|
Mvubus |
Verlede week hierdie tyd het ek nog nie my eerste koppie sawwe lyf ingehad nie. Hoofsaaklik as gevolg van Steve, die veldwagtergids, se planne om die dag 'n stywe stap in te kry. Hy het ons vroeg uit die vere gewikkel, dalk omdat hy nie die sonsopkoms wou mis nie. Die vorige dag in 'n gesels oor hulle werk het hy 'n opmerking oor hulle salarisse gemaak:"We get paid with sunrises and sunsets!". Ek is seker hy sal enige tyd 'n groter salaris in geldwaarde verwelkom, maar hierdie opmerking som sy hele houding en passie vir die natuur en sy werk uitstekend op. So het ons hom oor die volgende paar dae ook leer ken.
Sy kennis van bome, voels, die rotse en grasse was 'n lewende biblioteek om van te tap. Dit was by elke onbekende boom of voel soos om Wikipedia te gaan google. So was of is dit ook met Sambok wat na 30 jaar se veldervaring 'n wereld van kennis het wat min tot geen boek hom sou kon leer. So in die stiller oomblikke as ons langs die Olifants dalk sit en koffie drink, sal Sambok met woorde en sinne kom wat nie net filosofies is nie, maar ook 'n onskuldige onbewuste naiewe po
ësie ontbloot bv. indien hy iets van die rivier verduidelik en dan na 'n stroomversnelling wys met die woorde "...daar water die breek..."
|
Kamp langs die Olifants |
Die beste van alles was dat ons as hulle "studente" saam in die spore van die olifante (en baie ander diere), in die skadus van trosvye, jakkalsbessies, hardekool, njalabome (net om 'n paar te noem) en met die gesnork van die seekoeie en krokkeldille se lui-spartel die water in, kon leer of eerder skramslangs ontdek waar ons plek as mens-spesie behoort te wees.
Hierdie wereld waarin hulle saam met plante en diere in die veld kan leef, verskil so ongemaklik groot van ons eie stadsbestaan. 'n Groot deel van my menswees hoort daar (of in so tipe wereld) want dit is waar ek tuis kon voel en weer God se ritme van oor tot oor kon hoor. Hier waar ek nou sit, kan ek ook hierdie groter ritme hoor (ek kan nie anders as om dit te hoor nie), maar dit is anders, gans anders. Ek wens nie ek kan nou daar wees nie, want ek weet hier waar ek nou is, is goed en groots. Tog het hierdie lewenspasie (hulle wereld) diep in my bloed kom meng. En nou, nou kan ek vir my 'n derde koppie sawwe lyf gaan maak en steeds gaan google in die boswikipedia......
|
Onder 'n ficus sycomore |
No comments:
Post a Comment