Monday, April 20, 2020

Hond se gedagtes


DAG 25


Blykbaar is ek baie kwaai met my honde. Nee, laat ek net kwalifiseer, nie een van die drie honde is myne nie. Ek is baie lief vir honde en ek dink die honde weet dit. Dit (my voorkeur-liefde vir hulle bo ander troeteldiere) en my hare en gemoed wat soms woes staan, maak seker een of ander indruk op hulle.

In my kinderdae het ek die Trompie boek-reeks verslind en toe dit omgesit is in ‘n TV-reeks, het ek dit nie gemis nie. Een toneel wat ek altyd sal onthou was ‘n honde-storie. Trompie het gaande geraak op hulle Tuinman se hond (of so iets) en toe besluit hulle die hond moet self kies tussen hulle twee. Hulle gaan staan toe so klompie tree wegweerskant van die hond en roep en fluit gelyktydig vir die arme brak. Die hond kies toe die “regte” persoon. In my eie gedagte-gang, weet ek dat al is nie een van die honde op die werf myne nie, luister hulle in die eerste plek vir my. Om die waarheid te sê dink ek hulle is die enigste asemhalende skepsels op die werf wat tot ‘n redelike mate effektief reageer op my stem, arms swaai en versoeke.


Wanneer ons op die stoep eet mag die honde nie op die stoep saamkuier nie. Dan het hulle geleer om so paar meter weg, af van die klippie-area te gaan lê-wag tot ons klaar is. Hulle luister nogals. Die een Labrador, Mila, is seker die gehoorsaamste hond wat bestaan. Sy doen dit sommer vanself. Tigger, wel getroue ou Tigger, hy is oud en stokdoof. Hy reageer net op gebare taal en op sy eie spoed soos sy lyf hom toelaat. Hy stap dan maar geduldig (nie heeltemal tevrede nie) af van die stoep en klippies. Die jonge dame Gretjie, sy is slim, probeer domineer, energiek en ‘n uitstekende kansvatter, maar luister darem ook. Wanneer hulle dan so ent weg van ons lê, loer hulle na ons met groot aandag. Daar is sulke storie-vertel kyke, partykeer bietjie leepoogagtig en ander keer wakker en spelerig grootoog (dit hang ook af hoe warm dit is op die spesifieke dag). Dis so asof hulle ons gedagtes wil lees en ons gesprekke volg. Hulle lê-wag regtig met oorgehaalde aandag. Dan gebeur daar klokslag 'n interessante ding. As ek opstaan om iets te gaan haal of te gaan doen en dan terugkom, dan is die vier blafskepsels stertswaaiend op die stoep. Gelukkig hoef ek nie eers te praat nie, ek gebare taal net om hulle weer op hulle plekke te laat lê-wag, terug in hulle eie gedagtes in.
Dan besef ek net weer dat wanneer hulle so lê en loer (en maak asof hulle meer intellegent is as wat ons dink), dan is hulle gedagtes en my gedagtes nie dieselfde nie. Die honde se gedagtes is op twee plekke, volgens my terugkyk-mense-wysheid. Hulle wag dat ek opstaan sodat hulle vinnig kan inbeweeg vir ‘n sarsie ekstra aandag by die ander mense op die stoep. Of hulle wag dat iemand dalk ingaan en die kombuis se deur oopmaak en hulle self ietsie te ete kan kry. So lê hulle en wag, die twee Labbies baie geduldig, maar Gretjie wag whine-whine. Maar wag wag hulle.

Hond se gedagtes kry – verstaan ons dalk met iets in die rigting van agterdogtig raak , wantrouerig wees oor iets of iemand. Maar ek wil (dalk geforseerd omdat dit "my" honde is.....net ‘n grappie) "my" honde se gedagtes anders lees in terme van die hulle commitment om te wag. Hulle vertrou, terwyl hulle daar wag-lê, terwyl ons eet of kuier op die stoep, dat daar iewers in die nabye toekoms iets nice vir hulle gaan wees. Hulle is ook ok om daar te lê en wag, want hulle sien, hoor en ruik (proe ook, want iewers kort gelede het hulle ‘n paar lekke aan menslywe uitgedeel) ons daar op die stoep. Hulle lê dalk so bietjie verder weg, maar hulle is steeds deel van die kuier en saamwees. Hulle sou graag by ons, onder ons voete wou lê, dalk die geselskap so bietjie oorvat en die onderwerpe van gesprekke word. Maar hulle wag eintlik heel geduldig, maar angstig dat die inperking so gou moontlik opgehef kan word.

