Wednesday, June 30, 2010

Ons en my Vuvu

Daar is 'n groter mag wat oorgeneem het toe die kinders Maandagaand hier by die voordeur inwals. Dit is 'n mengelmoes van energie, kontaksport, liefde, Australiese krieketspansportgees, passie en het ek al gese liefde. Behalwe vir my tuisgemaakte Afrika kameelperdbroek (ek is mal daaroor en dankbaar vir my vrou) waarvoor die kinders skaam gelag toe ons hulle by die bus gaan oplaai het (Emme kon omtrent nie uitklim van die lag en skaamte nie), het hulle met die intrap my Vuvu oorgeneem. Of so dink hulle. Ek maak nog steeds of ek die diknek is en het redelik onmiddellik met groot ontsteltenis die grondreels vir die gebruik van (my) Vuvu vasgemaak. My ontsteltenis was in die eerste plek om te sien en hoor hoe gemaklik hulle die Vuvu blaas. In die tweede plek was ek ook ontsteld oor die selfvertroue waarmee hulle (my) blaas-selebrasie gebruik sonder om te bloos. Ek dink wel dit is dalk net Emme wat 'n effe blos optel, want Nehan en Henu se blaas-asem prosesseer baie gemakliker as hare deur  (my) Vuvu se gat (uitgespreek as gaat). Ek vermoed dis is omdat sy dalk meer van die grootmensword in en deur haar lyf gevoel en van die kinderlikwees daarmee saam begin verloor het (ook iets waaroor ek ontsteld kan word, maar ek gaan nie nou al nie).
Ek het gedog dat my gevleuelde klanke uit (my) Vuvu maak die buurt wakker uit hulle ingedagtegeit. Soos ek se, ek het gedog. Toe Henu, die kleinste van die spul blasers, die klanke laat uitselebreer, was dit suiwerder en harder as gevleueld. Dit was een van die redes vir my spoedige grondreels. Nog 'n rede was/is dat die trilling en rilling wat via my ore (miskien ook deur al die porieuse openinge van my vel) deur my lyf gestroom het toe die kleinman blaas, het my laat vrees dat daar meer as net die buurt wakker gaan word. Sien die ou kerkhof rus lankal agter een van ons grensmure en daar is so paar grafstene wat hoeka te skuins na my sinne is. Nie dat ek glo in die tipe van goeters nie, maar met hierdie klanke weet mens nooit. Daarom het ek liewer veilig gespeel en met 'n reguit rug en stywe nek die reels vasgemaak en pas dit beter toe as die sokkerskeidsregter die sokkerreels.
In kort het hulle net gebruiksreg van (my) Vuvu, maar hoe kan mens die selebrasie uit die oomblik uithaal en die nie toelaat dat hierdie blaas-selebrasie-tool 'n goeie deurgang word vir ons emosies nie.
Ek dink........ons almal het dit nodig.....

Monday, June 28, 2010

Lief genoeg?

Daar klop net-nou iemand aan die deur. Dis een van die Jeffreysbaai tieners wat nou al oud, getroud en hier in George woon en werk. Hy het verlede jaar sy werk by 'n boukonstruksie-maatskappy verloor en toe maar self 'n handyman en verf besigheid begin. Dit knor vir hom op die oomblik, want indien iemand wel in hierdie broekskeurtye bou, breek en verf, gebruik hulle die ou en betroubare name in die besigheid. Hy moet skuld en huur betaal. Hy stop desperaat vir my sy besigheidskaart in my hand as ek dalk weet van iets. Hy hoop en reken seker ek is konnekted in die gemeenskap en sal weet. My hart begin brand hier binne my. Ek sien hier langs sy oe die plooie van die jare se maklik lag (want dis wie en hoe hy is), maar dit is dieper as wat dit moet wees van net lag en ouderdom. Die stres-strepe maak sy plooie ouer en sy oe en liggaamshouding moedeloos. Dit ruk my en ek wonder hoe ek nou God se liefde en hoop kan weerkaats op hierdie snaakse bergwinderige wintersdag. Sommer so op die stoep probeer ek luister na al sy stories en vra maar uit. Eintlik voel ek self moedeloos van al hierdie soortgelyke stories. Maar hoe kan ek liefgenoeg he dat hierdie Liefde waaraan ek vasklou en  ruimtes wil help skep sodat ander die ooptes daarvan kan ervaar, soos 'n permanente lenteblom vir hom kan oopgaan. Hy ken God se liefde en staan dapper en vertel van sy pleitgebede. Dis rougebede daardie, wat soos stofwarrels agter elke tree vir hom le. Want hy trap diep om staande te bly op Moeder aarde. Uiteindelik is hy hier weg na 'n flouerige poging om hom te bemoedig.
Ek wonder nog steeds: "hoe is dit as ek lief genoeg het? Die woorde kom by my op (dis nie noodwendig 'n antwoord nie, maar help my om nou persoonlik sin te maak):

