DAG 21
Daar is mos hierdie liedjie met ‘n wysie wat sy
katnaels in die agterstewe van jou brein vasslaan, dan sit dit daar asof dit
vir ewig is. Ek kan nie eers al die woorde onthou nie, maar iets van die wysie
en so paar frases klad my gedagtes soms vas. Die woorde wat altyd vashak (soos
sommige niks seggende liedjies wat oor en oor dieselde woorde herhaal tussen
die boem-boem) is iets soos “......stap vir stap verduidelik....”.
Ek het in hierdie dae van inperking (ek dink ek moet
anders dink hieroor, want die fisiese inperking maak ander geleethede oop,
dwing dit eintlik oop na iets soos ontperkings toe), teen wil en dink besef
daar is (onderandere) twee dinge wat ek nie baie goed kan doen nie. Ek kan dit
doen, maar dit is nie goed nie.
Eerstens kan ek glad nie vir iemand verduidelik hoe om
kos te maak nie. Dit is ‘n lang storie wat eintlik lagwekkend snaaks en
harsteer is. In hierdie dae kry elkeen ‘n beurt met sekere huistake. Een
daarvan is kosmaak. Een van my kinders (terwille van privaatheid en veiligheid
word hulle name nie genoem nie), kon glad nie (LW kon) kos maak nie. So, hierdie dae is vir hierdie kind
aardverskuiwende tye. Vir my en my vrou het dit op-die-kant-staan-geleenthede geword en te sien hoe dit nie net
kosmaaktyd is nie, maar ook groeityd. Dan glimlag ons skelm vir mekaar totdat
ek moet begin verduidelik hoe ‘n sekere maklike en voor die handliggende resep
werk. Vat nou byvoorbeeld ‘n spagetti-bollenys of skaap-bredie in die stadige
kookpot. Jy kry die nodige bestandele, kry die nodige potte en panne, doen die
nodige voorbereidings soos tjop en sny (op ‘n sekere voor die handliggende
manier) en gooi die bestandele in ‘n sekere volgorde in die vooraf warmgemaakde
pot of pan. Redelik maklik en voor die handliggend. My verduideliking van die volgorde
en wat ook al die voor die handliggende bestandele is, is skynbaar nie presies
en duidelik genoeg nie. Dit is nie stap vir stap genoeg nie. Dit is dan wanneer
die leeu in my begin wakker word, veral ook as hierdie kind so op die eenkant
besig is met die blêrrie selfoon (verskoon tog die krasserige woord, of moet ek
die verskoning ook stap vir stap verduidelik). Die frustrasie wat in my opkook,
slaan oor my lyf uit soos iemand wat ‘n ‘n brandnekelbos inval. Dit slaan ook
uit in my woorde, in die klank van my woorde en ek weet nie waar orals nog nie.
Ongelukkig (word daar vir my gesê) kan almal my liggaam se woorde van ver buite
kant die erf presies raaksien. Dit is nie nodig vir stap vir stap verduidelik
nie.
Ek kan ook glad nie iemand leer om motor te bestuur nie.
Dit is blykbaar nie ‘n mooi prentjie wat afspeel nie en ook nie aangenaam vir
diegene saam in die voertuig nie. Daar was, met een poging van stap vir stap
motorles, in die praktyk van bestuur, die hele leeuloop op video vasgelê. Dit
is nie beskikbaar vir publieke besigtiging nie, want dit is traumaties om na te
kyk.
So, binne die leeuloop wat ek het met sekere pedagogiese
oomblikke, is die stap vir stap eerder ‘n resep vir misverstand en onbeholpe
frustrasie waar die kat se naels op verkeerde plekke vashak.
Ek weet ek moet werk aan sekere vaardighede om beter te
praat (met alles van my) en ek het commit om daaraan te werk.
Juis in hierdie
commit en oorgee om te werk hierdie soort leeuloop, of eerder om aan myself ook
te laat werk, onthou ek die 10 goed wat die Here vir Moses gegee het om vir die wilde
woestyn-Israeliete te gee om aan hulle stap vir stap te verduidelik hoe die
lewe saam Hom werk.
Ek onthou ook hoe Jesus dit in eenvoud opsom en ek onthou van
die woorde in die gebed-lied van Psalm 119: 35
Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek
vreugde.
En ook dan onthou ek ‘n ent verder in vers 105
U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.
Mag ons woorde (ook ons lyfwoorde) die stap vir stap
lig van die pad sien en goed saamstap vandag!
No comments:
Post a Comment