Friday, July 30, 2010

Kyk, luister en ruik

Hierdie uittogstaptog wat ek die afgelope week in die Kruger Wildtuin aan deelgeneem het, laat drie in een waar word vir my. Ek wou nog altyd op 'n Game-kar ry, ek wou nog altyd op die paaie ry waar die geen-toegang borde (in die Sanparke)  is en ek wou nog altyd eerder saam met die veldwagters in die veld stap as om net bloot te ry in die Parke (ek weet laasgenoemde klink se effe bederf). Wel, ek was en is ontsettend bevoorreg en dankbaar vir hierdie natuur-avontuur.
 Binne die eerste 50 tree van stap, raak ons bewus van 'n ondergrondse vrot geruik. Dis luiperd se kind (of eerder pa) en te oordeel aan die spore 'n gewigtige ou daarby.  In die wildpaadjie wat ons begin stap, sien ons gou die luiperdmis so vars as wat jy kan kry, g'n wonder mens kry so neus-toe-druk gevoel . Die spore is mooi getrap in die sand en ons mensekind kan met respek verder stap met alle sensors  opgeslaan, soos 'n wafferse kampeerder teen sononder. Elke ritseling is dalk, net dalk die venster wat ons 'n oomblik met hierdie luiperd kan deel. Dis opwindend om te weet dat nie te ver van ons hierdie katkind vir ons met 'n skalkse gerasper beloer. Dis hoe ons begin stap op hierdie 42 km roete, al langs die besoedelde Olifantsrivier wat Limpopo en Mpumalanga in twee provinsies verdeel. Die Veldwagtergids, Steve Oosthuisen en sy assistent, Sambok Tzambukeri (niemand wat Afrikaans gepraat het kon 35 jaar gelede sy van ordentlik uitspreek nie en so word hy toe Sambok), se dapper en gemaklike kennis van plant, grond en dier maak vir ons 'n wereld oop. Dit lyk of hulle net stap, maar hulle stap diep al trap hulle sagte spore lig op die grond. Hulle passie vir die natuur word daglig sigbaar en oorverdowerend hoorbaar soos ons aanstap (al praat hulle min en sag om niks weg te jaag nie). Hulle houding maak my wakker om saam te kyk na alles om my, ver te luister na elke klank en goed te ruik aan elke geur wat met die rugkant-windjie vriendelik en soms waarskuwend aan gefladder kom. Soos ons aanstap oor die 4 dae word ek al meer seker dat hierdie manne in 'n ander dimensie kyk, luister en ruik. Hulle is ingestel op alles om hulle en met hulle massiewe .457 gewere gereed om hulle gaste te verdedig (as dit regtig nodig is). 

Saturday, July 24, 2010

Kaarte speel

Ons het 'n vriendin (nie die een waarvan Koos K sing nie, want hierdie vriendin het nie 'n woonstel nie en speel nie gereeld klavier nie) wat altyd noem dat mens die kaarte wat aan jou uitgedeel word, moet speel. Wel ons (ek) leer by haar, keer op keer. Dit het nou al baie gebeur so in die drafstap deur die lewe en ook in die sit-sit oomblikke dat ek glad nie die kaarte sien wat uitgedeel word nie. Hierdie onbewustelike onbewustelikheid is 'n storie vir 'n ander dag omdat dit seker krap aan 'n dieper knalpunt wat niks met die evolusie uit te waai het nie.

Ek was bevoorreg om nou ander dag 'n kaart te sien en te vat wat aan my uitgedeel is. Vir 'n slag was ek by my algehele positiewe bewustelike. Soos ek hier sit en speel op die klawers van die sleutelbord, soos 'n wafferse vriendin van 'n bekende in die laatnag, is ek besig om voor te berei vir my oppad-wees om die uitgedeelde kaart te benut. Die voorreg wat ek het (behalwe om sommer net te lewe) is dat ek 'n genooide van Elise se tante Anel (sy maak my dood as ek hierdie familietaal so voor haar naam uitspreek) is, wat self 'n genooide is om saam met 'n paar ander genooides in die Kruger Wildtuin te gaan stap. Die dapperstapper genooidheid het darem so Groenigheid by omdat die Olifantsrivier erg besoedel is en baie vrektes veroorsaak. Die ander genooides gaan hierdie vuiligheid beloer in die veiligheid van drie be-roerde manne wat die spoor sal wys. Dit klink of dit 'n ware bosbelewenis gaan wees.