Ons leer verseker as deel van God se pad met ons om ook te wag. Dalk kan ons so bietjie in-tap in ons honde se gedagtes.

Psalm 130 se bid-sanger wag so:
5Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.

Mag ons vandag met vertroue wag op die Here!

Saturday, April 18, 2020

Speler 23


Other Rugby - PLAYER 23 - SA RUGBY - GOLF SHIRT - SIZE: MEDIUM was ...DAG 23

Speler 23 is die ultimate erkenning van die ondersteuners se belangrike rol in rugby as ‘n sport. Een van die groot selfoon maatskappye het so paar jaar gelede ‘n hele reeks advertensies gemaak met die karakter Jan wat die nommer 23 Springbokrugby-trui in verskillende scenarios dra. Van toe af is Speler 23 ‘n soort kultus-idee as die nommer een ondersteuner van die sport.

Dit het ‘n positiewe swing gegee aan die toeskouer-mentaliteit (wat eintlik ook maar ondersteuners is), aan die neerdrukkende realiteit dat die beste “skeidsregters” altyd op die pawiljoen sit. Dit is die mense wat altyd “beter weet”, maar nie konstruktiewe bydraes maak om self positiewe oplossings te bied nie. Dit is met ander woorde die tipe ondersteuners wat op die kantlyn by sit en vrot naartjies gooi met hulle kritiek, oordeel en beterweterigheid (veral as hulle span begin verloor).

Speler 23 se ikoniese mentaliteit is die van ondersteuning wat aanhou om te ondersteun, wat opgewonde is oor die span, trots is op die span, lief is vir die span en weet dat die span is belangrik vir almal en vir die eenheid van almal.  

Paulus was definitief nie bekend met selfone en diensverskaffers se veldtogte om ondersteuning te kry nie. Hy praat nêrens van Speler 23 nie, maar wel van die Groot Speler wat ons lewensmentaliteit vry maak om met genade te leef. Hy het goed geweet wat gelowiges nodig gehad het om te hoor wanneer die moeilikheid van buite en van binne druk en die gevaar bestaan dat mense mekaar met naartjies gooi. In Romeine 12 praat hy met ons so:
9 Julle liefde moet opreg wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die
goeie. 10 Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Wees gretig om aan mekaar respek te betoon. 11 Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12 Verbly julle in die hoop; wees geduldig wanneer julle swaarkry; volhard in gebed. 13 Betoon meelewing met die behoeftes van die heiliges; lê julle toe op gasvryheid.
14 Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
15 Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat
treur. 16 Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.17 Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Geliefdes, moet julleself nie wreek nie,  maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf:
“Aan My kom die wraak toe;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20 Maar: “As jou vyand honger is,gee hom iets om te eet;
as hy dors is,gee hom iets om te drink.
Deur dit te doen, stapel jy vurigew kole op sy hoof.”
21 Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met
die goeie.
(‘n Direkte Vertaling)

Mag ek en julle vandag (23 April 2020) ‘n Speler 23 wees vir mekaar, vir die mense saam met ons onder die grendeldak en vir die ander mense met wie ons op een of ander manier kontak het en waarskynlik net soos ons voel.

Thursday, April 16, 2020

Die leeuloop

Lion Homepage
DAG 21

Daar is mos hierdie liedjie met ‘n wysie wat sy katnaels in die agterstewe van jou brein vasslaan, dan sit dit daar asof dit vir ewig is. Ek kan nie eers al die woorde onthou nie, maar iets van die wysie en so paar frases klad my gedagtes soms vas. Die woorde wat altyd vashak (soos sommige niks seggende liedjies wat oor en oor dieselde woorde herhaal tussen die boem-boem) is iets soos “......stap vir stap verduidelik....”.

Ek het in hierdie dae van inperking (ek dink ek moet anders dink hieroor, want die fisiese inperking maak ander geleethede oop, dwing dit eintlik oop na iets soos ontperkings toe), teen wil en dink besef daar is (onderandere) twee dinge wat ek nie baie goed kan doen nie. Ek kan dit doen, maar dit is nie goed nie.