  • As jou hart saam krimp
  • As jy iets kan doen en dit doen
  • As jy saam droom en hoop, want hoop vra aksie en dan saamstap om hierdie drome te realiseer

Ek besef die lysie kan langer raak, maar dit is waar ek nou wil stop. Dit voel klaar na 'n ingewikkelde uitdaging wat so eenvoudig is.

Friday, June 25, 2010

Gate

Vanoggend stap ek deur die huis, nie soos 'n dapper muis, en raak bewus van hierdie groot gaterige leemte. Die stilte van die huis die afgelope week was great, maar daar was 'n gemis. Ons drie kinders kuier die afgelope week in die Strand by Elise se ouers. Die dag-tot-dag kinder-intriges van die Pretoorskroos was blote skadus teen die muur (ai ek is vandag so poeties). As hulle hier is, is selfs die stiltes volgemaak met hulle voluit kindwees. Nou is hulle nie hier nie en ek soek hulle oggendklanke en reuke.
Wanneer ons drie kinders praat van 'n gat, dan klink dit soos 'n gaat (nie ek of Elise praat so nie en ek weet nie watter uitspraak-invloed het hierdie soort praat geklank nie). Dalk is dit 'n misterieuse opvoedkundige en taalkundige gaat in ons huishouding. Hoe dit ook al sy, daar is 'n gaat hier by ons as hulle nie hier is nie.
Ek kan ook nie help om sommer vandag te dink aan almal met gate (uitgespreek: gaate) nie. Daar is diegene wat iemand verloor het, iemand wat nie meer daar is nie (al leef daai iemand nog), iemand wat dalk nog nooit daar was nie. Ek dink veral aan sulke mense. Ek dink ook aan hulle wat 'n gat (nog steeds uitgespreek as gaat) in die beursie beleef, en hulle wat gate in hulle gesondheid ervaar, ook hulle wat gate in die koskaste en in hulle dakke het. Daar is nog baie ander......
As Brazilie die Portugese aanvat en ek blaas my groengeel Vuvuzela, sal ek nog steeds aan almal met gate dink. Ek dink (soos ek al genoem het, ek dink soms.....as my gedagtes my toelaat) dat wanneer ek deur daai klein gaat my selebrasie-asem deur my vibrasie-lippe uitlaat, dan blaas ek 'n blaas vir almal met gate. Ek en my Vuvu gaan nie net bloos-blaas nie, maar ook diep-blaas....