Ek beoog om oop-oog saam te stap en my eie bewustlikheid vas te hou. Net-nou word daar nog kaart gespeel en as ek dalk te veel my ooglede knip, mis ek uit op 'n uitgedeelde kaart.

Tuesday, July 20, 2010

Getuigskrifte

Iemand in ons binnekring vra my om 'n getuigskrif te skryf vir hom. Dis eintlik 'n maklike ding om te doen. Toe ek dit uiteindelik doen, moet ek myself weer vra of dit 'n copy-en-paste-situasie is waar ek die tipiese standaard getuigskrif woorde gebruik wat mens normaalweg in enige getuigskrif sien. Ek wil dit nooit so skryf nie, want daar is in elke mens hierdie unieke kern ding of dinge wat hulle anders maak as ander mense en wat in iets soos 'n getuigskrif op 'n amptelike manier uitgelig moet en behoort te word.
'n Ander vriend laat val so in 'n gesels-tyd dat hy darem iets sinvols sal wil nalaat indien hy die tydelike met die ewige gaan verwissel. Bedoelende dat hy (nie geld en bates nie) 'n storie sal nalaat wat mense maklik kan opvang en dat dit darem 'n sinvolle, boeiende en waaragtige storie sal wees.
Vir ons kind-van-God-mense is daar altyd (seker) hierdie copy-en-paste dinge wat uniek aan ons as God's kinders behoort te wees en wat ons laat "uitstaan" in enige geselskap. Tog is ons ook unieke-mens-mense wat goed (Gees)begaafd (al vat ons soms lank om dit te sien en glo) laat asemhaal en spore trap tussen enige ander skepsel op die skepping. Dit sou sekerlik iemand vat wat braaf en geduldig genoeg is om eendag 'n outobiografie van ons te skryf wat iets getuigagtig van kan skilder. Maar dit is asof ek deesdae meer en meer besef dat ons lewe hier en nou 'n soort inkskrif nalaat op almal en alles  met wie ons saamstap. As ek in rekenaar-tik terme verder hieroor dink, is die fonts waarin ons tik, die unieke aard daarvan. My poging tot 'n punt is dit: ons spore hier en nou is die lewende en dinamiese getuig-spasie en dit roep ons om goed en voluit te leef. Die binne en buite kringe van ons saamstap-mense dra die inkmerke wat ons doelbewus en onbewustelik op hulle skryf.
As ek hiervan moet sin maak, besef ek (as ek nogmaals dink) dat ons uiteindelik net onsself kan wees en dat dit intens ingeweef is met 'n inoefen van die goeie wat God ons gee en die slegte wat ons gereeld beleef. Uiteindelik leef ons omdat ons leef, maar ons kan voluit of briek-briek leef.
Ek kom nou ander dag op hierdie aanhaling van Maya Angelou af en dink (toe weer) oor hierdie singery en die lewe en oor getuigskrifte.....
"A bird doesn't sing because it has an answer. It sings because it has a song."
'n Ander naby gemeentelid praat nou anner dag in sy kanker-realiteit  so: "Die lewe is 'n lied, dis net ons wat verskillende wysies daaraan gee!"
Hierdie dinge sing 'n soort lied hier in my kop, ek het min geluister na ander dinge om my soos die Jan Frederik in Bonsai-tuin, die honde se wisselende blaf-rapliedjies, die hadidas wat hulle beste knalle gee. Ek weet ek moet nog luister en self bewustelik skryf aan my eie getuigskrif.....

