik 'n goeie workout gehad. Daar is lang bulte, downhills, kort bulte, steiltes, rusplek langs 'n stroom op 'n stomp (net plek vir my) en dan die lang afdraend terug huistoe. Op hierdie spesifieke bloulug dag met een van die laaste lang afdraendes, met musiek in my ore en my gedagtes tussen die woorde en note verstrengel vlieg ons oor elke hobbel, mis die ongemaklike klippe in die pad en voel ernstig in beheer van hierdie feestelike rit. Iewers op/in/langs 'n skewe skelm draai besef ek te laat dat ek liewers sterker op die rit met ou Kona moes gefokus het. Ek voel soos Man van Staal (program op TV toe nog SAUK in die 1980's) met sy woorde:" Ek gaan val, ek gaan val......". Op 'n stadium het ek gedink ek moet probeer uitkom uit hierdie val, maar alles het te vinnig gebeur. Die volgende oomblik is ons reguit in die kant-wal in en ek voel soos pleister teen 'n muur en die musiek verander in klokke wat raserig lui en ek sien prentjies uit die verlede (sommige mooi, ander skrikwekkend). Iewers tussen die klokke en pleister onthou ek dat ek nie my vrou en kinders goed genoeg gegroet het nie. Dis toe dat alles stil word, net vir 'n wyle, want toe skiet die pyne deur sekere plekke op my lyf en ek onthou ook dat ek moet probeer asem kry. Maar daar is nie asem nie, niks nie en die klokke hou aan om te raas. Een van die mooi oomblikke was toe ek deur 'n skrefie van die pyn vars berglug koel oor my longe voel hyg. Dit was onaardige geluide soos die suurstof weer lewe in my pomp, maar ek besef ek moet stadiger asemhaal en nie te opgewonde raak nie. Dit was toe dat ek my lyf begin soek en voel of daar nie 'n oog of tand iewers loshang nie. Ek sien ou Kona neffens my teen die wal, net so moedeloos en hy glimlag nie oor hierdie reddingspoging nie.Na 'n ruk besef ek dat alles nog heel voel. Dit vat toe so vyf na tien minute om op te staan en ek is dankbaar dat die water en melk van die Karoo my jeuglyf goed laat groei het in 'n stewige raamwerk. Na ek my eie lyf weer reguit getrek het, maak vir Kona ook meer vaartbelyn en fiets-semetries. Ons ry met 'n ongemaklike gekreun (beide van ons) terug huis toe.
Oppad terug besef ek dieper as tevore dat ek moet keuses maak oor my lewensritte en selfs meer fokus. Ek moet bewus word van die skielike draaie, die mure in die pad........voordat die klokke lui. Ek het selfs daarna al 'n paar kere weer soos pleister teen mure al tepletterende van vorm verander en die klokke hoor lui en ek weet ek gaan nog baie. Ek weet ook ek staan in elkeen van daardie oomblikke op om te kies hoe om die volgende downhill te vat. Ek kan mos nie vir Kona alleen laat voel en elke slag nog 'n buig moet reguit maak nie.
No comments:
Post a Comment