Thursday, June 24, 2010

Vuvuzela-bloos na blaas

Vandag het ek teen wil en dank van my geliefde, vir my 'n Vuvuzela gekoop. Hy/sy is  gekleur met die kleure van Brasilie. Ek kan nie besluit of die Vuvu 'n hy of sy is nie, want dit is nie 'n dit nie. Na Bafana is Brasilie my span, net omdat ek hou van die vorige wereldklas speler Ronaldo en omdat dit 'n Suid-Amerikaanse span is wat hierdie rondebalspel so passievol leef en speel. Ek is nie 'n musikale kalant nie en het dit my so paar privaatgeslotedeur-sessies geneem om agter die kap van die byl te kom om hierdie selebrasie-instrument tot sy/haar reg te laat kom. Die blaasklanke wat ek voortbring klink nie so dringendoorverdowerend soos die skares in die stadions nie, maar blaas gaan ek hom/haar blaas (dalk meer in my private hoedanigheid). Hoe meer ek blaas, hoe minder selfbewus word ek. Ek het in die eerste drie blaaspogings myself gevang dat ek bloos (nie blaas nie). Ek het totaal magteloos gevoel oor die soort klank wat so pofadder-agtig uitkom. Dit het darem gepaard gegaan met 'n vrypostige laggie. Na 'n hele paar uitasem pogings, met vasberadenheid en 'n bo-aardse rustigheid, het die liptegniek ewe skielik gebeur en kon ek my ore nie glo. Elke blaas daarna het effe beter gegaan en was weer onkeurbaar vergesel met 'n giggelopgewondelaggie. Volgens navorsing is dit gesond om te lag daarom het ek geweet hierdie was 'n goeie ervaring. Ek is nie 'n klankkalant nie en is hierdie blaas-selebrasie 'n oorwinning van 'n ander dag. Alles het nog agter 'n toe deur gebeur en ek het daar uitgestap asof "niks" gebeur het nie en as iets gebeur het, dan het ek hierdie rondte met my Vuvuzela gewen.

Soos ek wegstap van die geslote sessie en my Vuvu trots gaan staanmaak op my lessenaar, besef ek daar is rede hoekom mens nie die vuvuzela's alleen blaas nie. Om fees te vier kan nooit regtig alleen gebeur nie, daar is ander asems en klanke nodig. Maar vir my was hierdie geslote blaas-selebrasie goed, dalk gaan daar nog sulkes wees. Tog weet ek kan dit ook great wees om saam met ander te blaas-bloos-lag. Alleen of saam, maak nie vir my saak nie. Ek het my Vuvu......

Saturday, June 19, 2010

Twee kante

Daar is baie kante aan die lewe (sonder om eers te filosofiese of intelektuele pogings aan te wend), maar daar is twee daarvan wat nou vir my duidelik word. Die eerste is die hoop-kant van die lewe. Soos die hoop wat SA het dat Bafana na die volgende rondte van WC sokker gaan en kan deurdring. Twee van die baie stemme wat hoop se lied besing praat die volgende mooi woorde....
Hope is faith holding out its hand in the dark.  ~George Iles
en
Hope is the thing with feathers 
That perches in the soul. 
And sings the tune 
Without the words, 
and never stops at all.
Emily Dickinson (1830 - 1886)  


Dan is daar ook die hooplose-kant van die lewe wat 'n hopelose kant is. Dit is vir my wanneer die realiteite waardeur hoop oomblik vir oomblik breek of moet breek, te groot , hard en ondeurdringbaar is en lyk. Na die wedstryd teen Uruguay was hoop se rug gebreek vir die sokker drome van span en die ondersteuners. Die realiteit van die oomblik is dat hierdie spanne wat hier speel is 'n klas of vier beter as waaraan ons gewoon is in ons stadions. Twee van groot donkerpraters van die verlede het so ge-gal: 
In reality, hope is the worst of all evils, because it prolongs man's torments.  ~Friedrich Nietzsche,Human, All Too Human, 1878
en
He who despairs over an event is a coward, but he who holds hope for the human condition is a fool.
Albert Camus (1913 - 1960)The Rebel (1951)





Hoop sal daar altyd wees en so ook hooplose tye. Ek dink amper in die kerklike stadions word daar van die spanning tussen die "alreeds" (positiewe en negatiewe realiteite) en die "nog nie" (die hemelse wat nog moet kom) gepraat en dat hoop die brug daartussen 
span
. Hoop vul ons atmosfeer sodat ons kan asemhaal. Camus en Nietzche sal waarskyn van my verskil en eerder wil se dat hoop die atmosfeer toksifiseer (haha vir die angloboere haters).


Ons hoor gereeld: "Feel it, it is here". So wil ek ook woorde gee aan en leef met hoop.  By dit alles, is die van ons wat onsself by die hoopkant van die lewenstadion skaar word sonder dat ons veel daaraan kan doen, vuvuzela-agtig opgesweep om wel met hoop te leef en hoop te skep. 