Eerstens kan ek glad nie vir iemand verduidelik hoe om kos te maak nie. Dit is ‘n lang storie wat eintlik lagwekkend snaaks en harsteer is. In hierdie dae kry elkeen ‘n beurt met sekere huistake. Een daarvan is kosmaak. Een van my kinders (terwille van privaatheid en veiligheid word hulle name nie genoem nie), kon glad nie (LW kon) kos maak nie. So, hierdie dae is vir hierdie kind aardverskuiwende tye. Vir my en my vrou het dit op-die-kant-staan-geleenthede geword en te sien hoe dit nie net kosmaaktyd is nie, maar ook groeityd. Dan glimlag ons skelm vir mekaar totdat ek moet begin verduidelik hoe ‘n sekere maklike en voor die handliggende resep werk. Vat nou byvoorbeeld ‘n spagetti-bollenys of skaap-bredie in die stadige kookpot. Jy kry die nodige bestandele, kry die nodige potte en panne, doen die nodige voorbereidings soos tjop en sny (op ‘n sekere voor die handliggende manier) en gooi die bestandele in ‘n sekere volgorde in die vooraf warmgemaakde pot of pan. Redelik maklik en voor die handliggend. My verduideliking van die volgorde en wat ook al die voor die handliggende bestandele is, is skynbaar nie presies en duidelik genoeg nie. Dit is nie stap vir stap genoeg nie. Dit is dan wanneer die leeu in my begin wakker word, veral ook as hierdie kind so op die eenkant besig is met die blêrrie selfoon (verskoon tog die krasserige woord, of moet ek die verskoning ook stap vir stap verduidelik). Die frustrasie wat in my opkook, slaan oor my lyf uit soos iemand wat ‘n ‘n brandnekelbos inval. Dit slaan ook uit in my woorde, in die klank van my woorde en ek weet nie waar orals nog nie. Ongelukkig (word daar vir my gesê) kan almal my liggaam se woorde van ver buite kant die erf presies raaksien. Dit is nie nodig vir stap vir stap verduidelik nie.  

Step-by-Step setup. Video tutorial | Effective Tours Knowledge Base



Ek kan ook glad nie iemand leer om motor te bestuur nie. Dit is blykbaar nie ‘n mooi prentjie wat afspeel nie en ook nie aangenaam vir diegene saam in die voertuig nie. Daar was, met een poging van stap vir stap motorles, in die praktyk van bestuur, die hele leeuloop op video vasgelê. Dit is nie beskikbaar vir publieke besigtiging nie, want dit is traumaties om na te kyk.

 

So, binne die leeuloop wat ek het met sekere pedagogiese oomblikke, is die stap vir stap eerder ‘n resep vir misverstand en onbeholpe frustrasie waar die kat se naels op verkeerde plekke vashak.



Ek weet ek moet werk aan sekere vaardighede om beter te praat (met alles van my) en ek het commit om daaraan te werk. 
Juis in hierdie commit en oorgee om te werk hierdie soort leeuloop, of eerder om aan myself ook te laat werk, onthou ek die 10 goed wat die Here vir Moses gegee het om vir die wilde woestyn-Israeliete te gee om aan hulle stap vir stap te verduidelik hoe die lewe saam Hom werk. 

Ek onthou ook hoe Jesus dit in eenvoud opsom en ek onthou van die woorde in die gebed-lied van Psalm 119: 35
Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.

En ook dan onthou ek ‘n ent verder in vers 105
U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.

Mag ons woorde (ook ons lyfwoorde) die stap vir stap lig van die pad sien en goed saamstap vandag!










Monday, April 13, 2020

Die rooivlaggies van beknopde spasies


The Red Flag Campaign The Red Flag Campaign-Overview

DAG 18


Ek kan my nie indink om in ‘n klein huisie met min of meer geen erf te bly in hierdie dae nie. Ook nie in ‘n woonstelblok waar jou woonstel die leefspasie is wat jy moet deel met ander nie. Ek het een jaar van my lewe ‘n woonstel gedeel met iemand. Ek het in die sitkamer gebly. Die woonstel was op die twee vloer. Hoewel dit in Stellenbosch en so te sê in die bekende en gewilde Laan was, het ek swaargekry. Ek en my woonstelmaat en vriend se vriendskap het so effe dip gevat, want die spasie het beknop geword.

