DAG 2
So twee weke gelede gaan
koop ek items by ‘n apteek om my eie handontsmetters te maak. Alle klaar
vervaardigde handontsmetters was reeds uitverkoop en ons hande moet mos ontsmet word. Die kassier-dame het sulke blou
rubber handskoene aan, gereed om gereed te wees en die apteek se beleid om ‘n
veilige en ‘n kliniese omgewing vir die klient te bied. Ek plaas my items voor
haar neer en net voor sy dit neem gebeur die onverwagte. Dit is asof alles in
stadige aksie gebeur, want die sinapses van die boodskappertjies in my brein is
verstar in ongeloof, en hulle koes-koes (darem nie hoes-hoes) voordat hulle voortgaan
om te doen wat hulle moet. Die kassier-dame gee so lekker gewone nies, gelukkig
vir haar het sy haar handskoene aan en is haar nies-hand veilig. Sy het darem
met die nies weggedraai van my en veilig in die hand genies. Daarna gaan sy
dood luiters aan en vat my items wat voorheen heel skoon en ok was en bedoel was om self in ‘n ontsmettingskonkoksie gebruik te word, en lui dit op. Niks snaaks
het mos eintlik gebeur nie. Maar dit is 12 ure na ons President ‘n noodtoestand aangekondig
het en ons volk geleer het van nies en groet.
Gelukkig kom daar ‘n
kalmte oor my, na my aanvanklike verbasing en verstardheid. Dieselfde
breinboodskappers laat my blitsig insien hier kan nou verskillende senarios
afspeel en ek moet die beste een kies wat my nie op nasionale TV sal laat
beland nie. Dalk was dit eerder die gerieflikste een. Ons land het nie nou
konflik nodig nie en die ouens met die rooi oorpakke in die parlement gooi
genoeg kinderagtige vloermoere. Ek vat toe my goed en trek ferreira. Vir ‘n tyd
gaan daai apteek my nie weer sien nie (totdat ek weer iets nodig het en hulle ‘n
special het en ek weer uit my huis mag gaan om dit te gaan koop).
Onkunde is saligheid
Daar is ‘n gesegde in
Engels “Ignorance is bliss” (uitgeneem uit ‘n gedig van die 18e eeuse digter
Thomas Gray) wat waarskynlik in Afrikaans vertaal kan word met “onkunde is
saligheid” (Google). Dalk het sy nie van beter geweet nie en is sy nog steeds
salig onbewus van alles en is haar hand ten minste skoon. Sy het mos haar rubberhandskoene aangehad. Maar dalk het ek
gekies in daardie oomblik om nie te weet nie, want wat ek eintlik weet gaan my
te veel ontstel en die koers van my dag op ‘n ongemaklike pad sit. Ek maak maar eerder asof ek nie gesien het nie. Ek is dan mos nie bewus van wat gebeur het nie. So, “ignorance
is bliss”.
In die Bybel is daar ‘n
hele boek waarin al die verhale skouer skuur hiermee. Een van die frases wat
gereeld gebruik word in Rigters is “en elkeen het gedoen wat goed was in hulle
eie oë” en een van die groot redes was dat hulle of vergeet het van God se pad
met hulle en daarom onkundig was. Of hulle het so half en half subtiel
gerieflik gekies het om nie te weet of wil weet van God se pad nie. Dit is baie
makliker om te doen wat goed is vir myself. Die gevolge kan rampspoedig wees.
Die ander kant is ook
waar. Om terug te kom na God en sy Pad te vat, bewustelik en daarop te bly loop
en sy Wil te leer ken en deur Hom gevorm te word, so tussen die niese,
handontsmetters, pandemie en slot-af-tye.
As ek nou hierdie bewustelike
oomblik beleef, wat behoort ek nou te doen aan die apteek-nies-situasie? Ek kan
nou niks daar gaan doen nie, maar ek gaan dit in ‘n grappie-kas van my brein
stoor en kies om daaroor te lag. Dit was “iets”, maar ek is nog ok en tog was dit op ‘n manier snaaks. Dit hang af hoe ek dit vertel en ek het mos so bietjie
kennis opgedoen deur die stap van die Pad.
Kennis is mag, het my ouma
altyd gesê, en ook bevrydend wanneer dit reg, goed en tot voordeel van almal
gebruik word.
Mag ons vandag bewus wees, van God, van mekaar en met insig lewe!
No comments:
Post a Comment