Dis ongelooflik hoe 'n mens se liggaam reageer op die eksterne dinge soos die sterkte van die son se strale of die wind se koue rillings deur die gleuwe van jou klere of oop deure en vensters. Dis vir my net so bewonderingswaardig om te ervaar hoe ons gesnaar is en hoe dit verband hou met eersgenoemde. Ek bedoel daarmee hoe 'n mens se geduld en ongeduld, ons emosionele belewinge en liggaamlike response gesinkroniseer is met die aanvoelbare dag en nag temperature. Daar is seker mooi fisiologiese verklarings, maar dit bly interessant. As jou lyf stokstyf , jou vingers dom (en jou gedagtes op 'n ander plek) is van die koue of 'n mens is lam en tam van die hitte, dan wil jy ander of naby of ver van jou af kry. Klim in 'n koue bed, dan soek jy 'n warm lyf. Klim in 'n warm bed, dan soek jy spasie vir die nasie. As die koue of hiite jou omketel, dan word jou woorde korter en kragdadig stomper. Dalk is dit maar 'n klein persentasie van ons homo sapiens wat met koue lywe stadiger is om warmer te reageer of as ons warm is (nie die alkoholiese warmte nie) sukkel om koeltes te skep vir ander. Dalk is dit omdat daar snare is wat gebreek het of bloot 'n tekort daaraan. Party van ons is doodgewoon kouer persone en ander weer warmer. Ek dink wel (ek probeer dit soms doen) dat ons soms die konneksies (ek weet daar bestaan nog nie so Afrikaanse woord nie) van ons snare kan ondersoek. Ek het ook 'n vermoede as die konneksies nie goed is nie, dan gaan selfs 'n kamertemperatuurlewe nie goed genoeg wees en dan reageer mens ook te koud of te warm. My Bybelse vermoede is dat die konneksies van die snare wat ons reaksies en ons lywe en emosies verbind, vasgesoldeer moet wees met iets soos die liefde. Gaan lees maar die dofgeleesde 1 Kor 13.
Vandag is dit frieken koud (vrye afrikanistiese vertaling van "ysig"). Die kaggel (ons is bevoorreg) brand voor dit donker word en jou lippe, tong en bloed soek die hitte van een of ander soetwyn/sherrie. Tog bly my lyf stokkerig en vingers en ander ledemate se IK pynig baie laag. Die eerste uitdaging van met my koue lyf en dun snare is die wyse waarop my geliefde kinders elke hoekie van hulle ingehokte energie-grense ondersoek en ontbloot. Dan is daar ook die saam-langs-die-doodsbed van 'n ma wie dogter satmoeg gehuil is met net 'n goedgemanierde glimlag om te gee en ook die asemsnakke van 'n tannie na 'n beroerte in 'n koue hospitaal.
Iewers tussen al die gebede en soeke na warmte vir koue lywe glip 'n warm Goddelike gloed deur al die ysigheid. Ek besef stadig maar ook skielik dat die konneksies van al my snare en koue lyf, elke dag oorgeSoldeer kan word deur 'n oorgee-lewe-lyf aan hierdie warm Gloed. Dis dan ook ongelooflik hoe my snare 'n ander lied begin speel as my eie koue instink ritme........
No comments:
Post a Comment