Daarom voel ek nie so kwalifiseerd om te skryf oor spasies nie. Ook omdat ek nou al vir meer 20 jaar in ‘n massiewe huis op ‘n groot erf woon. Ek is bevoorreg tot die mag tien. Maar ek kom agter dat daar dejavu’s deur my tornado op tye wat ek dit nie verwag nie. Dit is die rooivlaggies van die saamwees (in die selfs fantasiese groot spasies) waarin alles spasies beknop word. Jy bedoel dit nie, maar jy flair soos ‘n vuurwerk op Guy fox. Maar in hierdie geval is dit nie mooi of aanskoulik nie. 

Slim mense sê dat mens hierdie irritasie-siklus kan breek deur ‘n paar praktiese dinge. Byvoorbeeld, bewaar die vrede deur iets positiefs te sê (of te doen). Negatiewe woorde en opmerkings (en gedagtes) is verdoemend vir verhoudings. Dit is ook nie 'n vuurwerk-gloeilamp-openbaring nie, maar die irriterende waarheid. Dit is nie net eenvoudig negatiewe opmerkings wat dinge skeef trek nie, maar eerder die ratio van negatiewe en positiewe opmerkings wat ‘n groot rol speel. Daar is gevind dat vir goeie verhoudings (wat lekker harmonie en balans bevat), daar vyf goeie opmerkings behoort te wees vir elke een negatiewe opmerking. Indien ‘n persoon glip (soos ek baie doen) en ‘n kritiek uitspreek of negatief kla oor iets, moet hy of sy dit onmiddellik en doelbewus opvolg met waarderende woorde. Dit breek die aanval en verdediging patroon en kan irratasie-siklus nie net afplat nie, maar opbreek.

Dit is goeie raad en gedagtes en gaan baie dissipline en baie onthou vra.
Dit klink eintlik ook na commensense.

Om een of ander rede, terwyl ek hier in die stilte van die oggend sit en griffel, kom daar weer ‘n lied in my kop op. Dis weer ‘n ou lied wat ouens gesing toe hulle op die pad was na ‘n fees in ‘n stad (ek weet dit voel vir ons nou vreemd en onregverdig, maar kom ons kom nou oor daardie gevoel). Die lied begin so: 

Ek kyk op na die berge:
Waar sal daar vir my hulp vandaan kom?
My hulp kom van die Here,
Wat hemel en aarde gemaak het......
Psalm 121

En julle weet hoe dit verder gaan....

Vandag wil ek in my (bevoorregte) spasie, voordat die rooivlaggies opskiet, ook weer inval by hierdie lied. Dit werk vir my beter om dit sing en nie net te lees nie. As ek dit lees, klink dit platter en verder. Maar as ek dit sing, word dit lewendig en voel dit naby, meer waar en sien ek kans om vyf keer meer mooi goed te sê en doen.

Saturday, April 11, 2020

Toe deure en oop deure


Red Door Open Images, Stock Photos & Vectors | ShutterstockDAG 16


Dit is nou die tweede dag na die nuus van ons President oor die besluit, waarskynlik wyse en groot prentjie besluit om nog twee weke te voeg by die huidige 21 grendelstaat-dae. In ons huishouding was die nuus ontvang met ‘n onbewuste kopskud: “Ok!”. Dit het op ‘n manier logies geklink en was die tweede respons gedagte en emosie na die “Ok” ook nog heel ok.

Maar toe slaan die deur toe op allerhande plekke. Vir my kinders, wel vir hulle was die deure groter en meer. Hulle sal maar self kan sê. Ek het wel net gehoor van branders, berg, Kaap. En daai deure maak vir hulle wye vrye vlaktes oop. 

Dit beteken ook nog meer toe deure in die huis se gang. Hulle het mos die semi tot heeltemal volwasse status aangeneem en soek meer privaatheid. Ek verstaan dit ook so. Ekself is ook nog in die semi tot heeltemal volwasse stadium. Hulle is relatiewe aktiewe mense en het hulle regtig baie goed gedoen om dinge in hulle grendel-roetine in te bring wat die opgehoopde energie kan losmaak en verbrand.