Friday, July 16, 2010

Luister en ligvoets trap

Daar is 'n veelvoud van klanke wat op my ore ('n beperkte klein hoorgaatjie) afstorm. Party kortstondige oomblike voel dit of alle klanke gelyktydig hierdie openinge wil deurbars. Eerstens is dit die gesuis van my eie (soms onsamehangende) gedagtes, dan is dit die simfonie van my familie se daaglikse samesyn wat liefdevol wissel tussen 'n kakafonie en 'n harmonieuse vredeslied (dalk is dit een en dieselfde song), verder is dit geroesmoes van voertuie wat mense karwei na daaglikse tydspasies, die gesingel van insekte wat desperaat buzz na oorlewing, die wisselsang van verskillende voels wat evolusioner die leer kon klim tussen die stankbestaan van mense industrie en geldmarkglimlagte, iewers in 'n wolkkolom die HD gedagtegang van mense wat smag na goedgenoeg wees vir die volgende holte in die maag van die verbruiker, die eiendom-honger-pastoor opsoek na parkeergrond vir sy kerk en  die seer-lagwoorde van mense wat 'n broer verloor het. Dalk klink hierdie vir die gewone oorleweraar na 'n pot vol  neussproei (sorry dis hoe ek dit maar dink in woorde waarin ek die mees opbouendste prentjie kan fabriseer), maar om te luister en soms sin te maak van dieper luister is om jouself bloot te stel aan die spasies tussen mense se woorde, die multidimensionele beelde agter 'n oomblik van blote oogkontak, die stand van die maan, die beweging van die diere, voels en insekte en selfs die invloed van die bergwind op die asemhaal van gewone mense. Dit gaan wel oor meer as die hier en nou van jou saamleef met mense om jou. Dit gaan ook om die ritme danse van die Hollywood, Bollywood, Pasela en Top Billing  tsunamies en die trendsetter golwe van elke sogenaamde diknek iewers op 'n aardse ashoop.
Iewers is die rustige jazz-klanke van 'n Nora Jones wat jou uitnooi na 'n normale bestaan van intieme verhoudings wat daagliks uitgeleef word.
Ek probeer wel konneksies maak tussen al die klanke en beelde vandag en voel effens verlore omdat dit soms te oorweldigend vinnig deur my hoorgaatjies gaan. Dis veel meer intens as in die studente-dae met ure lange lesings waarin die lugleegte tussen hierdie gaatjies nooit samehangend vol kon word met die klankwarboel van 'n akademiese diskoers wat  onbewustelik opsoek is en was na 'n sinsbestaan tussen vele ander bane van die heelal.
Ek besef nou (as ek verder dink en luister) dat ek dalk veels te intens na woorde soek om doodeenvoudige klanke van die lewe te verstaan.

Tog, dink ek wel, dat ek so skuins-skuins begin leer om sagte spore te trap in die lewens van ander deur goed te luister en ligvoetig oor die aarde te beweeg en selfs net vir 'n oomblik te dink aan die geknakte grashalm onder my branderige voetsooldrag. Ek wil graag doelbewus saam asemhaal met almal en alles anders en dalk net hakkel-hakkel die note van Psalm 150 as bladmusiek om my leesbaar maak.

Wednesday, July 14, 2010

Realiteit toets skok: saamstap word aanstap (wegstap)

Gepraat van die jare wat aanstap en velle en bene wat dunner en minder raak. Nehan is besig om voor te berei vir 'n groterige Biathle byeenkoms. Dit veroorsaak dat ek of Elise soms fisies saam met hom moet draf (ek sou graag wou he dit moet eerder stap wees). Eergister was so gulde geleentheid waar ek kon wys ek is nog lank nie koud nie. Hy het twee keer omgedraai om my te kom haal. Die skok was dat ek voor die tyd besig was om te dink dat my fiksheid aan die optel is. Wat ek ter versagting kan noem is dat my tekkie my tone erg seergemaak het en 'n groot pynigende spoed-en-ritme invloed op hele lyf gehad het (spoed en ritme is nogal belangrik vir my). Die ander ding is dat ek nie ontbyt geeet daardie oggend nie en was ek al tam voor die tyd en het ek ook die rugsak met ons gym-gerei daarin op my rug gehad en dan was dit vroegmiddag terwyl my lyf en kop en bene gewoond daaraan is om in die oggend te oefen (ek het al genoem dat ritme vir my belangrik is). Soms het ek in die gestoei met my lyf, oppad na die gym, vir hom aangemoedig om vooruit te gaan (dis die dat hy twee keer teruggekom het.....goeie kind hierdie met goeie maniere).

