Vanoggend stap ek deur die huis, nie soos 'n dapper muis, en raak bewus van hierdie groot gaterige leemte. Die stilte van die huis die afgelope week was great, maar daar was 'n gemis. Ons drie kinders kuier die afgelope week in die Strand by Elise se ouers. Die dag-tot-dag kinder-intriges van die Pretoorskroos was blote skadus teen die muur (ai ek is vandag so poeties). As hulle hier is, is selfs die stiltes volgemaak met hulle voluit kindwees. Nou is hulle nie hier nie en ek soek hulle oggendklanke en reuke.
Wanneer ons drie kinders praat van 'n gat, dan klink dit soos 'n gaat (nie ek of Elise praat so nie en ek weet nie watter uitspraak-invloed het hierdie soort praat geklank nie). Dalk is dit 'n misterieuse opvoedkundige en taalkundige gaat in ons huishouding. Hoe dit ook al sy, daar is 'n gaat hier by ons as hulle nie hier is nie.
Ek kan ook nie help om sommer vandag te dink aan almal met gate (uitgespreek: gaate) nie. Daar is diegene wat iemand verloor het, iemand wat nie meer daar is nie (al leef daai iemand nog), iemand wat dalk nog nooit daar was nie. Ek dink veral aan sulke mense. Ek dink ook aan hulle wat 'n gat (nog steeds uitgespreek as gaat) in die beursie beleef, en hulle wat gate in hulle gesondheid ervaar, ook hulle wat gate in die koskaste en in hulle dakke het. Daar is nog baie ander......
As Brazilie die Portugese aanvat en ek blaas my groengeel Vuvuzela, sal ek nog steeds aan almal met gate dink. Ek dink (soos ek al genoem het, ek dink soms.....as my gedagtes my toelaat) dat wanneer ek deur daai klein gaat my selebrasie-asem deur my vibrasie-lippe uitlaat, dan blaas ek 'n blaas vir almal met gate. Ek en my Vuvu gaan nie net bloos-blaas nie, maar ook diep-blaas....
No comments:
Post a Comment