Die grootste deure wat toegeslaan is egter in die kop. Net die idee dat dit nog 14 dae ekstra is, is klaar soos ‘n 14 cm dikte staaldeur wat toeslaan en dat die suurstof binne die kamer beperk is en net beskikbaar is vir nog ‘n dag of twee (en nie noodwendig vir ander mense in die kamer nie). Binne hierdie konteks kom ons kort-asemgeit nie noodwendig van die virus nie, maar van die toe-deur in ons koppe.

Om die deur oop te maak, hang seker van jouself af. Van jou persoonlikheid, jou lewensingesteldheid, jou emosionele welstand, jou fisiese toestand, jou wynrakke se bottel-afwesigheid, jou eensaamheid en nog baie ander dinge. Maar ek dink daar is wel twee groter prentjies wat nie net die deur so 'n suurstof-skrefie kan oopmaak nie, maar ook soos oop vensters die lig en lug kan inlaat.

Die een prentjie, bietjie kleiner as die ander, is dat hierdie ekstra twee weke beter is vir ons, vir my en vir jou en vir die ou oorkant die straat, oorkant die spoor, oorkant in die shack en dit is beter vir ons hele land. Ek dink ook dis beter vir die natuur. Ek is doodseker ek het gister en vanoggend ‘n paar ander voëls bygehoor (ongelukkig is die flippen Hadeda’s oor weer skielik hier).

Die ander prentjie is beter as suurstof en ek sit vanoggend weer (soos die eerste dag van die grendelstaat) en word weer stil en haal asem, diep en rustig ........

“Wees stil en weet Ek is God!
“Wees stil en weet Ek is God!
“Wees stil en weet Ek is God!

Dis soveel beter as ‘n suurstof-masker of ‘n respirator. Dit maak die deur in jou kop oop sodat jy die toe deure en hekke van die huis en erf nie meer sien nie.

Thursday, April 9, 2020

Die Noordweste wind en spasies


Blowing in the Wind | What is wind, Blowin' in the wind, Geography ...
DAG 14

Laat ek gou verduidelik. Dit het als begin met die wind wat hier van die berg se kant begin waai op dag 13 en 14 van die grendelstaat. Dit is nie die eerste keer dat die wind waai nie. Ek onthou baie winderige dae. 

Grootword-tyd in Augustus op die plaas as dit koud en yl ‘n huil-lied om die hoeke van die huis sing. Die koggelwind deur die naalde van Swartkop (was toe nog my oupa se woonplaas) wat jou onder ‘n klip wil vasdruk. 

Hier is baie bome op die erf waarop ons nou bly. So jy hoor die wind soos die basklanke van ‘n subwoofer aangegolf kom deur die klowe en hoe dit met kragtige tree spring van boom na boom. Dit is eintlik mooi. Maar onthou ons is nou al 14 dae ingeperk in beperkte spasies. Ons erf met die baie bome is groot en ons huis ook lekker ruim. So die wind het baie instrumente om haar warm golwe te laat hoor en voel: Windhangertjies wat teen die glasdeur skuur, skuifdeure wat kraak, blare wat heeltyd oral skuifkruip dwarsdeur enige opening en die ergste van alles is die deure wat handeklap en encore roep vir die meesterlik uitvoering. Ek vang nie die ritme nie, dit voel nie opgewek en motiverend nie. Dit voel of al die groot leefruimtes (buite en binne) kleiner word met elke noordwest-wind-gemotiveerde ritmiese ritsel, skuur, rattle of klap.

Vanoggend, so met my Mzansi Marathon draf-shaffle al om en om die erf se nate, besef ek dat grote van die erf en die huis nog steeds dieselfde is. Dit is die spasie in my kop wat krimpend geskuif het. Ek sal plan moet maak met hierdie spasie. Dalk moet ek een van die bome klim of so bietjie op die dak gaan sit (al sing ou Jonathan dat dit nie meer lekker is op die huis se dak nie). Of dalk moet ek nog ‘n ekstra masker maak en later ‘n koshamper afgee by die Munisipaliteit se noodhulp drive-thru-diens. Dalk moet al die windgewaaide spasies met die besem ‘n goeie skoonvee gee.