Ek dink hierdie skokervaring is ook diep ingeweef in die realiteite waarin ons asemhaal. Dit werk so, ongelukkig, met baie vriendskappe dat die saamstap later 'n aanstap word. Die vriendskapverhouding se bene het lam en tone seer geword. Dit is soms beter om aan te stap of toe te laat dat die ander (met of sonder aanmoediging) maar aanstap. Soms, net soms, gebeur die verrassende dat iemand omdraai en dat die aanstap weer 'n nuwe soort saamstap word.

Dit werk ook so met sakevennote, dit werk so in gemeentes en op baie ander terreine. Hierdie realiteite, so dink ek maar, so sien ek maar en so hoor ek maar, is in baie gevalle self die oorsake van nie net lam bene en seer tone nie maar ook van lam boude en papperige gedagtes. Die ergste is dat hierdie soort saamstap en aanstap (wat gereeld eerder 'n wegstap is) ook mense se harte uitpars asof dit 'n lemoen is. As jy nie die kursus in "Aanstoot neem" geslaag het nie, stuur jy hierdie vriende summier diep in die diepblou see in. Ek het so DVD-reeks hier by my oor die onderwerp waarmee ek graag weer ernstig tyd wil spandeer.

Ek dink die wyse oom wat Prediker geskryf het is reg dat dit lyk of alles tot niks kom, verseker ook die saamstap wat 'n aanstap word. Maar ek dink ook partykeer word hierdie sinlose verwagting en realiteit self terug geskok in die lewe in met die verrassings van almal wat terugdraf en weer kom saamdraf (stap). 'n Mens sug 'n dankbare vrede oor hierdie saamstap.

Vanoggend het ek vroeg die ongewone ding gedoen om hier waar ek sit 'n warmmaakapparaat aan te skakel. Ek kon tydelik beheer vat van die omgewing waarin my velle dun word en winterskaduwees met 'n drafstap wissel tussen kort en lank. So in die lekker warmkry, dink ek en weet ek daar loer in die ritme van hierdie kort na lank nog baie toetse om te skryf.

Tuesday, July 13, 2010

Oud en koud

Vir die eerste keer sal dit erken dat ek hier in George koud kry. Alhoewel die berge wit getop is van die sneeu/kapok (daar in die Oos-Kaap het ons dit kapok genoem), het ek altyd geglo die koue hier is nie so snyerig soos waaraan ek gewoond was nie. In die gange van die dae hoor ek gereeld van my portuurgroep dat ons nou oud raak. Ons raak vinniger onfiks (ontstellende gedagte) en vat baie langer met meer moeite om weer fiks te raak (nog meer ontstellende gedagte) en daarby begin ons vinniger koud kry.
In die jaar 1994 was ek en Elise die Opsieners by die Stellenbosch Nagskuiling en het een van die Omies daar altyd geweier om te was (nie 'n geurige gedagte en realiteit nie). Sy verweer was klokslag elke keer dat ons met die gewassery veroorsaak dat hulle hul velle afwas en boonop is die winter oppad en dan is daar niks wat hom kan warm hou nie. Dalk het hy 'n punt beet, dat hoe ouer mens word en van al die jare se gewassery het die velle so min en dun geword het en dat die nuwe velbedekkings wat oorbly of probeer herstel te dun word vir die elemente van die natuur. Saam met die feit dat mens se liggaam met die verbyvlietende dae langer vat om vinnig genoeg te herstel na 'n onfikse uitoefen episode (vir party van ons is dit jare), voel die Oom se argument al meer waterdig. Die nuwe dun velle is gewoon nie geoefen vir die elemente nie en hoe ouer, hoe langer die aanpassing terug na normale fikse funksionering.
'n Erg jong 50 jarige vriend van ons, noem Saterdag so in die filosofering oor ouderdom die volgende: "You act your age!" Ek het baie vinnig saam met hom gestem, want ek voel nog 19 en wil nog so voel. Ek weet ek is nog glad nie oud nie, al het ons op skool gedink die Ooms wat 25 jaar reunies hou is al ou ramme. Ek is volgende jaar 25 jaar uit die skool.
Ek kry nou skielik warm (nie van die wintersontjietjie nie) en my velle voel dik gejas.... Al flikker die woorde "oud en koud" sulke angstige emosies in my binneste gaan ek aanhou jonk en warm (op alle terreine) probeer bly. Al briek my vingers domkoud om hierdie woorde te tik, is dit 'n ooreenkoms wat ek gereeld met my eie lyf wil en sal maak.

