DAG 14
Laat ek gou verduidelik. Dit het als begin met die wind
wat hier van die berg se kant begin waai op dag 13 en 14 van die grendelstaat. Dit
is nie die eerste keer dat die wind waai nie. Ek onthou baie winderige dae.
Grootword-tyd in Augustus op die plaas as dit koud en yl ‘n huil-lied om die hoeke van die huis
sing. Die koggelwind deur die naalde van Swartkop (was toe nog my oupa se
woonplaas) wat jou onder ‘n klip wil vasdruk.
Hier is baie bome op die erf
waarop ons nou bly. So jy hoor die wind soos die basklanke van ‘n subwoofer aangegolf
kom deur die klowe en hoe dit met kragtige tree spring van boom na boom. Dit is
eintlik mooi. Maar onthou ons is nou al 14 dae ingeperk in beperkte spasies.
Ons erf met die baie bome is groot en ons huis ook lekker ruim. So die wind het
baie instrumente om haar warm golwe te laat hoor en voel: Windhangertjies wat
teen die glasdeur skuur, skuifdeure wat kraak, blare wat heeltyd oral skuifkruip
dwarsdeur enige opening en die ergste van alles is die deure wat handeklap en
encore roep vir die meesterlik uitvoering. Ek vang nie die ritme nie, dit voel
nie opgewek en motiverend nie. Dit voel of al die groot leefruimtes (buite en binne)
kleiner word met elke noordwest-wind-gemotiveerde ritmiese ritsel, skuur, rattle of klap.
Vanoggend, so met my Mzansi Marathon draf-shaffle al om en om die
erf se nate, besef ek dat grote van die erf en die huis nog steeds dieselfde
is. Dit is die spasie in my kop wat krimpend geskuif het. Ek sal plan moet maak met hierdie spasie. Dalk moet ek een van
die bome klim of so bietjie op die dak gaan sit (al sing ou Jonathan dat dit
nie meer lekker is op die huis se dak nie). Of dalk moet ek nog ‘n ekstra masker
maak en later ‘n koshamper afgee by die Munisipaliteit se noodhulp
drive-thru-diens. Dalk moet al die windgewaaide spasies met die besem ‘n goeie
skoonvee gee.
No comments:
Post a Comment