Wednesday, April 8, 2020

(superHero)Maskers (3) en egtheid


Produksie tools
DAG 13



Die afgelope paar dae moes ek die opname en produksie van die Goeie Vrydag diens behartig. Ek is aan die woord Vrydag, die een wat nou die praatwerk voor die kamera moet doen vir die uitsending op Youtube (‘n afgetrede vriend van my praat van die U-buis). Hierdie hele opname gebeur hier in my studeerkamer. Dit was ‘n storie en het baie aanpassing gevra (ek vat deesdae Darwin se woord ernstig op: Dit is nie die sterkstes wat noodwendig oorleef nie, maar die wat die beste aanpas!”. Ek moes aanpas want my devices is nie van die nuutstes op die mark nie en dan moet daar allerhande ander omstandighede reg wees. Maar dit was ‘n interessante en senutergende ervaring. Ek was nog meer opgestres as voor en met normale eredienste, wanneer die boodskap moet probeer bring. Eers begin dit reën toe dit die dag van opname moet wees, ek weet ek mag en sal nie daaroor kla nie, maar die lig is toe nie reg vir my toestelle nie. Toe begin my liewe buurman kap met hamer asof hy vir die Olimpiese spele moet kwalifiseer.


Maar ek het lekker gelag vir myself, ek kon darem so op my eie lekker pret hê. Waarvoor ek eintlik ook in skaamte gelag het, was om myselwers op te neem en dan vir myself te kyk en luister. Wat ek sien, was nie noodwendig lekker nie, ek het maar gegrom-lag. Want sien, ek het hierdie maniertjies, manerismes as ek dit reg het, en hierdie stemmetjie (dit klink seker vir ander mense normaal). As ek vir myself moet opkom, weet ek dat ek regtig ernstig is en dat die Woord mens kan gryp op ‘n manier wat jou springs in jou bene gee. Maar dit is my preek-maniertjies en preek-stem wat my weer aan die masker laat dink.


Preek-pakkie
(ek het darem 'n baadjie ook aangehad)
Soms voel ek en dink ek dat ons preek-mense wat op daai verhoog klim en praat, praat met soveel "gesag" en "mag" en al daai dinge. ‘n Mens kom in-karakter in, daar op daai verhogie, jy klink anders as wat jy by die huis is of langs die braaivleis-vuur is. Meesal lyk ons ook anders, jy is meer gepolish (ons moet mos darem nie afsteek nie en ook nie jou huismense se name modderpoele toe vat nie), jy is meer opgestel vir die “groot” praat en “groot” wees geleentheid. Dit het my ook baie aan ou Spiderman en sy super-maatjies laat dink. Hulle is net super as hulle in-karakter in daai blokkiesmaagpakkies van hulle rondspring. Hulle probeer ook baie hard dat mense nie uitvind wie hulle is nie.

Ek dink maar net en sê dit ook nou maar net, dat ek en my praat-maatjies loop dieselfde gevaar dat. Nou moet ek miskien ensovoorts sê.

Ek dink dat ek so paar dinge van hierdie hele masker-stories en opneem van die boodskap geleer het. Waarskynlik weer geleer het.

        Een: ek moet regtig nou leer om myself nie so ernstig op te neem nie (daar is nogals ‘n sielkunde boek wat daarmee wil help en ek gaat dit beloer). Dit was nogal lekker om na die opname en stres (hoekom was ek so gestres?) lekker vir myself verder te lag.

        Twee: ek moet net sorg dat ek so eg en eerlik as moontlik leef. Ek word liefgehê deur God (in die eerste en laaste plek) en daarom kan ek net ek wees, sonder die basbrand in my om tog opduime en nie afduime van ander mense te kry nie.

         Drie: Ek moet my eie lyf vat, my eie bene en arm en spiere en nie-spiere en vetjies en rolle, my eie velle en my eie gesig en hare en brein en stem en al daai hele alles van myself. Dit is nie waarin my waarde lê nie en ek kan myself meer aanvaar en liefhê, net soos ek is. Ek kan dit dan ook gebruik as ‘n wegspringblok om ander te aanvaar en lief te hê soos hulle is. Dis nogals bevrydend.