Monday, July 12, 2010

Die vinnige reuk van tyers

Na my langverlof na net 'n week se inval by die werk, het die laaang vakansie begin. Soos gewoonlik in die wintertyd verwag mens alles gaan so ietwat hiberneer. Wel, dit het maar het ook nie. Hoe praat ons nou weer oor 'n tekkie en die teer se intense ontmoetings. Behalwe dat die 5 weke vir my 'n goeie kussing was om weer terug te kom in die gewoonte om te werk (want die nag kom nader), het die winterslaap  soos 'n goeie bui reen in 'n droogtetyd iewers agter die berge verby geskuur. Selfs my geliefde het 'n paar goeie sinvolle familie-idees gehad oor hoe om my (ons) "vrye" tyd te spandeer. Sy het gister so tussen die varktjop-reuke deur, laat val dat min tot geen daarvan uiteindelik gebeur het. Ek kla nie, glad nie. Ek het tog so skelm-skelm gehoop dat die reuk van die tyers wat die afgelope 6 weke hier diep in die openinge van my aristokratiese goedbedeelde (my siening) neusholtes hang, eers hierdie week so skerp sou wees. En in hierdie week en kwartaal gaan ek 'n wyse oom van die Bybel se raad moet verder vat en ook die miere se business en werksetiek ernstig beloer. Ek sien egter min van hulle, moet ek noem. Ek vermoed die koue fronte van die 2010-winter, die sokker en lang skole vakansie met al die kinders by die huise, het hulle gevang. Dalk moet ek in hul afwesigheid of die video van Ants gaan kyk of die google-youtube-roete volg. Gelukkig was ek nog nooit bang vir skerp reuke nie en is ek regtig bereid om die gesprek tussen twee goedgespierde werkesel miere af te luister.
Intussen het ek in my gedinkery ook besef dat die aroma hier in my asemhaalopeninge  nie noodwendig net as gevolg van die realiteite van my werk is nie, maar daar is iets anders. Ons praat baie oor houdings. Ek het agtergekom my liggaamshouding is so paar grade duskant 90 grade, na die rugkant toe, en my hakke is af en my tone bloulug se kant toe gekrul. In die spanning in my rug begin ek ook verstaan dat hierdie 'n briek-houding is (niks met die briekdans te doen nie, of dalk het dit) en die warm rubberreuk kom van my voetsooldrag. Ek weet daar is 'n kwartaal wat nagnader gekruip het, maar daar is meer aan hierdie gebriekery. Dis seker deel van die ontdek, leer en groei kurwe in my lewe om hierdie storie uit te pluis.
As 'n ongereelde bergfietsryer weet ek daar is min dinge so lekker soos om met 'n downhill die brieke te los en 'n vryheid te ervaar wat jou na liedjies laat soek (ek los gewoonlik die brieke baie berekend en net so nou en dan trek ek te laat daaraan met slegte gevolge).
Ek dink ek moet hierdie reuke en die oorsake daarvan vinnig begin ondersoek, want ek weet ook van te veel gebriek kan jy baie hard vooroor val.

Saturday, July 10, 2010

Dapper stapper

Nou ander dag stap ek vir die eerste keer in 11 jaar weer van die dorp terug huis toe (ons een motor was by die paneelkloppers om reggeklop te word en 11 jaar gelede toe ons net een motor gehad het, het ek dit vir 'n ander rede as hierdie week my motor by my geliefde vrou gelos). Dis so min of meer 6 km. Vir 'n staproete is dit 'n kort dag (LW kort dag), vir oefening is dit net-net iets wat jou oorgewig onfikse lyf (ek praat nie hier van myself nie) laat begin protesteer met groot damme ongemaklike sweet, maar eintlik niks ernstig nie. Maar as jy eintlik onbepland met 'n jean, warm top en skoene deurgeloop is en 2kg/skoen ('n brand van een of ander bekende diere naam), dan besef jy met Millies in sig en jou sagte voetsooltjies wat nogal brand,  een van twee dinge. Of jy is lekker dof in die area waar jy veronderstel is om helder gedagtes te openbaar, of jy moet die stapding meer gereeld doen met beter skoene. Vir my was dit eintlik iets van beide. Dit was 'n dowwe besluit, maar dit was ook lekker en interessant.

