Wanneer dit na 'n lang tyd begin reen het op die plaas, dit was kleintyd, het my pa altyd op die stoep gaan sit. Ek was hartstilstandbang vir die donderweer, maar het soms by hom gaan sit asof ek sou kon keer dat die bliksemstrale hom tref. Die sinkdak van die huis het ons toegelaat om elke druppel te hoor en waardeer. Op die stoep was dit meer intens, meer in stereo en 'n soort 3d ervaring. Jy was oorverdowerend binne die reen, maar nie binne-in nie. As dit so begin reen het, was my pa se woorde altyd: "Hoor die musiek!" Dit was dankbare woorde wat 'n boere-Godkind-lied verteenwoordig het en ook ingetrek is in 'n weerlose oophand voet op en in die grond langsaan plant en dier bestaan.
Gisteraand en vanoggend het hierdie lied weer in my ge-eggo met die wysie van "Hoe groot is ons God" wat ons Sondag gesing het. Ek voel meesal te klein en getroebel om die lied reg en goed te kan sing, maar tog sing ek. Op 'n dag soos vandag is daar 'n lied in elke druppel en gaan ek my pa se woorde gebruik: "Hoor die musiek!"
No comments:
Post a Comment