Daar klop net-nou iemand aan die deur. Dis een van die Jeffreysbaai tieners wat nou al oud, getroud en hier in George woon en werk. Hy het verlede jaar sy werk by 'n boukonstruksie-maatskappy verloor en toe maar self 'n handyman en verf besigheid begin. Dit knor vir hom op die oomblik, want indien iemand wel in hierdie broekskeurtye bou, breek en verf, gebruik hulle die ou en betroubare name in die besigheid. Hy moet skuld en huur betaal. Hy stop desperaat vir my sy besigheidskaart in my hand as ek dalk weet van iets. Hy hoop en reken seker ek is konnekted in die gemeenskap en sal weet. My hart begin brand hier binne my. Ek sien hier langs sy oe die plooie van die jare se maklik lag (want dis wie en hoe hy is), maar dit is dieper as wat dit moet wees van net lag en ouderdom. Die stres-strepe maak sy plooie ouer en sy oe en liggaamshouding moedeloos. Dit ruk my en ek wonder hoe ek nou God se liefde en hoop kan weerkaats op hierdie snaakse bergwinderige wintersdag. Sommer so op die stoep probeer ek luister na al sy stories en vra maar uit. Eintlik voel ek self moedeloos van al hierdie soortgelyke stories. Maar hoe kan ek liefgenoeg he dat hierdie Liefde waaraan ek vasklou en ruimtes wil help skep sodat ander die ooptes daarvan kan ervaar, soos 'n permanente lenteblom vir hom kan oopgaan. Hy ken God se liefde en staan dapper en vertel van sy pleitgebede. Dis rougebede daardie, wat soos stofwarrels agter elke tree vir hom le. Want hy trap diep om staande te bly op Moeder aarde. Uiteindelik is hy hier weg na 'n flouerige poging om hom te bemoedig.
Ek wonder nog steeds: "hoe is dit as ek lief genoeg het? Die woorde kom by my op (dis nie noodwendig 'n antwoord nie, maar help my om nou persoonlik sin te maak):
- As jou hart saam krimp
- As jy iets kan doen en dit doen
- As jy saam droom en hoop, want hoop vra aksie en dan saamstap om hierdie drome te realiseer
Ek besef die lysie kan langer raak, maar dit is waar ek nou wil stop. Dit voel klaar na 'n ingewikkelde uitdaging wat so eenvoudig is.
No comments:
Post a Comment