Tuesday, June 15, 2010

Koue lywe, snare en ritme

Dis ongelooflik hoe 'n mens se liggaam reageer op die eksterne dinge soos die sterkte van die son se strale of die wind se koue rillings deur die gleuwe van jou klere of oop deure en vensters. Dis vir my net so bewonderingswaardig om te ervaar hoe ons gesnaar is en hoe dit verband hou met eersgenoemde. Ek bedoel daarmee hoe 'n mens se geduld en ongeduld, ons emosionele belewinge en liggaamlike response gesinkroniseer is met die aanvoelbare dag en nag temperature. Daar is seker mooi fisiologiese verklarings, maar dit bly interessant. As jou lyf stokstyf , jou vingers dom (en jou gedagtes op 'n ander plek) is van die koue of  'n mens is lam en tam van die hitte, dan wil jy ander of naby of ver van jou af kry. Klim in 'n koue bed, dan soek jy 'n warm lyf. Klim in 'n warm bed, dan soek jy spasie vir die nasie. As die koue of hiite jou omketel, dan word jou woorde korter en kragdadig stomper. Dalk is dit maar 'n klein persentasie van ons homo sapiens wat met koue lywe stadiger is om warmer te reageer of as ons warm  is (nie die alkoholiese warmte nie) sukkel om koeltes te skep vir ander. Dalk is dit omdat daar snare is wat gebreek het of  bloot 'n tekort daaraan. Party van ons is doodgewoon kouer persone en ander weer warmer. Ek dink wel (ek probeer dit soms doen) dat ons soms die konneksies (ek weet daar bestaan nog nie so Afrikaanse woord nie) van ons snare kan ondersoek. Ek het ook 'n vermoede as die konneksies nie goed is nie, dan gaan selfs 'n kamertemperatuurlewe nie goed genoeg wees en dan  reageer mens ook te koud of te warm. My Bybelse vermoede is dat die konneksies van die snare wat ons reaksies en ons lywe en emosies verbind, vasgesoldeer moet wees met iets soos die liefde. Gaan lees maar die dofgeleesde 1 Kor 13.
Vandag is dit frieken koud (vrye afrikanistiese vertaling van "ysig"). Die kaggel (ons is bevoorreg) brand voor dit donker word en jou lippe, tong en bloed soek die hitte van een of ander soetwyn/sherrie. Tog bly my lyf stokkerig en vingers en ander ledemate se IK pynig baie laag. Die eerste uitdaging van met my koue lyf en dun snare is die wyse waarop my geliefde kinders elke hoekie van hulle ingehokte energie-grense ondersoek en ontbloot. Dan is daar ook die saam-langs-die-doodsbed van 'n ma wie dogter satmoeg gehuil is met net 'n goedgemanierde glimlag om te gee en ook die asemsnakke van 'n tannie na 'n beroerte in 'n koue hospitaal.
Iewers tussen al die gebede en soeke na warmte vir  koue lywe glip 'n warm Goddelike gloed deur al die ysigheid. Ek besef stadig maar ook skielik dat die konneksies van al my snare en koue lyf, elke dag oorgeSoldeer  kan word deur 'n oorgee-lewe-lyf aan hierdie warm Gloed. Dis dan ook ongelooflik hoe my snare 'n ander lied begin speel as my eie koue instink ritme........