Met die eerste keer dat ek oor Langenhovenstr hol, by so brug, staan daar 'n man rustig aan die anderkant. Toe ek begin oorbeweeg, begin hy ook loop in die rigting waarheen ek oppad is. My eerste reaksie was om my geliefde selfoon met 'n "Selfoon-klem" vas te hou in my linkerhand en my regterhand ongemerk te bal in 'n kanonkoeel-houding waarop Rocky sou jaloers wees. Gereed vir enige aksie. Ek stap egter onder die "vabond" uit (ek is mos haastig oppad huistoe). Vir myself was dit 'n interessante maar ontstellende gewaarwording oor myself. Ek (wat self die slagoffer van 2 motordiefstalle, 4 fietsdiefstalle en verskeie inbrake is) ly aan 'n goeie dosis androfobie. Eintlik is dit nie 'n vrees vir die ander nie, maar eerder 'n wantroue in ander (onbekende) wat wortels gee aan die vrees vir dit wat "moontlik" kan gebeur. Gelukkig onthou ek wel waar so paar spiere vasklou aan my mondering (die wat oorleef het na 41 jaar) en bied dit darem so 'n flouerige fisiese vrede.

Ek kom later agter dat ek oogkontak met alle motoriste vermy. Ons behoort nie op daardie oomblik aan dieselfde groep nie. Ek besef ook dat ek 'n binnestryd beleef tussen die gewoonte om darem bekendes te groet en 'n selfbewustheid wat my ongemaklik maak. Iewers in die stof wat hierdie stryd opskop is daar 'n vrees vir ek weet nie wat nie. Dis amper soos om op 'n Vrydagmiddag tussen die rye in Pick 'n Pay of Spar met 'n winkeltrollie te loop. Behalwe dat ek so effe skaam outjie is, het ek darem maniere ook. Ek is immers goed groot gemaak. So loop ek maar aan...

Wat baie lekker was, was om op sekere plekke te kon sien waar daar nog nie 'n stootskraper of baksteen naby genoeg gekom het nie, stoei 'n hele paar inheemse bome en struike dit deur die ruigtes. Dit was of hulle my met 'n glimlag groet en aanmoedig (en selfs tuis laat voel het). Dit was ook aangenaam om met elke groet die mede dapper stapper voetsool mense se glimlagplooie te sien oopgaan.

Met 'n stapspoed van een brandende voetsool per sekond raak dit later 'n bedompige storie. Nie 'n asemnood van my onfiksheid nie, maar van brandstofdampe wat alle asemhalendes langs die strate oorval. Ek besef weereens dat ek nie in dieselfde groep as die motoriste is nie. So spoed ek aan tot by die huis (gelukkig nie met 'n gestrompel nie) en trek dankbaar beter sagter skoene (minder bekende naam) aan en weet ek gaan so paar uur later weer 'n verbyjagende motoris wees. Salig dof onbewus van 'n dapper stapper lewe.....