Saturday, June 12, 2010

Passie

Hoewel die openingskonsert van die 2010 World Cup sokker vele tegniese tekorte geblaps het, het die (kompakte) openingseremonie van gister voor Bafana se wedstryd my trots gemaak. Dit voel kompleet of ek redelik emosionele gedagtes begin wys, deesdae, want ek het diepgesluk dat die trotsknop in my keel nie te seer raak nie. By die konsert van Donderdag was Desmund Tutu se passie vir die lewe, vir mense en die land 'n inspirerende knopkeel ervaring en verseker een van die hoogtepunte. Baie mense kry waarskynlik 'n pyn in die keel van ander tipe emosies as my eie, maar dit is mos maar so.
Tot op die laaste minuut van onse Bafana wedstryd was ek trots en het hulle hul land se naam hoog gehou en respek afgedwing. Daar was passie in die spel van altwee spanne. Dit was great en 'n goeie aanvulling tot die OOMBLIK wat ons nou hier en reg oor die land ervaar. Ek dink ons is bevoorreg om NOU hier te kan wees en vuvuzela's in oor te hoor raas. Dis erg, hierdie klank, maar dit is great.
Ons is nou oppad na 'n vriend se 50ste verjaarsdag. Ek leer elke keer van hom oor die lewe. Hy stap elke tree, die moeilikes en maklikes, met groot passie, en drink voluit van die waterstrome waarby hy kom. Ons gaan eers 'n een of ander sokker-wedstryd op hulle plaas speel en dan die res van die vieringe soos eet en drink.
Met al hierdie dinge voorbeelde leer ek nog steeds hoe om te leef en dalk met meer passie as in die verlede, want nou is al wat ons het....

Wednesday, June 9, 2010

Die gekappery aan die bome (die lewe is kort)

Hier uit die bloute in 'n oomblik tussen twee besigwees momente neem ek onse kerk se maandblad. Iewers vang my oog die artikel van bome wat geval het en ek sien een van my proffies, my koshuisvader en pa van  studente-vriende is een van hierdie inheemse reuse wat geval het. Ek huil, diep en onbedaarlik hier iewers waar niemand kan sien of hoor nie. Ek gryp die telefoon en bel een van sy seuns en studente vriend en gesels 'n gesels wat lankal moes gesels gewees het. Toe ek klaar is en die rooi knoppie druk, is dit 'n diepe groet in my wat nie klaar is nie. Ek was weg met langverlof toe dit gebeur het en as ek hier was sou ek die groet-ritueel in Stellenbosch meegemaak het. Oom Danie, Dok (soos ons in koshuis hom genoem het), het spore in my getrap waarvan ek gehou het. Toe hy begin siek raak het ek vir Elise genoem dat dit een van die groet-rituele is wat ek verseker sal bywoon. Ek kon nie, ek was in Mosambiek en salig onbewus van alles. Sy siekte kom 'n lang tyd aan en ek het selfs gedroom van hom. Nou moet ek woorde gee aan die prentjies hier in my. Die paar oomblikke saam met sy kinders en vrou (die lewe is kort) het my indruk van hom altyd versterk. Ek knyp-knyp aan my trane wat ek gedog het nooit sou dampgee nie. Ek onthou die rooitapyt-tye van die Huiskomitee daar in sy pypgegeurde (het nooit uitgevind watter tabak hy rook nie) studeerkamer, die etiek-skema's in sy klas, die gerookte snoek en rooiwyn by hulle huis, sy lepel-le storie met tannie Elsa en sommer net sy mens-menswees saam met ons. Maar hierdie boom is gekap en die lewe is kort........

Daar is musiek in 'n druppel

Wanneer dit na 'n lang tyd begin reen het op die plaas, dit was kleintyd, het my pa altyd op die stoep gaan sit. Ek was hartstilstandbang vir die donderweer, maar het soms by hom gaan sit asof ek sou kon keer dat die bliksemstrale hom tref. Die sinkdak van die huis het ons toegelaat om elke druppel te hoor en waardeer. Op die stoep was dit meer intens, meer in stereo en 'n soort 3d ervaring. Jy was oorverdowerend binne die reen, maar nie binne-in nie. As dit so begin reen het, was my pa se woorde altyd: "Hoor die musiek!" Dit was dankbare woorde wat 'n boere-Godkind-lied verteenwoordig het en ook ingetrek is in 'n weerlose oophand voet op en in die grond langsaan plant en dier bestaan.
Gisteraand en vanoggend het hierdie lied weer in my ge-eggo met die wysie van "Hoe groot is ons God" wat ons Sondag gesing het. Ek voel meesal te klein en getroebel om die lied reg en goed te kan sing, maar tog sing ek. Op 'n dag soos vandag is daar 'n lied in elke druppel en gaan ek my pa se woorde gebruik: "Hoor die musiek!"

Monday, June 7, 2010

Stof en roes en fietsry en Wind

Na 'n lang breek en weg van enige prekerig-situasie (behalwe vir my kinders) was Sondag en verlede week 'n grootse uitdaging om my roes en stof van ontslae te raak. Dit is nie net met die voorbereiding en saam-wees in die eredienste van Sondag nie, maar dit was en is ook in my persoonlike ruimtes.
Wat die eredienste betref kan mense seker reken dat dit soos fietsry is. Vra maar vir enigiemand wat na 'n langtyd weer op die saal van 'n fiets klim en enige bult en afdraand aanpak. Behalwe vir die pyne onder en in jou boude en bene is die melksuur eers regtig aan die werk twee dae later. 'n Vriend noem nou ander dag dat om nuwe gewoontes aan of af te leer neem ongeveer 30 dae van aanhou. Dit maak vir my sin en besef ek dat ek gelukkig geen keuse het as om aan te hou nie.

Op my bergfiets in my stowwerige garage is die stof nog dik, en van die staan by die see het daar ook roes ingeslyp. My studeerkamer en garage is op lys om goed afgestof te word en enige verwering uit die weg te ruim. Dit moet en gaan nou alles gebeur tot groot vreugde van my vrou.

Ek besef ook dat hierdie afstop, ontroesing en selfs op die saal-klim ervaring dieper loop as net 'n paar domestieke (my skepping, weet nie eers of daar so woord bestaan nie) ruimtes. Om onder die boom te leef, sny altyd dieper want daar is 'n groter Wind wat verby trek. En dit is 'n goeie en uitdagende ervaring. In so pad is daar altyd die soms spanningsvolle momente van keuses wat gemaak moet word: Wat om net af te stof, wat om weg te gooi en wat moet aangepas word om meer leefbaar te leef en saam-leefbaar te wees? Dit is die journey van my tyd.

Iewers sal die erediens-melksuur en roeserigheid en dik lae stof minder raak en sal ek dalk minder uitasem van die saal kan afklim. Die Asem-Wind van God waai nog altyd en waai op Sy manier goed in elkeen van ons......ook in my.

Wednesday, June 2, 2010

Nice?

Daar was iewers in die verlede 'n ad op TV oor 'n eienaar van 'n motortjie wat 'n sypaadjie-moer (in analoog van 'n vloermoer of tantrum) gegooi oor iemand wat sy motor as "nice" beskryf het. Ek dink hy het groot verwagtings gehad. Volgens die woordeboek kan dit ook cosy, spacious, beautiful beteken. Oor die algemeen beteken dit vir my aangenaam, aanvaarbaar, dit spreek my aan. Soms weet ek in die manier waarop ander dit gebruik: "Dis niiiiccce" dat daar 'n afstand is, dit is 'n kompliment maar dit kom van iewers onder die vel en nie regtig uit die hart nie. Dis dieper as die vel maar vlakker as die hart.
Vandag het ek 'n ervaring gehad wat vir my nice was. Dit was dieper as die vel tot in die hart van my sin-maak-bestaan. Binne my verwysingsraamwerk....nice. Nie soos die Ad of soos party dit bedoel nie. Die ervaring het met 'n naderbeweeg aan mekaar te doen. Dit het te doen gehad met elke party wat so bietjie opgegee het, geoffer het en in die proses 'n tree nader aan mekaar gegee het. Dis nie iets buite hulself nie, maar diep en inherent aan hulle soeke om 'n sinvolle bestaan saam met ander mense te maak. In my boek is dit nice. 'n Nice ervaring van mense en nice ervaring van mense se interaksie met mekaar. Dis ook Goddelik, want dis 'n soeke na die beste vir elkeen en die ander. Uiteindelik, so interpreteer ons die lewe, is dit om God te verheerlik, om 'n song te sing, om "intune" te kom met God se torah, om in die ritme van Eks 20 en Matt 22 voluit te leef. Dis nice.....