Thursday, July 8, 2010

"Hallo Oom!" Hier groet ons mekaar

Ons stop by die Poskantoor op Hofmeyr. Toe was die Posbedryf nog in volle swang en tannie Poppie en kie het die Sentrale beman, een muur weg van die poshokkies. Dis my beurt om pos uit te haal hierdie Vrydag. Ek is 8 jaar oud en ons gaan plaastoe na die week(likse) se koshuislewe. Ek hol verby oom Tommie-hulle se bakkie en oom Wolvie (weet hoekom hy so heet nie, dalk omdat hy 'n Volvo gery het). Terug in die Kombi met 'n armvol pos (Huisgenoot, Bollie en weet nie wat nog nie) vra my ma: "het jy die mense gegroet?". Ek weet ek het nie ordentlik nie (en steek vuurrooi my kop onder die agterste sitplek weg, daar is nou nog sulke brandmerke onder daai sitplek) en mompel iets binnensmonds van te haastig wees of iets. "Hier groet ons mekaar soos beskaafde mense" gonsbrand my ma van voor af.
Na daardie middag het ek min kere doelbewus daarop uitgemis om mense te groet. Dis die eerste ding wat jy doen as ons iewers gestop het is om die mense in die omtrek deur te draf met die groetery. As ons iewers verby hulle ry, waai jy eerder jou arm in 'n spasma as om weer die moederlike brandwoorde te hoor. Jy hoor dit in elkgeval eggo deur al die klowe in jou brein.
Gedurende my tienerjare het die skool, waar ek daardie fase van my lewe afgerond is (need I say more), die groetseremonie of rituele erg op prys gestel. Behalwe dat daar 'n sekere soort handdruk tussen ons was, moes jy elke lewende asemhalende skepsel met respek groet. Indien die seniors iewers hoor dat jy nie die tannies en ooms (en veral die meisies) gegroet het tydens Vrydae se dorpbeurt nie, dan bars die hel los. Die hele skool, of in minder ernstige gevalle net jou klasgroep, word sumier agter die Rookhuis ingeroep. Daar het die Rookhuis-chief, die Eerstespan kaptein, die hoofseun en die res van die matrieks (en 'n paar hardebloubaard standerd neges) jou ingewag. Daar by die Rookhuis was daar nooit 'n Kombi se agterste sitplek om jou vuurrooi kop weg te steek nie.Ek het altyd 'n ontstellende vermoede gehad dat agter daardie Rookhuis  'n klomp Army samajoors gebore was. Ek was nie in die Army nie (te lank aanhou swot), maar ek het prentjies gesien en stories gehoor.
Destyds het ek begin besef om ander te groet die regte ding is om te doen. Later het ek begin agterkom dis 'n medemenslike ope vriendelike handeling wat erkenning gee aan die ander se bestaan.  Jy is op die uitkyk vir ander, jy soek die oogkontak en leer dat die glimlag saam met die groet, die saamstap deur die lewe die moeite werd maak. Dis hoe dit is.
Soms kos dit iets. Jy moet jou trots diep op snaakse plekke indruk en met jou groet 'n spasie vir ander skep sodat hulle menslik en aanvaarbaar kan voel. Op daardie oomblikke kos selfs 'n gratis glimlag jou iets, maar nooit geld of 'n verlies aan bestaan nie.
Ek kom hier in die Suid-Kaap-geweste tot die slotsom dat dit moeilik is om almal te groet soos waar ek groot geword het. Hier is te veel mense. Daarom leer mens die sleg gewoonte om selektief te groet. Soms waai ek wel my (sterk) arm uit pootjie om al die bekendes wat van vooraf oppad dorptoe ry, te groet. My kinders lag gereeld vir my, maar ek hoop hulle kan leer..... Ek dink ons is nou in fase 2 met hulle in die "Hallo Oom!" Hier-groet-ons-mekaar 101-kursus. Fase 1 staan bekend as die Kyk-en-leer 101. Fase twee is nog aan die ontwikkel want die Uitkomsgebasseerde onderrig word mos altyd aangepas.....

Tuesday, July 6, 2010

Vergeet en vergewe

'n Groot vriend van my skryf in 'n weeklikse rubriek van hom van 'n vorige werknemer wat hulle op slinkse maniere indoen en daardeur veroorsaak dat hulle baie potensiele en huidige kliente in 'n beperkte mark verloor. Nou is die grootse uitdaging vir hom om hierdie persoon te vergewe. Ek dink hy worstel elke dag daarmee. Ek dink ook ek en ons almal worstel daarmee. Daar is al baie gedink en geskryf oor vergifnis. Die diepste spore in ons wat God se pad stap se lewensmondering is die woorde van Christus self in Matt 18. Daar word met die getal 7 gespeel (nie soos met 'n sokkerbal nie) as die volmaakte manier om volledig die vergifnis ding te doen. Dis 'n erge ding om te doen omdat dit in die eerste plek vir ons 'n onnatuurlike ding is om te doen en ook omdat meer van ons vra as wat ons bereid is om te gee en meesal kan gee.
As ek reg onthou is dit een van ons geloosgurus van 'n vorige eeu wat iewers genoem het dat vergifnis is die besigheid van die Kerk. Dis die genade-geskenk wat ons ontvang (het) en wat ons moet skenk aan ander. Die einste vriend van my het my bekend gestel aan die  SA sanger, Nicholas Louw se liedjie genaamd "Vergeet en Vergewe". 
Die woorde lyk so:
Weggestoot verneuk verniel
Duisend trane verloor nog 'n siel
In die donker agter die deur
Hoekom maak ons mekaar so seer

Goddeloos hoogmoed en moord
Jaloesie vertroue oorboord
Die kinders huil sal ons eendag leer
Hoekom maak ons mekaar so seer

Vergeet en vergewe
Vergewe my sonde weer
Staan by die wete
Dis wat die liefde leer

Vergeet en vergewe
Vergewe die laaste keer
Begin by die einde
Tussen die lyne
Vergewe al maak dit seer

Mishandel vervloek en verward
Nog 'n leuen die tong is 'n swaard
Vat die woord kom ons probeer
Waarvoor maak ons mekaar so seer
Dis nogal 'n kragtige lied oor 'n proses wat ons binnestes uitdop. 
Ek wil en kan nie maklik hieroor praat nie, maar iewers het die ding in my begin broei en opgestoot as 'n goeie soort sooibrand. 
Al wat ek deur die wind se waai hoor is 'n deuntjie wat getalle van 7 en 490 oor my uitgedoptheid neurie. Hierdie Wind ruk so bietjie anders as die sagte briesie wat Moses destyds verras het. 
Vandag en more moet en gaan ons (in die Kerk) besigheid doen en ek weet ek vanaand my selebrasie-instrument so klein bietjie vrye kan blaas...

Sunday, July 4, 2010

die blare val en die voeltjies sing

Ek het weer myself die afgelope tyd begin commit om na elke dag terug te kyk, te luister en te dink oor die dinge, klanke en prentjies wat ek gesien, gehoor en bewus geword van. Soms gaan die dae roekeloos haastig verby en weet ek ek is nie ingegrawe in my sielsbestaan nie. Behalwe vir die Bybelwoorde van God, weet ek maak Hy op vreemde maniere die drumming van sy Hartklop oral om ons hoorbaar. As ek hard genoeg fokus (dis nou nie soos 'n 3D prentjie waar jy jou oe moet skeeltrek en skeefkop deur die agterkante van jou wimpers loer nie) dan hoor en sien ek soms op maniere wat my siel laat rus. Ernst van Heerden dig erens in 'n wroeggedig: "...ononderbroke neurie Sy sang in my ore soos 'n sonbesie in die doringboom...."
Die (hoofsaaklik) akkerboom blare het weereens dik geval. Die bergwind van vroeer die week het hard probeer om in elke hoek, kom, gat of ingehokte spasie hierdie blare in te warrel. Met eeue se oefening agter die rug is hierdie ruk-en-pluk-warrel pogings ontstellend suksesvol. 'n Groot swerm van hierdie blare hou massavergadering reg voor ons voordeur en toi-toi glibberig verby sodra enige mens die deur kom oopmaak. Daar is 'n paar ander bome wat net uitgedroog pronk terwyl die ou grote kollos in die voortuin na nog 'n genade-jaar weer kon winterblare afgooi. Nog 'n jaarring is besig om in te kring by die Akkerboom. Ek dink ek hoor die danklied ritsel  in die rugskuur van al die warrelblare.
Vanoggend hoor ek weer die hadida's se uitskel uit die hoogtes en die tarentale wat hul beste rasper-tjirpe sing. Die glasogies se fyngeklankte liedjie is skaars hoorbaar soos die son opkom. Oral is daar ander voels (wat ek nie ken nie, nog nie ontmoet of met die oog gesien nie, maar wel gehoor van hulle) wat inval by hierdie Sabbatspoging om die lewe voluit op te roep. Vandag is daar mense wat huil oor 'n seun of man wat dood is, daar is mense wat met vonkelogies hulle fees-hande klap, daar is winde wat waai en gaan le. Die dag is vol.
Ek dink ek moet nog verder luister en kyk....